Lééf mooi

Mooimaakdagboek

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Om elke dag mooi versorg te lyk verg ’n bietjie beplanning en heelwat toewyding. Volg hierdie riglyne vir ’n dag-tot-dag-mooimaakprogram.

Daagliks

  • Die vel moet verkieslik twee keer per dag gereinig word, verfris en gevoed word. Dis die mees basiese en belangrike stappe in jou velsorgroetine. Die son, besoedeling en die natuurlike verouderingsproses takel jou vel daagliks af.
  • Gebruik soggens en saans ’n oogroom wat die fyn en delikate vel om die oë voed, beskerm en sommer ook vir pofferigheid en donker kringe help.
  • Moenie jou nek afskeep nie. Deur nekroom te gebruik, sal jy die tekens van veroudering langer kan wegsteek.
  • Gebruik soggens en saans ’n serum wat die vel met aktiewe bestanddele behandel.
  • Sonblok word elke dag aangesmeer. Moenie eens daaraan dink om by die deur uit te stap sonder om jou vel teen die son te skans nie. Jy het ook nodig om jou vel daagliks teen die rekenaarskerm te skans.
  • Jy behoort elke dag gesond te eet. So hou jy jou gewig in toom en jou vel en lyf gesond en mooi.
  • Drink ses tot agt glase water per dag. Dit spoel gifstowwe uit die lyf en hou die vel van binne vogtig en soepel.
  • As jy met selluliet sukkel, is dit wys om elke dag ’n spesiale sellulietbehandelingsroom aan te smeer. So hou jy die probleem in bedwang.
  • Borsel soggens jou lyf met ’n droë lyfborsel. Dit stimuleer die bloedsomloop en die uitskeiding van gifstowwe.
  • Smeer jou lyf elke dag met ’n voedende lyfroom.
  • Masseer jou hande met handeroom en smeer olie aan die naelvliesies. 

Weekliks

  • Gebruik een tot twee maal per week ’n masker wat vir jou veltipe geskik is.
  • Gebruik ’n fyn skroproom wat dooie selletjies afskilfer en die vel help om homself te vernuwe.
  • Ook jou lyf vind baat by ’n skroproom. Smeer dit oor die hele lyf, masseer en spoel af. Smeer daarna jou lyf met ’n voedende lyfroom.
  • Jy behoort ’n minimum van drie keer per week te oefen.
  • ’n Weeklikse kollageenmasker om die oë keer die vorming van plooie.
  • Voed jou hare met ’n haarmasker of warm oliebehandeling.
  • Bederf jouself en bad in geurige olies.

Maandeliks

  • Besoek ’n skoonheidsalon vir ’n professionele gesigbehandeling. Dit waarborg ’n mooi en gesonde vel.
  • Staan ’n uur af vir ’n aromaterapie-massering of dergelike behandeling wat die liggaam help om stres te hanteer. Hoewel dit na ’n luukse klink, is dit ’n langtermynbelegging in jou welstand.
  • Laat doen ’n manikuur en pedikuur by ’n skoonheidsalon. Deur jou voete en hande een maal per maand professioneel te laat versorg, en met weeklikse tuisversorging af te wissel, bly dit altyd netjies.
  • Sny en kleur jou hare. As jou hare langer is, kan jy tot ses weke tussen salonbesoeke laat verloop. Hare wat goed en gereeld gesny word, is makliker hanteerbaar.

Jaarliks

  • Belê in ’n gespesialiseerde behandeling soos ’n BTL Exilis- of laserbehandeling wat die vel ’n ekstra hupstoot gee. Besoek https://www.bodyrenewal.co.za/exilis-elite of http://thelaserbeautique.co.za/ vir meer inligting oor effektiewe behandelinge.
  • Hersien jou grimeertassie. Raak ontslae van ou grimering. Grimering is dikwels ’n broeiplek vir bakterieë en moet daarom gereeld vervang word. Maak ’n draai by een van The Mud Studio se klaskamers of ’n Bobbi Brown-grimeertoonbank vir raad oor hoe om jou grimering korrek aan te wend of die regte grimering te kies.
  • Gaan jou skoonheidsroetine na. Jou vel se behoeftes verander met tyd. Probeer ’n reeks afskilferings as jou vel dof en leweloos lyk.
  • Bekyk jouself van kop tot toon en doen ’n bestekopname. Besluit waarvan jy hou en waarmee jy nie tevrede is nie en maak die nodige aanpassings.
2018-09-29T19:23:49+00:00