Leesgoed vir kleingoed

Kweek van jongs af ‘n liefde by jou kinders vir die Woord. Hier is van die jongste lekkerleesboeke vir kleingoed..

Wenners vir Jesus

Deur Johan en Helena Smith

God het ’n hart wat brand van liefde vir kinders. Hy het hulle innig lief. So jonk as wat hulle is, het elkeen van hulle ook ’n plek en ’n doel op aarde. Hulle is net so bruikbaar soos volwassenes. In Wenners vir Jesus nooi Johan en Helena Smith elke laerskoler om op hierdie avontuur saam met hulle te gaan. Deur 101 kort en kragtige dagstukke sal hulle meer leer oor God en hoe Hy wil hê Sy kinders moet leef. Want ons is nie hier om net te wag vir Hom om weer te kom nie; ons is hier om saam sterk te staan en vir ander te wýs hoe lyk Jesus. Laerskolers tussen 8 en 12 jaar word in Wenners vir Jesus uitgedaag om ’n verskil in die wêreld te gaan maak met praktiese voorstelle en persoonlike nadink-vrae. Die boek spog met ’n pragtige, kreatiewe uitleg en is beskikbaar op die rakke vanaf 19 Oktober. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/wenners-vir-jesus-sagteband.

100 Bybelstories vir kinders

Ontdek die wonder van God se Woord met 100 Bybelstories spesiaal uitgesoek vir kinders tussen 6 en 10 jaar. Die dapper en sterk karakters van die Ou en die Nuwe Testament sal kinders se verbeelding aangryp. In hierdie opwindende reis deur die Bybel word die geloofsaadjie in jong harte geplant om vir kinders te help ontdek wie Jesus is en wat Hy gedoen het. 100 Bybelstorie vir kinders vertel van God se genade en liefde en onthul Sy wonderlike plan deur die eeue heen vir al Sy mense. Die boek is pragtig geïllustreer deur die bekende illustreerder Gill Guile en elke storie se Bybelverwysing word gegee om ouers te help om hul kleingoed elke dag aan die Bybel bekend te stel. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/100-bybelstories-vir-kinders-hardeband.

Jesus – die beste vriend ooit vir meisies

Deur Elizabeth George

Ons almal het ’n vriend nodig op wie ons kan vertrou, en Jesus is die beste vriend ooit. In haar boek Jesus – die beste vriend ooit vir meisies ondersoek Elizabeth George 10 maniere waarop ampertiener-meisies elke dag soos Jesus kan leef, en leer hulle belangrike karaktereienskappe soos: selfvertroue, om te wees wie hulle is, getrouheid sodat ander hulle kan vertrou, fokus om hulle doelwitte te bereik, vriendelikheid wat ander mense aantrek en genade om ander se foute te vergewe. In hierdie boek ontdek meisies met behulp van eenvoudige selfstudie-vrae hoe Jesus hierdie karaktertrekke elke dag in Sy aardse lewe uitgeleef het en hoe hulle dit ook in hul eie lewe kan doen. Hulle sal leer wat ’n goeie vriend Jesus vir hulle is en hoe om net so ’n goeie vriend vir ander te wees. Daar is ook ’n gebed aan die einde van elke hoofstuk. Beskikbaar vanaf 19 Oktober. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/jesus-die-beste-vriend-ooit-vir-meisies-sagteband.

My prinses leer om te deel & My prinses leer om dapper te wees

Deur Amy Carlson & illustrasies deur Heather Heyworth

Hierdie is twee pragtige prentjie-storieboeke wat klein dogtertjies leer oor hoe om te deel en hoe om dapper te wees. Klein dogtertjies hou van prinsesse met hulle tiaras, aandrokke en alles wat blink is. Hierdie pragtige prentjie-storieboek leer dogtertjies hoe om soos ’n ware prinses en dogter van die Koning op te tree. In My prinses leer om te deel hou Grace en Hope daarvan om mooi klere aan te trek en te speel, maar wat gebeur wanneer beide die pragtige pienk rok wil aantrek? Hulle leer ’n kosbare les – by die Bybelse storie van ’n klein seuntjie. In My prinses leer om dapper te wees word Grace en Hope geboelie deur ’n seun op hulle gunsteling glyplank by die parkie. Gaan hy hulle keer om pret te hê? Die meisies leer ’n kosbare les oor dapperheid – by koningin Ester uit die Bybel. Elke storie begin met ’n rympie oor prinses-wees en sal ure se leesgenot vir klein prinsessies bied. Beskikbaar vanaf 10 Oktober. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/catalogsearch/result/?q=*%229781431620296%22*%229781431620289%22.

2018-09-30T12:01:13+00:00