Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Blydskap wat bly

Deur Stephan Joubert (CUM)

Wat maak jou gelukkig? Is dit sukses in jou loopbaan? Genoeg geld vir aftrede? Politieke stabiliteit? Of wag jy dat die Here jou omstandighede moet verander voor jy jou neerslagtigheid sal verruil vir vreugde? Stephan Joubert beklemtoon in 366 dagstukke dat ware vreugde nie te vind is in jou omstandighede nie, maar in ’n hegte verhouding met God. Daarom kan jy vreugde beleef al is die lewe onregverdig en sterf onskuldiges en seëvier korrupsie. Ware vreugde is nie ’n emosie nie – dis ’n sekere wete dat saam met God elke oomblik in die lewe sin het en elke ontmoeting ’n geleentheid is vir omgee, uitreik en vergifnis. R249,95.

Stroomop

Deur Adeline Radloff (Queillerie)

Vyf Gautengse vroue swem stroomop deur die lewe. Hulle kom uit baie verskillende wêrelde: Daar’s ’n uitgebrande sjirurg, ’n bedroefde A-tipe prokureur, haar opstandige studentedogter, ’n oorgewig, oorstelpte huisvrou en ma van drie, en ’n vreesbevange jong data-analis in haar liefde verlaat. Hulle beland saam in groepsterapie vir die traumas wat die lewe hulle onlangs opgelê het, en deel van die terapie is ’n ekskursie op die woeste Oranjerivier. Wanneer hul manlike gids daar in groot moeilikheid beland, moet dié vyf vroue saamspan, verby hul eie probleme en struwelinge kyk en die gevaarwaters sonder hulle gids aanpas – of hy, en hulle, oorleef dalk nie. ’n Bemagtigende vroue-avontuur oor spanwerk, volharding en jou eie ding met oortuiging doen. R240.

Die rooikop en die redakteur en ander stories

Deur André P. Brink (Human & Rousseau)

In hierdie boek bring die uitgewer vroeë verhale deur een van Afrikaans se belangrikste skrywers in een band bymekaar. Vóór die Sestiger-beweging, etlike literêre pryse en internasionale aansien het André P. Brink sy loopbaan begin as skrywer van humoristiese stories en spannings- en liefdesverhale in gesinstydskrifte. Die vermaaklike storie sin dié bundel het gedurende die 50’s in die tydskrrifte Die huisgenoot en Die brandwag verskyn. Dié bundel kombineer Brink se eiesoortige sin vir humor met ’n tikkie nostalgie – perfek vir ’n ouer én nuwe geslag lesers. R240.

Karoo Food

Deur Gordon Wright (Struik)

In hierdie kookboek word die kuns van stadig leef en kook gevier. Gordon Wright is ’n passievolle sjef wat deesdae saam met sy gesin in die Groot Karoo woon. Hy is ook lid van die bestuur van Slow Food International South Africa. Dié boek bevat ’n mengsel van tradisionele én moderne resepte eie aan die Karoo en word met pragtige foto’s geïllustreer, ’n ode aan die kookkuns van hierdie deel van ons land. R300.

Knip Verf Plak 50 prettige kunsprojekte

Deur Suzie Brooks (LAPA)

Hierdie pragtige handwerkboek wys jong kunstenaars hoe om vingerafdrukke, voetafdrukke en alledaagse dinge te gebruik om inspirerende, goedkoop en eko-vriendelike kuns te maak. Dit bevat ’n versameling eenvoudige en goedkoop, maar treffende, handwerkprojekte wat ideaal is vir ouers met min tyd en skole met ’n beperkte begroting. Die boek is ryklik geïllustreer met stap vir stap instruksies en fassinerende kunswerke. Elke aktiwiteit is eenvoudig en kan maklik toegepas word en wys dat dit pret is om mooi goed van weggooigoed te maak. R185.

Briewe aan God

Deur Lizette Murray (CUM)

Briewe is ’n intieme manier om met mekaar te kommunikeer. Gewoonlik wys ’n brief iets van jou hart se binnekant. Dit verklap jou drome, of vertel van jou smagting of vrese of diepste twyfel. Net so is ons gesprekke met God briewe waarin ons ons hart voor Hom uitstort. Dié boek bevat’n versameling van 50 kort versugtinge, dankie-sê-sinnetjies en noodroepe aan God. Die briewe hanteer verskeie aspekte in die lewe, soos kwellinge oor ’n kind, die behoefte om ’n vriendin te vertroos, dankie-sê-briewe vir seëninge en nog vele meer. Ná elke brief is daar ook enkele Skrifaanhalings oor die onderwerp in die brief en ’n gebed. Briewe aan God is doodgewone gesprekke en gebede op papier – gerig tot God – en geanker in sy Woord. R169,96.

Skaap is bang

Deur Rosi Greening (LAPA)

Hierdie is maar een boekie uit ’n reeks van agt oulike boeke wat ontwerp is om kinders meer oor emosies en sosiale vaardighede te leer. Elke storie fokus op en verken ’n spesifieke emosie of sosiale vaardigheid. Die stories is in eenvoudige, verstaanbare taal geskryf, en die pragtige illustrasies sal kinders boei en vermaak terwyl hulle lees. Agterin elke boek is vrae oor die storie. Dit gee volwassenes die geleentheid om die aangeleenthede te bespreek wat in elke boek aangeraak word, en op die tema voort te bou. R55 elk.

Egskeiding – hoe nou verder

Deur Christina van der Bijl (CUM)

Egskeiding is aaklig. Wanneer dit met jóú gebeur, help dit nie om te weet baie het al voor jou geskei en dit oorleef nie. Waar begin jy om net weer effens mens te word noudat jou drome aan skerwe lê? In hierdie boek wil die skrywer jou verseker dat jy dit gaan oorleef, al voel dit nie nou so nie. Die boek help jou om beheer te neem van jou situasie en aandag te gee aan jou finansies, jou fisiese welstand, jou emosionele welstand, jou geestelike lewe en jou kinders. Dit is propvol praktiese idees en voorstelle en daar is plek om jou gedagtes neer te skryf terwyl jy deur die proses van egskeiding werk. R99,96.

2018-08-01T20:27:43+00:00