Sielsmaats

Verhoudings en ‘ek’

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

Waarom sukkel so baie mense om hulself te wees in ’n nuwe verhouding? ’n Eerlike benadering van die begin af, sal die verhouding op die regte spoor plaas.

Ons almal het al die belewenis gehad dat ’n vriend of vriendin skielik anders optree wanneer hulle in ’n verhouding is. Dis asof daar iets in hulle breine gebeur en dan klink hulle anders, hulle lag vir ander goed en blyk nuwe belangstellings oornag te ontwikkel. Waarom doen ons dit?

Dit wil voorkom dat om ‘jouself’ te bly binne ’n nuwe verhouding, een van die grootste uitdagings is waarmee mense sukkel. Dat hul nuwe maat getrou aan hul aard sal bly, is ook een van die grootste verwagtings wat mense van hul nuwe maat het. Dit lyk asof daar deesdae ’n vrees is dat mense hulself nie openlik en eerlik voorhou aan die begin van ‘n nuwe verhouding nie. Hierdie persepsie lei natuurlik daartoe dat meeste mense nie met vertroue tot ’n verhouding toetree nie.  En daar begin die verhouding met ’n agterstand van die begin af!

Hoekom sou dit wees dat so baie mense fokus op die verwagting, én die behoefte, om net jouself te wees binne verhouding? Een verklaring sou wees dat meeste mense deesdae ’n aanlyn-teenwoordigheid het waar hulle hulself aan die wêreld wys as iemand met ’n sekere lewenstyl, sosiale profiel en vriendekring. Nie almal skep natuurlik ’n realistiese beeld van hulself nie.  Ons sit mos nou net die mooiste en mees vleiendste fotos van onsself aanlyn en vertel net van die mees eksotiese plekke wat ons besoek. Min mense stel die minder mooi en alledaagse deel van hulle lewe bekend.

Hierdie standaard wat deur die aanlynprofiel geskep word veroorsaak ook angstigheid by die persoon self wanneer hy of sy iemand nuut ontmoet word. Wat gaan die potensiële nuwe maat aanlyn van my kan aflei? Sal dit goed genoeg wees en opwindend genoeg lyk?  Ons kan maklik gaan kyk na iemand se ‘lewe’ en dan ons eie afleidings maak. Hierdie afleidings is natuurlik totaal subjektief. Dit skep ook ’n verwagting by die persoon wat die speurwerk doen. Gaan ek teleurgesteld wees?  Lyk die persoon werklik soos op die fotos? En ons het mekaar nog nie eens ontmoet nie!

As jy agterkom dat iemand inligting van jou weerhou moet jy maar versigtig wees, want dit voorspel komplikasies vorentoe.

Wees eerlik

Eerlikheid en deursigtigheid is van die belangrikste elemente in ’n suksesvolle verhouding. Om van die begin af ’n daadwerklike besluit te neem om werklik net jouself te wees kan die verhouding vinnig tot ’n einde bring, of vinnig tot groter betekenisvolheid neem. Indien albei partye kies om aan mekaar te wys wie ons regtig is, kan ons met baie minder pyn eintlik redelik vinnig aan mekaar erken dat dinge dalk nie so goed gaan uitwerk nie. Aan die ander kant kan ons ook baie vinniger agterkom of ons wel ’n kans op ’n verhouding het.

Hierdie is ’n gesprek wat maar redelik vroeg in die kommunikasieproses moet plaasvind. Sommige mense se intensies is natuurlik nie om betekenisvolle langtermyn-verhoudings te hê nie en dit sal baie help as mens sommer net van die begin af eerlik daaroor kan wees. Die lewensfase waarin jy jou bevind bepaal ook grootliks die permanensie en aard van liefdesverhoudings. Tydens sekere ontwikkelingsfases wil mense moontlik eers ’n paar verhoudings beleef en behoort dan van die begin af te sê dat dit die behoefte is.

Eerlikheid en openlikheid kan net in ’n verhouding bestaan indien daar goeie kommunikasie is. As jy agterkom dat iemand inligting van jou weerhou moet jy maar versigtig wees, want dit voorspel natuurlik komplikasies vorentoe. Om tydens die eerste afspraak reeds jou hart op jou mou te dra en al die kaarte op die tafel te plaas, is nie ‘n goeie idee nie! Alles gebeur in tyd en moet verkieslik teen ’n gemaklike en toepaslike pas gebeur.  Indien iemand binne twee weke met jou wil trou, is daar moontlik inligting wat die persoon nie wil hê dat jy dadelik moet uitvind nie.

Goeie kommunikasie

Die oplossing blyk dan te wees om duidelik te kommunikeer wat jou verhoudingsbehoeftes is.  Indien die ander persoon dieselfde behoeftes het kan die volgende stap betree word. Nou kan ons mekaar leer ken. Ons leer mekaar natuurlik die beste ken deur tyd saam te spandeer en aan die ander persoon te openbaar wat vir jou lekker is, waarin jy belangstel en watter dele van die lewe jou nie aanstaan nie.  Hou maar in gedagte dat die perfekte pasmaat nie bestaan nie. Daar sal altyd iets wees waaroor julle sal verskil, en as hierdie verskille nie noemenswaardig groot is nie, kan die nodige aanpassings vir mekaar gemaak word.

Maar jy kan nie jouself in wese verander om by die behoeftes van iemand anders aan te pas nie. En jy kan ook nie verwag dat iemand anders hulle hele persoonlikheid moet herstruktureer om jou gelukkig te maak nie.

As jy dus sukkel om jouself te wees in verhoudings sal jy eerstens moet uitvind wie jy werklik is en dan bepaal of jy gelukkig is daarmee.  Indien jy positief hierop kan antwoord moet jy sorg dat jy die volgende verhouding met die regte strategie betree. Doen gerus ‘n ekspriment met jouself en kyk watter mense hou spontaan en deurlopend van jou wanneer jy meeste van die tyd jouself aan hulle voorhou.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2018-08-01T20:27:21+00:00