Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Dis byna naweek. Ek koop kos. Baie. Want die kroos kom kuier. Ek hou my oë oop vir winskope vir die kleingoed. Tussen rakke duur speelgoed ontdek ek sagte langoor-hasies in pastelkleure. Halfprys! Ek laai die welkome vonds saam met my ander inkopies in die winkeltrollie. By die huis sit ek die hasies op die kleinkinders se kussings, met ’n rooi suigstokkie langs elkeen.

Toe die motor stilhou, verken die spannetjie soos altyd elke vertrek en bekende speelhoekie. Hulle verdwyn in die slaapkamers en kom jubelend gang-af – elkeen met ’n haas onder die arm en ’n suigstokkie in die mond. Slaaptyd kruip hulle elkeen met ’n nuwe troetelhasie in die bed.

Die volgende oggend kom staan die oudste styf teen my.

Sy voel-voel aan haar woorde: “Ouma, Ouma hoef nie meer sagte speelgoed vir my te koop nie. Ek is al agt. Ek is nou groot.”

Ek kyk met nuwe oë na my kleinkind wat sommer nou die dag gebore is. Ja, sy is inderdaad ’n groot dogtertjie. Die ronde gesiggie en donswit haartjies het plek gemaak vir ’n skraal gesiggie met ’n blonde vlegsel. Die kordaat kleutertjie is nou ’n langbeen-laerskoler met ’n regop balletlyfie.

Hoe het die jare so ongemerk verby geglip? Hoe kort is die kleintyd nie! Hoe vlietend die lewe!

Ons moet reeds in die toe bloeiselknop die moontlikheid van blom en vrugdra kan sien.

Iets in my rem terug. Ek hunker na die slapende lyfie teen my. Die koppie gekantel. Die asempie soet in my nek.

“Is dit reg so, Ouma?”

“Dis reg. Ouma verstaan.”

Deur vas te klou aan ’n fase wat verby is, ontneem ’n mens ’n kind van die jubeling van nóú. ’n Mens ontneem hom of haar ook van die voorreg om voluit te kan lewe – met die lekker en sleg, die vreugde en hartseer van hiérdie bepaalde dag. Hierdie dag is uniek en eenmalig. Dit kan nooit weer presies net so verby kom nie.

Môre het ander vreugdes en uitdagings. Op sestien jaar lê agt jaar ver in die verskiet. Dan dink ek waarskynlik met weemoed terug aan die eenvoud en helderte en onskuld van hierdie volmaakte oomblik.

Ons mag ons kinders nie klein en afhanklik probeer hou nie – al is dit nie doelbewus nie. Ons moet hulle beskut sonder om hulle te versmoor. Ons moet reeds in die toe bloeiselknop die moontlikheid van blom en vrugdra kan sien. Ons moet die broos blaartjies koester sonder om hulle te kneus.

Voor my staan ’n kind met die lig van ’n nuwe dag in haar oë. Sy is op koers – die lewe in. Vol afwagting en hoop. Ek mag haar nie inperk of terughou nie.

Here Jesus, dankie vir ons kinders en kleinkinders. Dankie vir elke mooi oomblik op hulle grootwordpad. Help ons om nie vas te haak in die verlede en só vandag se spesiale oomblikke te verpas nie. Gee ons as ouers en grootouers die wysheid om ons kinders reg te hanteer. U weet dat ons met elke kind net eenmaal deur die lewe stap en nie altyd die regte antwoorde of raad of insig het nie. Vul ons met Ú wysheid. Amen

2018-08-31T17:49:16+00:00