Lééf in oorwinning

Oor die wenstreep

Foto’s Sebastien Dubois

Vir Cheryl Green (39) van Tableview in Kaapstad het ’n gesonde leefstyl en om te begin hardloop na die pad van oorwinning en ’n nuwe lewe gelei.

“In September 2016 was ek so depressief dat ek selfmoord oorweeg het. Ek was oorgewig en het hulpeloos gevoel as ma en eggenoot. My gemoed was ‘laer as die grond’ en die geheime lewe wat ek besig was om te leef, het my begin inhaal. Dit het veroorsaak dat ek my aan kos vergryp en kilogram vir kilogram begin optel het. Maar met elke liewe ekstra kilogram wat ek opgetel het, het ek net dieper in depressie geland.

“So waar het my storie begin? Tien jaar gelede het my man sy werk verloor en het dit ons as jong gesin op daardie stadium geforseer om van stede te verwissel. Om van een stad na ’n ander te verhuis, was nie maklik nie. Ek moes die groot-trek op my eie hanteer, aangesien my man reeds in Kaapstad was. Boonop moes ek my familie en vriende prysgee en my lewe van vooraf op ’n vreemde plek begin.

“In August 2012 het my skoonpa selfmoord gepleeg. Daardie oggend toe ek wakker word, het ek net geweet iets is nie pluis nie. Die duiwel was in ons huis. Ek en my man het daardie middag woorde gehad en dinge het hand uitgeruk. Later die aand het ons die tyding gekry wat my lewe verander het.

Depressie het my lewe oorgeneem 

“Sowat ’n maand later het ek nog slegte nuus ontvang toe ek op 35 jaar met osteoporose gediagnoseer is. Ek het die dokter verbaas aangekyk, my handsak geneem en sy kantoor verlaat. Gegewe die afsterwe van my skoonpa, het ek my diagnose stilgehou en dit het vir my ’n my pad na verwoesting geword.

“Intussen het ek medikasie vir my depressie geneem, maar dit het ’n teenoorgestelde effek op my gehad het. In plaas daarvan dat my depressie onder beheer was, het dit ’n stille dood in my geskep, wat op sy beurt veroorsaak het dat ek ’n toevlug gevind het in ’n plek waar niemand met my hoef te kommunikeer nie, ’n plek wat soos ’n tweede huis vir my geword het, die casino. Dit was nie noodwendig ’n verslawing nie, maar ek was goed op pad daarheen.

“Ek het my toevlug tot kos geneem en myself begin ooreet. Ek het daagliks toneel gespeel in my eie lewe en gelukkig voorgekom, ’n skuiling wat my beskerm het teen die waarheid. Selfs in my moeilikste oomblik, het ek myself forseer om ’n grapjas te wees met ’n borrelende persoonlikheid, maar binne-in my was ek uitgeteer deur moedeloosheid en selfbejammering. Ek sou in my kamer skuil en vir ure aaneen huil. Gedurende werksure het ek myself dikwels in die badkamer toegesluit om te sit en huil. Kos was my enigste troos.

“My gewigstoename het my waardeloos as vrou laat voel. Ek was nog altyd iemand wat ’n baie lae selfbeeld gehad het, en om as ’n vet vrou bestempel te word, was ’n dolk deur die hart. My gemoedstoestand het veroorsaak dat ek ’n bitter ongelukkige mens was wat dit op my man en kinders uitgehaal het. Hoe ek gevoel het, het ’n reuse-impak op die mense om my gehad.

Omdraaipunt

“Die keerpunt in my lewe het plaasgevind in Oktober 2016. Dit was die wil van die Here dat ek op daardie dag tussen ’n groep hardlopers beland het. Dit was genade van Bo dat ek kon sien hoe hul mekaar bystaan om oor die wenstreep te kom, mekaar omhels en moed inpraat. Ek het daardie dag ’n keerpunt bereik en myself belowe dat ek ’n 5km-resies saam met hulle in Oktober 2017, ’n jaar later, sou hardloop.

“Ek het huis toe gegaan, my hoërskooltekkies uitgehaal en om die blok gaan stap. Min het ek geweet dat my heupe, bene en arms reeds weens my siektetoestand begin ingee het. Ek het 400 meter gestap-hardloop en moes daarna vir ses weke met krukke oor die weg kom. Weereens het ek my in die dokter se spreekkamer bevind en dié keer was ek gewaarsku dat ek teen 40 in ’n rolstoel sou wees as ek nie vinnig my leefstyl verander nie.

“My eerste vraag aan myself was hoe kon die Here my so verlaat, ek is dan bereid om te probeer. Maar ek het nie besef dit was ’n toets nie. Ek het huis toe gegaan en my ma gebel. Ek het haar nie vertel van my kondisie nie, maar haar wel meegedeel dat ek ’n punt in my lewe bereik het dat ek net gaan eet. Ek het geglo dat almal een of ander tyd moet doodgaan en dat ek net sowel nou kan sterf. Ek het geen doel in die lewe gehad nie. In daardie oomblik het my dogtertjie by my op die bed kom lê, haar arms om my gesit en vir my gesê dat ek die mooiste mamma is. In daardie oomblik het ek besef dat ek ter wille van my gesin moet aanhou probeer. Ek het na my kinders gekyk en besef dat ek hulle net so nodig het net soos hulle my het. Hulle het ’n rolmodel in hul lewe nodig, en dít is wat ek wou wees.

Toevlug

“My geloof het begin groei. Daar was daaglikse struikelblokke en redenasies met die Here. Waarom sou Hy so iets toelaat? Hoekom moes ek die een wees wat hierdeur gaan? Dit het my lank geneem om te besef dat die Here nie iets op my pad sou sit wat ek nie kon hanteer nie. Gebed het ’n toevlug in my lewe begin word. In my donkerste tyd, het Hy my kinders gebruik om my deur te dra. Vandag glo ek alles was bloot hindernisse om my sterker te maak.

“In Januarie 2017 het ek vir die eerste keer in my lewe by ’n gimnasium ingestap. Ek het saam met my kollegas by die werk met ’n “Biggest Loser” program begin. Stadig maar seker het ek weer die stukkende stukke van my lewe begin optel.

“Een oggend het ek ’n aanmerking op my sosiale mediablad gemaak; “Wat as ek eendag net ’n 21km-resies kan hardloop?” Dié plasing het soos ’n veldbrand versprei en by Run Walk For Life beland, waar ek ’n jaarlange kontrak aangebied is. Ek het baie aan myself getwyfel aan die begin. Toe ek vir die eerste oefening by die klub opdaag, kon ek nie uit die motor klim nie. Ek het ’n ent verder gaan parkeer en my hart uitgehuil. Net toe my moed my heeltemal begewe en ek my motor aanskakel om terug huis toe te ry, het die afrigter aan my venster geklop en gesê dat hy vir my wag.

Oorwinnaarskroon

“Vandag hardloop ek vyf keer ’n week. In Maart 2018 het ek my eerste 30km resies voltooi en is ek die trotse eienaar van amper 70 medaljes. Tans oefen ek vir my eerste marathon en ultra-marathon. My gemoed en gesondheid het drasties verander sedert ek begin hardloop het. Ek is vasbeslote om my doelwitte te bereik.

“Die Here is goed vir my en is ek ’n instrument in Sy hand. In Maart vanjaar is ek aangewys as ’n handelsmerk-ambassadeur vir Run Walk For Life. My familie oefen aktief saam met my. Daar is nie ’n groter voorreg vir my as ma om saam met my seun (15) ’n 15km resies kaf te draf nie. Intussen het ek ook ’n inspirasie-groep vir dames op Facebook begin waar ek elke dag iets inspirerend met hulle deel.

“Ek voel fisies goed en het reeds 27kg verloor en dit deur hardloop, iets wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie. Die hardloop-gemeenskap het soos familie vir my geword, ’n familie waar daar altyd iemand sal wees om jou aan te spoor om nog beter te doen. Ek het sopas vir my nog ’n doelwit gestel, om in 2020 die Comrades te hardloop.

“Daar is niks lekkerder vir my as om my hardloopskoene aan te trek en in die mooie natuur te gaan draf nie. Hierdie tye is vir my kosbaar. Dit is dan wanneer ek een is met die Here en ek Hom loof vir die tweede kans wat hy my gegee het. Ek weet vandag dat my lewenspad deel van Sy doel vir my lewe is en dat ek ’n instrument in Sy hand is. Hy gebruik my as ’n getuie. Daar is soveel vroue wat dieselfde paadjie stap as ek. En ek weet vandag dat die Here my op hierdie paaie gaan gebruik. Ek sou nooit kon dink dat die Here my as atleet vir Sy koninkryk sou gebruik nie. Maar vandag weet ek, niks is vir God onmoontlik nie.

“In die lig van alles wat met my gebeur het, het ek ook my eie “Running for a Cause” projek begin en hardloop ek elke maand vir ’n ander siektetoestand. Ek wil hê mense moet besef, wat ook al jou omstandighede, daar is altyd ’n uitweg. Om biddend te hardloop was myne.”

Die 5 lewenslesse wat ek geleer het:

  • Moenie skaam wees vir wie en wat jy is nie.
  • Moet nooit skaam wees oor jou verlede nie. Dit is jou verlede wat van jou ’n beter persoon maak.
  • Moet nooit stilbly oor dit wat die Here vir jou gedoen het nie. Dit is Hy wat jou die genade gee om aan te gaan.
  • Inspireer diegene om jou. Daar sal wel iemand wees wat dit ter harte sal neem. Wie weet, dalk bevind daardie persoon hom of haarself op die pad wat jy reeds gestap het.
  • Bly biddend voor God. Hy is jou krag en sterkte.
2018-08-01T20:27:59+00:00