Boekgesprek

Lééf gesels met Angus Buchan oor sy dagstukkieboek, Aartappelgeloof vir elke dag. 

As jy God se teenwoordigheid in jou lewe op ’n kragtige wyse wil ervaar, moet jy elke dag tyd aan sy voete deurbring. Dit is in hierdie stilword-oomblikke by Hom wat God jou siel verkwik en jou bemagtig om sy roeping vir jou lewe uit te leef. 

Aartappelgeloof… vir elke dag is 366 bemoedigende oordenkings deur die bekende evangelis Angus Buchan.  Met temas soos leef deur die geloof, die krag van gebed, vertrou op die Here se onwankelbare liefde, ontvang krag in God se teenwoordigheid en vele meer, sal jy God se krag in jou lewe ervaar om die wedloop van geloof enduit te hardloop.  

Angus Buchan het die roeping ervaar om die evangelie te verkondig, en in 1980 stig hy Shalom Ministries in Suid-Afrika. Hy skryf, neem TV-boodskappe op en reis om die woord van God aan mense wêreldwyd te bring. Hy is voltyds evangelis en ’n gewilde spreker. Angus en sy vrou, Jill, bly op die plaas Shalom in die KwaZulu-Natalse Middelland.

Vraag: Oom Angus, waar het jou liefde vir skryf vandaan gekom?

Toe ek in 1993 tuis kom na ’n lang toer na Skotland om die Evangelie aan my ouers se “mense” die Skotte te gaan verkondig, het ek besluit om die boek Faith Like Potatoes te begin skryf. Dis waar dit begin het en kon sedertdien nog nie weer ophou skryf nie. Ek kan nie genoeg daarvan kry om vir mense die storie te vertel van hoe Jesus my lewe en die lewens van my familie aangeraak het nie. 

Vraag: Die boek het ’n baie interessante titel? Hoekom aartappelgeloof?

’n Skotse prediker Peter Marshall het eenkeer gesê: “You have to have faith like potatoes. Tangible faith that people can respond to. Faith that you can touch. Faith that you can taste. Faith like Potatoes!” 

Vraag: Is daar ’n skakel tussen hierdie boek en die rolprent/boek oor jou lewe – Faith Like Potatoes?

Die rolprent is gedoen nadat Frans Cronje, destydse bestuurder van die KwaZulu Natal Krieketspan, my boek gelees het en besluit het hy wil die rolprent doen. Dit doen na 12 jaar vandag steeds baie goed. Aartappelgeloof vir elke dag, egter, is ’n daaglikse herinnering dat as ons waarlik glo in God sal ons die krag hê om al die uitdagings te hanteer wat elke dag op ons pad kom.

Vraag: Hoekom dagstukke? Waarom dink jy is dit belangrik om elke dag tyd opsy te sit om in stilte met God te verkeer?

Ek glo Christen-gelowiges moet elke liewe dag van hulle lewe tyd saam met God spandeer. Daar is niks so goed as om jou dag met Bybellees en die lees van dagstukke te begin nie. Dit skep vir jou die platform waarop jy die dag kan begin en uitbou. 

Vraag: Die boek raak verskeie temas aan, waarvan een die krag van gebed. Hoekom dink jy is dit belangrik dan ons gereeld bid? 

Wel, om te bid is basies om met Jesus te praat. En dit is nie net ’n eenrigting-gesprek nie. Dit is dialoog tussen jou en God. Wanneer jy so met God gesels praat Hy dan terug met ons deur middel van dagstukke, die Bybel en deur die vrede wat ons in ons harte beleef elke dag saam met Hom. 

Vraag: Nog ’n tema in die boek is die belangrikheid van ’n gesin en goeie gesinswaardes. Vertel vir ons bietjie meer?

Naas jou verhouding met God is dit seker die belangrikste ding in elke Christen se lewe – om in ’n gesonde verhouding met jou gesin te staan. Jou gesin en familie is baie kosbaar vir Jesus en Satan weet dit. Hy sal alles probeer doen om ’n gesin uitmekaar te kry en daarom is dit belangrik om tyd saam te spandeer. Dit is ook belangrik om binne die gesin gesonde waardes by ons kinders te kweek en vestig. 

Vraag: Wat het jou die meeste geïnspireer met die skryf van hierdie boek?

Dit wat ek seker die mees inspirerend gevind het is die eenvoud van die daaglikse voorbeelde van hoe Jesus die pad saam met my deur die jare gestap het. Hierdie is nie ’n ingewikkelde boek nie, maar tog ’n fenomenale boek, want dit kom van God af. Ek sal hierdie boek vir mense van alle ouderdomme, mans en vroue, aanbeveel.

Vraag: Wat wil jy deur hierdie boek bereik? 

Ek hoop en glo elke persoon wat hierdie boek lees daarby sal baat aangesien dit voorbeelde bevat van situasies wat werklik gebeur het. As jy hierdie boek saam met die Bybel lees sal dit jou werklik baie help op jou daaglikse pad vorentoe.

Vraag: Is daar ’n volgende boek in beplanning waarna mense kan uitsien in die toekoms?

Ek is baie opgewonde oor ’n paar boeke wat in beplanning is soos my tweede kinderboek Snowy en sy maats. Hierdie boekie is ongelooflik mooi geïllustreer, te dankie aan die wonderlike span by Christelike Uitgewersmaatskappy en leer vir die kleingoed waardevolle lewenslesse. Dit is wonderlik – sodra een boek voltooi is, gee God vir my die inspirasie vir die volgende een. Hou dus gerus ons sosiale mediablaaie dop vir nog boeke wat kom. Dit is my wens dat meer Christene met die visie om God te dien die moed sal kry om boeke te skryf, want ek glo ons boeke gee bemoediging en krag vir almal wat soms deur ’n moeilike tyd gaan om te weet dat Jesus Christus ons sal bystaan want Hy sê: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5)

Aartappelgeloof vir elke dag deur Angus Buchan word uitgegee deur CUM Christelike Uitgewers en kan bestel word by https://www.cumbooks.co.za/aartappelgeloof-vir-elke-dag-grootdruk-sponsgevulde-hardeband

2018-08-30T20:31:01+00:00