Kuns van Lééf

Opgedollie

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet

Vir Thana Nel, ’n laerskoolonderwyseres van Pretoria, lê herwinning en die maak van kunsvlytskeppings uit alledaagse weggooigoed ná aan die hart.

Upcyclingis meer as net die hergebruik van alledaagse weggooigoed. Jy moet die oorspronklike doel van die voorwerp buite rekening laat en met heeltemal nuwe oë daarna kyk. Ou, afgeleefde en weggooigoed kry in die hand van ’n skeppende siel soos Thana nuwe lewe. Afvalitems soos aluminiumblikke, tydskrifte, ou denims, ritssluiters, sjokoladepapiere en aartappelskyfiepakkies, draad en selfs ou verfkwaste word deur dié kreatiewe ma van drie gebruik om splinternuwe, byderwetse juwele, sakke en geskenkitems te maak.

Upcycling is die term wat gebruik word vir die kreatiewe herwinning van afvalmateriaal of onbruikbare, ongewenste items, om nuwe produkte te skep wat waarde het.

“Dit is baie moeilik om ’n gepaste vertaling vir die woord ‘upcyling’ te gee. Sommige mense verwys daarna as ’n deftige manier van herwinning. Dit is meer as net die hergebruik van alledaagse weggooigoed. Jy moet vergeet waarvoor die item oorspronklik gebruik is en met vars en nuwe oë daarna kyk.

“Vir my is upcycling nie net ’n manier om jou deel vir die aarde met sy oorvol ashope te doen nie, maar ook ’n manier om rommel wat skynbaar geen meer nut het nie, op te dollie en nuwe items te skep.”

Thana is voltyds onderwyseres, maar gebruik haar vrye tyd om kreatief besig te bly. Daar het reeds twee boeke uit haar pen verskyn, Vlyt-vlyt verkoop vining uit– haar eerste boek – is gemik op entrepeneursdae by skole en die kopseer wat dit vir menige ouer veroorsaak. Opgedollie, haar tweede boek, het in 2017 verskyn. In hierdie boek wys sy die leser hoe om van hangertjies tot handsakke te maak uit items in en om die huis wat skynbaar geen nut meer het nie.

‘Kyk ’n bietjie om jou rond en dink aan vreemde moontlikhede. ’n Ou teelepel kan met ’n klein bietjie moeite in ’n nekstuk verander word.’

Dra dit om jou nek

“Of jy nou van iets klassiek, vreemd, eksentriek, of net doodgewoon prettig hou, hangertjies is ’n gewilde toevoeging tot enige vrou se uitrusting. Sommige van ons is meer waaghalsig as ander, maar almal is lief vir iets wat mooi is en tog ’n bietjie aandag trek. Kyk ’n bietjie om jou rond en dink aan vreemde moontlikhede. ’n Ou teelepel kan met ’n klein bietjie moeite in ’n nekstuk verander word. Vir my het die inspirasie vir die maak van ’n Zam-Buk-hangertjie gekom toe die rooi kersiegeur Zam-Buksalf bekendgestel is. So eg –Suid-Afrikaans en die mooiste rooi – so waarom nie ’n hangertjie daarvan maak nie? Jy hoef nie eens te wag tot die blikkie leeg is nie … dra sommer jou vol houertjie om jou nek.

“Wanneer jy in Suid-Afrika rondry, is daar baie entrepreneurs op die hoeke van die strate wat met hul produkte smous. Die produkte wat van draad gemaak is, trek altyd my aandag. Dit het my inspireer om my eerste draadhartjie aanmekaar te draai. Ek het uitgevind dat binddraad definitief beter as bloudraad werk!

“Enige kleinerige, ligte voorwerp kan in ’n prettige stel oorbelle omskep word. Van koeldrankdoppies tot lego-blokkies! Knope is een van my gunstelingmediums.

“Armbande is net so deel van ’n volledige uitrusting soos enige ander stuk juwele. Smaak verskil en elke uitrusting het dalk ’n ander armband nodig. Koeldrankblikkies se helder kleure bly vir my fassinerend. Nadat ek uitgevind het hoe maklik dit is om ’n blikkie te sny, het die idee van ’n armband, gevolg. Dit is nie eens nodig om ’n blikkie met ’n blikskêr te sny nie; ’n gewone handwerkskêr of ’n skêr met kort, stewige lemme is ideaal. Wees tog maar net versigtig vir die vlymskerp randjies van ’n gesnyde blikkie.

“Ek het ’n obsessie met mooi lappe en kan aan talle ongewone items dink wat daarmee gemaak kan word, van oorbelle tot armbande. Gebruik jou verbeelding! So kan ’n ritssluiter in ’n bonkige ring omskep word of ’n ritssluiterblommetjie as borsspeld dien.

“Ek is ook baie lief vir knope en ek onthou tot vandag toe Ma en Ouma se blikke vol knope.”

Uit Ouma se skatkis

 “My ouma was tog te lief vir haar borsspelde. En ek was baie lief vir Oumatjie se borsspelde. Daardie borsspelde het uit verre, vreemde lande gekom. Skilpaddop wat uitgekerf is om die pragtigste dames uit te beeld, sierstene gegiet in fyn silwer.

“Alhoewel my borsspelde nie met ’n kamee vergelyk kan word nie, laat die stukkie nostalgie my aan vervloë se dae dink.

“Dit is vir my buite die kwessie en heeltemal onmoontlik om by ’n ou patroon verby te stap. Ek moet stop en my verkyk aan die modes van jare gelede. Elke patroon se illustrasie is ’n kunswerk in die kleine. So het ek op die idee afgekom om borsspelde van ou patrone se sakkies te maak. Sny die prentjie in ’n sirkel, plak dit op ’n stewige stukkie materiaal vas en rond af met ’n mooi stukkie gehekelde kant rondom. Borsspelde kan met groot sukses van materiaal gemaak word of gehekel word.

“Ek is ook baie lief vir knope en ek onthou tot vandag toe Ma en Ouma se blikke vol knope. Vilt of ander materiaal kan in verskillende groottes, patrone en kleure op mekaar gerangskik word en met ’n knoop in die middel vasgewerk word.”

“Kyk ’n slag rond en maak iets moois vir jouself of ’n vriendin uit dit wat in jou huis rondlê.”

Herwin en hernuwe

Vele van die kinders vir wie ek skoolgehou het, het hulle al misgis met die ‘sjokolade’ wat op my tafel lê.’ Uit ’n gunsteling-sjokoladefoeliepapier het Thana niks minder nie as ’n pennesakkie gemaak nie. Sjokolade- en selfs skyfiepakkies word deur haar vlytige vingers omgetower tot grimeersakkies en selfs beursies.

“Om ’n geskenk te kry is baie spesiaal. Om ’n bruikbare, tuisgemaakte geskenk te kry is meer as spesiaal. As iemand tyd en moeite gedoen het om vir jou ’n geskenk te maak wat by jou pas en dit dalk nog mooier verpak het, kan jy nie anders as om gekoester te voel nie.

“So is blomme wat nie verlep nie ’n wonderlike geskenk. Ek maak graag papierblomme uit ’n verskeidenheid soorte en kleure papier. Die bladsye van ou boeke of musiekstukke skep ’n klassieke gevoel.

“Kyk ’n slag rond en maak iets moois vir jouself of ’n vriendin uit dit wat in jou huis rondlê.”

Thana Nel het die kuns om met nuwe oë na weggooigoed te kyk vervolmaak. Dis gewis.

Uittreksels en foto’s uit Opgedollie deur Thana Nel, uitgegee deur Lapa Uitgewers, met toestemming van die uitgewer gebruik.

2018-08-01T08:09:44+00:00