Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Delheim Pinotage Rosé 2018

Delheim het geen diereprodukte wat tradisioneel in die wynmaakproses aangewend word, in hul Delheim Pinotage Rosé 2018 gebruik het nie. Delheim het net ’n tipe klei, Bentonite, en ’n plant-proteiën gebruik, toe dié wyn gemaak is. “Alhoewel ons uiters droë toestande ervaar het, was die gemiddelde temperatuur gedurende die oesseisoen koeler as vorige jare,” sê Altus Treurnicht, wynmaker, verder. Jy sal aromas van granaat en bosbessie, met skeutjies spookasem en bloeisels vind. Delikate rooibessie geure talm op die tong en dra by tot die varsheid van hierdie vrug-gedrewe, tog gebalanseerde, wyn. R75.

Bellevue Malbec 2014 

Die winterwenner uit die kelder van hierdie bekende wynlandgoed in die Bottelary-heuwels is die 2014 Malbec. Hierdie rooiwyn stel vrugtige aromas in die neus vry tesame met roosmaryn, kruisement en fynbos. Hierdie geure word ook in die mond ervaar. Dis ’n puik koswyn wat met speseryagtige disse en geroosterde vleisgeregte geniet kan word, asook met Thai-disse en geregte uit die Midde-Ooste. Dis ook by die kelder beskikbaar en kos R110 per bottel.

De Krans Pinotage Rosé 2018

Die De Krans Pinotage Rosé 2018 spog met ’n mondvol rooivrugtegeure en ’n goed gebalanseerde suur wat lei tot ’n ontploffing van varsheid in die mond. Ruik en jy sal verras wees met subtiele aromas van roosblare, spookasem en aarbei. De Krans het voorheen ’n “blosende” wyn van ander druifkultivars gemaak, maar pinotage het in 2016 sy kleim op hierdie bekende en bekroonde landgoed afgesteek met die bekendstelling van die eerste De Krans-rosé van hierdie rasegte Suid-Afrikaanse rooi druifsoort. Pinotage is ideaal vir die maak van ’n rosé-styl wyn danksy sy puik geurprofiel. Geniet dit saam met ’n heerlike seekos-paella. R68.

Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon 2014 

Wynmaker, Niel Bester, beskryf dié donker robynrooi wyn as ’n geurige en vollyf rooiwyn met ’n neus van bessie, speserye en vanielje. Op die tong is die wyn volrond met die smaak van bessies, sedernote, donker sjokolade en vanielje. Die wyn het ’n verouderingspotensiaal van 10 jaar en smaak heerlik saam met rooivleisdisse. Plaisir de Merle lê teen die hange van die Simonsberg tussen die Paarl en Franschhoek. Neil skryf die sukses van die wyn toe aan goeie vrugte wat van ’n unieke terroir afkomstig is.  R215.

Paul Cluver Wines Riesling Dry Encounter 2016

Tradisie sê die winter is ’n tyd vir kaggelvure, gemakskos en rooiwyn. Vir sommige wynliefhebbers is witwyne ewe tuis in die winter as in die somer. Paul Cluver Wines Riesling Dry Encounter 2016 is gebottelde bewys hiervan en sal enige tyd die winterkoue kiering. Dit is ’n lewendige wyn met kenmerkende geure van speserye en blomme. In die mond is dit elegant en verfynd, en dit spog met ’n talmende, mineraalagtige nasmaak. Hierdie wyn sal soos ’n handskoen pas by tradisionele kerrie- of enige ander speseryagtige disse. En as speseryagtige disse nie jou voorland is nie, hierdie wyn sal ook perfek pas by soesji, carpaccio en beesvleis-tartare. R110.

Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016

Hierdie is ’n fyn afgeronde en elegante enkelwingerd pinotage afkomstig uit die Breedevallei wat deur die Waaihoekberge omring word. Die wyn is diep purper van kleur met intense aromas van wilde bloubessie, moerbei en ryp kersies wat deur ’n ondertoon van rokerige speseryagtige donkersjokolade ondersteun word. Die wyn is vrygewig op die palet met ’n hart van wilde swartbessie en ingelegde pruime. Hierdie vrugte note word gerugsteun deur ’n tikkie eik, wit truffel, donker sjokolade en tiemie. Dié wyn kan saam met ’n wye spektrum van disse geniet word, van oesters tot geurige Midde-Oosterse disse. R247.

Leer ken die landgoed

Gabriëlskloof. Dié langdgoed is net buite Botrivier geleë – ’n streek wat van die land se beste vertolkings van Syrah-wyn huisves. Syrah is ook die grootste gedeelte van aanplantings op die landgoed en was die inspirasie vir Gabriëlskloof se twee Landscape Syrahs, wat die diversiteit van die terroir uitlig. “Dit gaan oor ons reis om die beste plekke en die beste klone op die plaas te vind; en watter kombinasie van hierdie twee die beste wyn sal lewer,” sê Gabriëlskloof se wingerdboukundige en algemene bestuurder, Barry Anderson. “Dit wentel om die leerproses om hoe om met die land te boer; om na balans tussen die groei en die vrug te werk; en oor die verfyning wat ons uiteindelik na die beste wyne vir ons Landscape-reeks gelei het.” Kuier gerus na afloop van ’n besoek aan die kelder by die Gabriëlskloof Restaurant. Kontak Gabriëlskloof by 028 284 9865 of info@gabrielskloof.co.za of besoek www.gabrielskloof.co.za. Die Gabriëlskloof Landgoed is ’n skrale 80 minute rit van Kaapstad en is net anderkant Botrivier op die Swartrivierpad, vanaf die N2, geleë.

Sjefstafel

Sjef Francois du Toit inspireer met ’n wilde sampioen en parmesaanvla en ander fynproewergeregte by die Waverley Hills Restaurant. Die Waverley Hills-landgoed is geleë in die Witzenbergvallei in die Wolseley-omgewing. www.waverleyhills.co.za.

Die Keldery in die hartjie van die Namakwa Weskus spog met ’n panoramiese uitsig oor die pragtige wingerde en die Maskamberg. Die Keldery Restaurant is die perfekte kuierplek waar besoekers rustig kan ontspan.  diekeldery@namaquawines.com

La Petite Ferme in Franschhoek bedien onder meer ’n plaasvars-ontbyt en heerlike middagetes. Kyk uit vir die bekende Chefs and the vine-etes wat regdeur die jaar aangebied word. Vir meer inligting, besoek www.lapetiteferme.co.za.

Delheim Landgoed is in die Stellenbosch Wynroetes se Simonsberg sub-streek en op die Knorhoekpad, net af van die R44, geleë. Vir meer inligting, besoek www.delheim.com of kontak Delheim by info@delheim.com of 021 888 4600. (Foto heel bo).

2018-08-01T20:27:30+00:00