Boekuittreksel

’n Hart vol hoop

Deur Tessa Afshar

Lidia is die dogter van ’n purperhandelaar. Haar hele wêreld draai om drie dinge: haar pa, die grond van haar voorgeslagte en die pers kleurmiddel. Dan verloor sy bykans alles deur ondraaglike verraad. Met net haar pa se geheime formules vlug Lidia na Filippi en werp alles in die stryd om haar eie besigheid te vestig. Volharding en mense wat sy onverwags op haar pad leer ken, help haar om een van die stad se beste purperhandelaars te word. Maar vrees skuil in elke skadu, totdat Lidia die apostel Paulus ontmoet en sy boodskap van hoop hoor en só die eerste Christen in die hele Europa word. Tog kan Lidia nie haar geheime vir ewig begrawe hou nie. Wanneer verlede en hede mekaar ontmoet, moet sy kies om óf sterk te staan en op haar jong geloof te vertrou óf te swig voor die vrees wat haar lewe nog altyd oorheers het.

Tessa Afsharis die Christy Award-wenner van verskeie Bybelse romans. Sy het ʼn M.Div.-graad aan Yale behaal, waar sy ook gedien het as medevoorsitter van die Evangelical Fellowship van die kweekskool. Tessa is sedertdien voltyds in die bediening betrokke. Besoek gerus haar webtuiste www.tessaafshar.com.

Uittreksel

‘Lidia vou haar pa se wolkombers styf onder hom in, soen hom op sy voorkop en stap geruisloos by sy kamer uit terug tuin toe. Sy gaan sit by die vat, roer die kleurstof en ondersoek dit in die lig van die son om seker te maak dit het die regte skakering en digtheid.

Soos met al die ander kleurstof wat haar pa oor die jare heen ontwikkel het, gebruik hy ook vir hierdie een nie die besonder skaars seeslak nie. Gevolglik is dit die helfte goedkoper as hulle mededingers se kleurstof. Die purper wat hulle onttrek uit die kosbare afskeidings van seeslakke maak hulle kleurstof onbekostigbaar, buiten vir die heel rykste klante. Maar haar pa se pers is goedkoper en baie meer mense kan dit daarom bekostig.

Purper-in-’n-parskuip noem Eumenes hierdie spesifieke kleur. Hulle het juis gekies om hierdie formule vir een van die groot bestellings te gebruik omdat dit vinniger werk as sommige van sy ander metodes.

Gewoonlik verkies Eumenes ’n meer ingewikkelde proses om dié spesifieke pers te kry deur die wol in verskeie baddens met verskillende skakerings te doop. Hy begin met indigo en eindig met ’n mengsel wat gemaak is van die wortels van die meekrapplant. Eumenes het hierdie proses tot ’n fyn kuns ontwikkel. Geen ander handelaar in Tiatira kon dit al ooit regkry om Eumenes se treffende skakerings van pers na te boots of hulle materiaal so kleurvas te maak sonder die gebruik van die seeslakke nie. Deel van sy geheim is dat hy ’n tikkie vermiljoen byvoeg om aan sy pers ’n dieper skynsel te gee, nader aan rooi as aan blou, die kleur wat so baie Romeine se gunsteling is.

Gerieflikheidshalwe het hy ook ’n eenvoudige proses ontwikkel wat mense in staat stel om sy pers te gebruik sonder dat hulle verskillende vate nodig het. Dit bring mee dat handelaars oor die hele Ryk heen sy kleurstof makliker aankoop. Een pakkie kleurstof. Een vat water. ’n Klein bietjie bindstof. Enige kleurmeester kan redelike sukses daarmee behaal. Al is dit nie hulle heel beste pers nie, maak die gerief en die prys dit hulle heel gewildste produk.

Dit bly vir Lidia ’n geheimenis hoekom hulle nooit ryk word nie. Gegewe die onmiskenbare gehalte van haar pa se pers, kan sy nie verstaan hoekom hulle steeds van die een maand na die volgende sukkel en altyd oor geld bekommerd is nie.

Sy kan nie ontken dat haar pa min in boekhouding belangstel nie. Hy hou nooit tred met enige uitgawes en aankope wat sy kunstenaarshart bevredig nie, al sê sy handelaarsbrein wat. As hy maar halfpad so talentvol was om geld te bestuur as wat hy is om pers kleurstof te skep, kon hulle al ’n weelderige villa op hulle stukkie grond gebou en luuks gelewe of selfs afgetree het.

Maar soos sake nou staan, is ’n luukse villa net ’n onbereikbare droom en Lidia kan nie ’n hele dag wag vir haar pa om van sy beserings te herstel nie. Vir die eerste keer in haar lewe sal sy die werk heeltemal alleen moet doen.

Sy tel ’n swaar bondel wolmateriaal op, vou dit noukeurig reg en dompel dit in die vat. Sweet drup teen haar gesig af terwyl sy die kleurstof met ’n lang houtstok deurmeng. Sy beweeg die stok te stadig, besef sy. Haar pa sou teen hierdie tyd al twee bondels wol gekleur het.

Toe sy dink die wol behoort reg te wees, trek sy dit uit die vat op en druk die oortollige kleurstof uit voordat sy dit in die tweede vat laat sak, hierdie een met die bindstof gevul, ’n middel wat haar pa self geskep het om die materiaal kleurvas te maak. Die bindstof ruik besonder skerp. Deur al die jare wat sy daarmee werk, het Lidia aan die skerp, suur reuk gewoond geraak. Maar tog, op ’n warm, windstil dag soos vandag krimp selfs haar longe ineen van die reuk wat uit die vat opstyg.

Heel laaste moet sy die wol was. Lidia gooi die pers wol in ’n mandjie en dra dit na die put toe.

Buiten haar pa se briljante verstand, is die put hulle grootste bate. Min besighede kan met hulle eie put spog. Om toegang tot water te hê as jy wol en materiaal kleur, is uiters belangrik. Om dit in jou eie agterplaas te hê, is ’n baie besonderse voorreg.

Lidia het vroeër reeds die bad water gereed gekry. Sy laat sak die wol in die bad en kyk hoe die oortollige kleurstof met die water vermeng en dit pers laat verkleur. Weer wring sy die wol uit en hang dit versigtig oor ’n tak om droog te word. Sy sal hierdie proses ’n paar keer moet herhaal totdat die kleurstof die wol deurdrenk het en dit presies die regte skakering van pers kry.

Uur ná uur herhaal sy die stappe totdat haar rug pyn en haar bene protesteer elke keer wanneer sy hurk. Tussenin drafstap sy ook nog terug huis toe om te gaan kyk hoe dit met haar pa gaan. Tot haar verligting lyk dit of hy gemaklik slaap. Sy asemhaling is diep en reëlmatig.

Eers toe die skemerlig plek maak vir die donkerte van die nag hou Lidia op werk. Met die hulp van ’n flikkerende lamp ondersoek sy die stapels oorblywende wol en materiaal. Sy het te stadig gewerk. Berge wol lê nog in die mandjies, netjies geknoop. Sy moet dit nog uitmekaar ryg en voorberei.

Sy sal môreoggend ’n nuwe vat kleurstof en bindstof moet aanmaak, wat haar twee tot drie uur sal neem. Eers dan sal sy weer die wol kan begin kleur. Sy sal nooit alles kan klaar kry voor die dag dat hulle die bestellings moet aflewer nie.’

’n Hart vol hoopdeur Tessa Afshar word deur CUM Christelike Uitgwersmaatskappy uitgegee. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/n-hart-vol-hoop-sagteband.

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ’n Hart vol hoop deur Tessa Afshar met komplimente van CUM wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Watter werk doen Lidia se pa? Sluitingsdatum: 30 September 2018.
2018-08-30T20:46:47+00:00