Lééf mooi

Sit jou beste voetjie voor

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Dis amper tyd om sysagte hakke, toonnaels in helder kleure en mooi versorgde voete te wys. Hier is riglyne vir die versorging van stylvolle voete.

Perfek gepedikuur

Jou voete vra sorg en aandag. ’n Maandelikse pedikuur by ’n skoonheidsalon kan afgewissel word met ’n tuispedikuur.

Hier is ’n paar riglyne vir ’n kits-pedikuur tuis. Net 10 minute is nodig. Verwyder ou naellak sodra dit begin afsplinter. Was en droog voete af. Gebruik ’n voetvyl of puimsteen om die hakke en voetsole te skrop. Deur jou voete gereeld saans in die bad te skrop, bly jou hakke sag en glad en hoef jy dus nie veel tyd daaraan te bestee nie. Vyl of sny die toonnaels. Smeer ’n room aan die naelvliesies om die droë vel te verwyder. Verwyder met ’n houtstokkie in watte gerol. Gebruik ’n sponsie om die tone ver van mekaar te hou terwyl jy die naels verf – eers met ’n onderlaag, dan twee lae naellak en laastens met ’n beskermende bolaag.

By die salon duur ’n goeie pedikuur ’n uur of meer en behoort jou voete deeglik versorg en vertroetel te word. ’n Salon-pedikuuur behoort ’n deeglike skropsessie, behoorlike verwydering van naelvliese en ’n massering van die voete en bene in te sluit. Maak egter seker dat die salon wat jy besoek uitstekende higiëniese standaarde handhaaf. Alle toerusting behoort eers gesteriliseer te word voordat dit vir die kliënt gebruik word. Vat andersins jou eie voet- en naelvyl saam. Swam-infeksies kan deur ’n pedikuur oorgedra word. As jou vel baie droog is, kan jy gerus ’n warm parrafienwaksbehandeling vir die voete oorweeg. Die voete word in warm waks gedoop wat die vel met olies voed. Voetprobleme word nooit by die salon behandel nie, besoek eerder ’n voetheelkundige.

Gebruik ’n naelbuffer om die toonnaels te poleer, veral as jou naels verkleur is.

Wenke

  • Hou toonnaels netjies deur naelvliesies gereeld te verwyder. Verf ’n versagmiddel wat help om van growwe naelvliese ontslae te raak, rondom die naels aan en stoot die naelvliese saggies terug met ’n houstokkie wat in watte toegerol is.
  • Masseer naels gereeld met ’n roompie of olie wat die vliese sag hou.
  • Toonnaels moet altyd reguit gevyl of geknip word. Dit keer dat dit ingroei. Plaas die vyl effens onder die nael. Dit gee die nael ’n natuurlike ronding. Gebruik ’n fyner vyl om die kante glad te vyl.
  • Moenie die toonnaels te kort sny nie; laat ’n millimeter of twee van die wit van die naels wys.
  • Gebruik ’n naelbuffer om die toonnaels te poleer, veral as jou naels verkleur is. Dit laat naels weer mooi blink, bevorder bloedsomloop en verbeter die gesondheid van die nael.

Fris en vars

Om saans jou voete te was voordat jy gaan slaap, is net so belangrik as om jou gesig te was. Jou voete skei deur die loop van die dag toksiene uit, wat weer snags geabsorbeer kan word. Dit is dus noodsaaklik om jou voete voor jy gaan slaap deeglik te was, selfs al bad jy nie saans nie. Die vel aan die voete is hoogs absorberend. Wees dus versigtig met wat jy aan jou voete smeer. Produkte met natuurlike bestanddele soos mentol en peperment, is die beste. Hou voete vars deur daagliks ’n voetsproei of voetpoeier te gebruik. Week voete in ’n mengsel van tee en water – die tanniensuur verander die vel se pH-balans en verdryf bakterieë wat reuke veroorsaak. Dis nie wys om dieselfde paar skoene twee dae ná mekaar te dra nie. Gee jou skoene ’n kans om uit te droog, sodat swaminfeksies nie vatplek kry nie.

Sag en glad

Sagte hakke en goed versorgde voete is mooi vroulik. Jy behoort jou hakke en voetsole daagliks met ’n puimsteen in die bad te skrop om dit sag en glad te hou.

  1. Rome met vrugtesure help growwe en gebarste hakke genees. Environ se Derma-lac Lotion bevat geneutraliseerde melksure. Smeer soggens ’n bietjie hiervan aan voor jy jou sandale aantrek. Dit laat die vel dadelik gladder lyk.
  2. Smeer vernielde hakskene met ’n bevogtigende room soos Epimax Foot Cream. Dit versag en voed ’n baie droë vel.
  3. Smeer altyd rome en olies aan net nadat jy uit die bad of stort klim, terwyl die vel nog warm en ontvanklik vir ekstra voeding is.
  4. Droog deeglik af, veral tussen die tone, en masseer die hakke, voetsole en tone met ’n ryk, voedende room wat terselfdertyd die voete versag. Smeer ’n ekstra dik laag room aan die voete, trek ’n paar katoensokkies aan en klim in die bed. Jou voete sal die volgende oggend sagter as ooit voel.
Spesiaal vir Lééf-lesers. Bespreek vir ’n salige pedikuurbehandeling by PlacecolSPA (voorheen LééfSPA) en ontvang ’n gratis LééfSPA-badsout ter waarde van R60. Skakel 011 888 8523 om te bespreek. Aanbod geldig tot 30 September 2018.
2018-08-29T19:42:40+00:00