Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Ons werkplek kan vir ons ’n kruis of ’n geleentheid vir kroondra wees. Dit hang net af hoe ons daarna kyk.

Was jy ook al lus om jou werk op te gee? Om eenvoudig weg te stap van die sinloosheid om elke dag jouself af te sloof? Ons kan maar eerlik wees: daar is vele kere wat ons werk nie vir ons lekker is nie: veral die dae wat ons te veel hooi op ons vurk het, daar probleme en konflik is of wanneer dit eenvoudig nie goed gaan nie.

’n Manier om die gevoel van: “ek-móét-werk-maar-wil-nie” te verander in ’n heerlikheid waarna jy elke dag uitsien, is om te onthou dat God nie aan ons werk gegee het om ons te straf nie. Maar dat Hy dit juis gegee het omdat Hy wil hê dat ons suksesvol sal wees en ook daardeur oorvloed en betekenis sal ervaar.  En ’n manier om dit reg te kry – ongeag jou tipe werk, jou posisie of omstandighede – is om te onthou dat jy, daar in die gewone sleur van jou dagtaak ’n verskil in ander se lewens kan maak omdat jy ingestel is op die unieke iets wat jý kan gee; iets waarmee jy ander se lewens kan verryk: Soos ’n woord waardeur jy kan opbeur, ’n taak wat jy van iemand se skouers kan afhaal … ’n manier hoe jy dalk iemand se voete kan was.

Wanneer ons so na ons werkplek kyk, verander ons perspektief. Dan word dit nie net ’n plek waar ek moet wees om my salaris te verdien nie, maar ’n ruimte waar ek my talente na die beste van my vermoë uitleef, waar ek God kan eer in wat ek doen, ’n voorbeeld kan stel en ander kan help.  En dán vind ek rede om soggens op te staan, sien ek uit na nog ’n geleentheid om te géé en vind ek dat juis dít mý lewe verander, mý hart verryk en aan mý ’n stuk rykdom gee wat geld nie kan koop nie.

Jy kan met jou unieke persoonlikheid, spesifieke talente en jou fyn aanvoeling betekenis aan ander se lewens gee. En doen jy dit, sal jy vind dat jou “werk-kruis” verander in betekenisvolle vreugde omdat jy iets van die hart van jou Here vir die wêreld kan wys.

Vader
Daar is dae wat opstaan vir werk
régtig nie maklik is nie.
Miskien omdat ek dan vergeet het
waarom U my daar geplaas het.
Wys my elke dag
wat U doel met my is
en waar U my wil gebruik.
Help my om
verskilmaak-geleenthede raak te sien
en te doen wat U sou doen.
Ja Here, ek wil betekenisvol werk
deur U,
ook in my werkplek,
te lééf.

In géé … lê ontvang

’n Mens kan verstaan dat Moses soms moedeloos oor sy groot taak moes voel. Vir veertig jaar moes hy ’n weerbarstige en opstandige volk tree vir tree deur die woestyn lei sonder dat hy self geweet het presies hoe die beloofde land sal lyk. Tog het hy dit keer op keer reggekry om hulle deur die donker dieptes van hul eie gemoedere te lei omdat Hy geweet het waar om sy hulp vandaan te kry, maar ook omdat hy bewus was van die feit dat hy ’n verskil aan hul lewens maak: hy lei hulle nie net weg van slawerny nie. Hy neem hulle na die visie wat God vir hulle het.

Probeer op die dae wat jou werk jou onderkry onthou dat jy ’n verskil kan maak. Dat jy juis op daardie dag anders na jou omgewing en die mense moet kyk omdat God jou wil gebruik. Dis sulke tye wanneer jy in gehoorsaamheid géé, wat jy meer as genoeg sal ontvang. Omdat daar ’n dieper betekenis in jou lewe is.

Boodskap: Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen. Spreuke 3:27
2018-08-01T08:42:19+00:00