Sielsmaats

Die liefde bly ’n raaisel

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

Hoekom verstaan ek nie die liefde nie?

Vandag moet ek weereens dié woorde aanhoor: “Ek verstaan nie die liefde nie, ek verstaan verlief wees en aangetrokkenheid, maar die liefde ontwyk my”. Hierdie is so ’n algemene stelling dat ons verseker dieper na die belewenis, die ervaring en werking van hierdie wonderlike verskynsel sal moet kyk.

Ek staan dikwels verbaas as ek agterkom dat sommige mense dink dat hulle in romantiese verhoudings móét wees. Dis gewoon nie so nie. Daar is mense wat diep gelukkig en vervuld leef buite die grense van romantiese verbintenisse. Besluit dus eerstens of jy dalk gelukkig en tevrede is met jou lewe sonder die eise van romanse. Indien wel, maak jou lewe vol met vriendskappe en die minder gekompliseerde liefde wat seksuele aangetrokkenheid en verliefdheid uitsluit.

Liefde, romanties of platonies, is egter nie nét ’n emosie nie. Die bestuur van ’n verhouding waar liefde betrokke is, is meeste van die tyd ’n reeks van bewustelike besluite. Dink terug aan ’n tyd toe jy verlief was. Jy en jou maat was heeldag in konneksie met mekaar, wanneer julle nie saam was nie, het julle met mekaar gesels oor die telefoon, SMS, WhatsApp, briewe (vir dié van ons wat effe ouer is). Wanneer ons nie gesels het nie, het ons konstant aan mekaar gedink. Die verbintenis was maklik en konstant. Wanneer die dolle verliefdheid verbygaan, en dit sal beslis, kan ons kies om steeds konneksie te behou, sodat die gevoelsaspek van die liefde in stand gehou kan word. Natuurlik neem die frekwensie van die kontak af, want ons moet op een of ander stadium ook met die res van ons lewens kan aangaan! Weet verseker dat liefde ’n keuse is van die begin af, en ’n keuse bly tot aksie.

Verlief en verlore

Ons breine dekodeer verliefdheid en aangetrokkenheid anders as die uiteindelike gevoel van liefde. Verliefdheid en seksuele aangetrokkenheid aktiveer die plesiersentrum van ons breine met basiese behoeftes aan passie. Natuurlik is hierdie emosies sterk en heerlik, maar dikwels nie volhoubaar nie. Daarom het vakansie- romanses en romantiese ervarings met vreemdelinge sulke swak kanse op sukses. Indien jy glo dat hierdie deel van die proses liefde is, sal jy verseker teleurgesteld en seer agtergelaat word.

Passie kan natuurlik uiteindelik tot die liefde lei, maar dis beslis nie dieselfde emosie nie en het nie dieselfde stukrag nie. Liefde het ’n langtermyn-dryfkrag en doelwit, en daarom is die gevoel wat ons beleef, anders.

Hierdie gevoel bevat elemente van meegevoel, empatie en omgee. Die diepte en omvang van die emosie van liefde is uit die aard daarvan meer omvangryk en betekenisvol. Hierdie gevoel word egter eers beleef wanneer ons iemand beter ken. Omdat passie so intens is, kaap dit dikwels die roete waarop ’n paartjie reis wat mekaar beter wil leer ken. Daar is beslis niks verkeerd met ’n passievolle verhouding nie. Gryp dit vas en koester dit met oorgawe! Moet egter net nie daar vassteek en niks verder laat ontwikkel nie. Wees bewus van wat gebeur en geniet die oomblik met die insig van wat dit is.

Wanneer meeste mense met ’n dieper bewussyn van die hier en die nou begin leef, verlaag ons meer negatiewe emosies van vrees en agterdog en kan ons laat gaan van ons seer verlede en die intimiderende toekoms. Verliefdheid plavei die voetpaadjie deur die woud van potensiële nuwe verhoudings. Ons is minder versigtig en het meer waagmoed; nou verhoog die kanse op konneksie, en uiteindelik, die liefde.

Poog om nie deur die verliefdheidstadium te jaag na ’n meer ernstige verbintenis nie. Slenter stadig deur die stadium en geniet die vreugde wat jou brein jou toelaat om te beleef. Dis aansteeklik! Mense kan dit sien en beleef instinktief ook ’n lekker positiewe gevoel rondom jou. Maar weet gewis dis nie liefde nie.

Die liefde is kompleks

Liefde vereis vertroue, openheid en kwesbaarheid. Indien jy hierdie komplekse en dikwels moeilike emosies kies, oorkom die brein daardie meer basiese emosies wat jou in vrees of verliefdheid wil hou. ’n Persoon wat bang is vir die liefde sal die proses, bewustelik of onbewustelik, saboteer. ’n Persoon, of paartjie, wat net verlief wil bly, sal nie verder vorder op die pad na liefde toe nie. Sodra die chemie van jou brein nie meer die verliefdheidboodskap stuur nie, sal hierdie mens dan wil aan beweeg na die volgende persoon wat hulle weer na dolle verliefdheid neem.

Op die pad na liefde kan ons natuurlik aanleer om die elemente van liefde te beoefen. Leer om meer oop te leef deur meer van jou lewe te deel. Maak vrede met die kwesbaarheid van jou herkoms, jou lyf, jou foute. Kies om die persoon te vertrou op grond van die gedrag wat die mens vir jou wys. Wees egter wys en moenie jouself blind staar teen die idealistiese beeld in jou kop nie.

Laastens moet jy maar weet dat indien jy nie jouself lief het nie, gaan jou liefdeslewe ’n klipperige pad wees. Heelheid en gesondmaking geskied eers wanneer jy jouself aanvaar en werklik lief is vir wie jy is. Dan eers kan jy daardie liefde na iemand anders neem. Iemand anders kan jou nie daarvan oortuig dat jy goed genoeg is om liefgehê te word nie. Dit moet uit jouself kom. Eiewaarde lê vir die gelowige mens in die aanvaarding en bewuswording van hoe God oor ons voel, en die uitleef daarvan in die verhouding met jouself. Eers dan het jy ’n beter kans op ’n gesonde belewenis van die liefde.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2018-10-04T13:58:25+00:00