Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Kweek kinders met heel harte

Deur Hettie Brittz (Lux Verbi)

Ouers staan vandag, met die werklikheid van sosiale media en die internet, voor groter uitdagings as ooit. Die vertroude ouerskapkenner Hettie Brittz verduidelik hoe ons, terwyl ons ons kinders beskerm teen die dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie, hulle ook weerbaar kan maak teen seerky en gevare. Met liefde en begrip kan ons ons kinders se selfbeeld, emosionele intelligensie en goeie karakter help bou. Dié boek is ’n praktiese in inspirerende gids vir dié groot taak. R180.

Genade vir gister

Deur Irene Hannon (CUM)

Om te hoop op dinge wat nooit kan gebeur nie is dwaas, nie waar nie? Lexie Graham, Hope Harbor se polisiehoof en ’n enkelma, het nie tyd vir enigiets buiten haar werk nie – veral nie vir liefde nie. Eks-gevangene Adam Stone is ook nie op soek na liefde nie. Maar hoe ironies dat die eerste vrou wat sy oog vang juis die polisiehoof is. Wanneer Lexie vir Adam vra om haar te help met ’n jong seun wat die verkeerde pad stap, begin die vonke spat. Kan dit wees dat God ’n nader – en beter – plan vir hulle het as wat enigeen van hulle ooit kon droom? Dié roman speel af in dié bekoorlike dorpie aan die kus van Oregon. R239,95.

Die heel beste bakboek

Deur Jane Bull (Penguin Random House)

Hierdie is ’n stap-vir-stap inleiding tot bak wat kinders van beginners tot ervare bakkers laat ontwikkel. Met behulp van foto’s onderskei hulle tussen verskillende prosesses soos klits en romerig klop, en selfs wat die verskil tussen ’n beslag en ’n deeg is. Die skrywer lei kinders nie net om meer as tien verskillende bakbederfies voor te berei nie, maar ook watter metodes, gereedskap en terminologie vir elke resep gebruik word. Hulle leer om ’n groot verskeidenheid dinge te bak, van brood en muffins tot koek en koekies, met variasies vir elke bakmengsel. Die kinders kan kreatief wees wanneer hulle wenke volg hoe om met neute, sade, versiersel, en lekkers te versier! Geskik vir kinders van ouderdomme 6 tot 9. R190.

Die Groot Aanhalingsboek Wyse woorde vir die Christelike lewe

Uitgegee deur Lux Verbi

“Die woord is oneindig magtiger as die swaard en wie dit kragtig en met wysheid gebruik, is magtiger as konings,” het Jeremias Gotthelf gesê. Die groot aanhalingsboek is ’n onontbeerlike gids vir die regte woord op die regte tyd. Dit bevat meer as 3 000 aanhalings, wyse woorde, heildronke, spreuke en teksgedeeltes oor meer as 350 onderwerpe. Die samesteller van die boek het die bronne as Christen vanuit ’n Christelike lewensbeskouing gefynkam en is daar talle verwysings na die wyer lewe waarin Christene hul oortuigings probeer uitleef. R210.

’n Brief vir Reina

Deur Elsa Winckler (Lux Verbi)

Wanneer Reina Sauer se ouma sterf, hoor sy dat sy haar huis op McGregor erf. Maar ’n ontwikkelaar, die ontnugterde en siniese Derekk Retief, wil graag die huis deel van ’n sekuriteitskompleks maak. Al wat Derek kort is Reina se handtekening. Maar dinge is nie heeltemal so eenvoudig nie. Wat op aarde maak Reina met haar ouma se vriende wat afhanklik was van haar ouma? En wanneer Reina die huis begin opruim, kom sy op ’n boks vol briewe in die solder af. Met verstomming lees sy hoe haar ouma dit reggekry het om ’n onmoontlike besluit te neem wat uiteindelik haar kleindogter se lewe moontlik gemaak het. Iewers langs die pad het sy wat Reina is ophou bid, ophou glo, maar terwyl sy deur haar ouma se lewe blaai, ontdek sy weer haar behoefte aan die Here. R180.

Bloedbande

Deur Wilhelm Verwoerd (Tafelberg)

Na jare van versoeiningswerk tussen eertydse vyande in Ierland keer Wilhelm Verwoerd terug na Suid-Afriika. Hy wil vrede maak met sy eie familie en sy geskiedenis. In die Verwoerd-strandhuis, Blaas ’n Bietjie, waar hy sit en skryf, hang ’n gesinsfoto waarop sy oupa, HF Verwoerd, hom as baba teer vashou. Hoe versoen hy dié menslike oupa met die gehate onderdrukker wat in die stories van sy swart bure en kennisse na vore kom, mense wat as kinders in die strate gedans het toe sy oupa vermoor is? In sy soektog na begrip kom Wilhelm op ouma Betsie Verwoerd se private dagboeke af en voer hy soms ongemaklike gesprekke met mense wat sy van as vloekwoord onthou. So ontvou ’n geskakeerde blik op wat dit beteken om vandag met integriteit in Suid-Afrika te leef. R290.

Be the Hands and Feet

Deur Nick Vujicic (Waterbrook)

Wil jy graag ’n boodskapper van God wees, maar weet nie waar om te begin nie? Of voel jy dalk teruggetrokke en skaam om die Evangelie met ander te deel? As die Here ’n man sonder arms en bene kan gebruik om die hande en voete van Jesus te wees, so ook kan hy jou gebruik. Dit is die boodskap wat die bekende evangelis Nick Vujicic in hierdie boek met die leser deel. Die leser word aangemoedig om ’n agent van inspirasie en hoop te wees in ’n wêreld op soek na God se liefde en genade. Nick deel ook nuwe en innoverende maniere oor hoe om in geloof te wandel in ’n gebroke wêreld. R249,94.

Wysheid uit die Woord

Uitgegee deur CUM

Ons kom elke dag voor soveel keuses te staan, en omdat God ons met vrye wil geskep het, kan ons self kies wat ons wil doen. God het ons egter lief; daarom moedig Hy ons sagkens aan om Hóm te kies. Wysheid uit die Woord lei ons deur 365 dae om elke dag God se aangesig te soek wanneer ons voor groot keuses te staan kom. Die kort, kragtige oordenkings inspireer ons om God se hand te neem, na Sy stem te luister, Sy Woord te lees en ons hartsbegeertes in gebed met Hom te deel. Insiggewende aanhalings deur onder meer Moeder Teresa en Oswald Chambers is ook met die dagstukke vervleg. R229,95.

2018-08-31T17:41:02+00:00