Ek deel my hart

‘Nes ek is . . .’

Deur Judith Kamffer | Foto’s Hanneri de Wet

Aktrise Marijke van der Westhuizen (35) het jare lank gesukkel om haarself (en haar sproete!) te aanvaar, maar vandag kyk sy in God se spieël.

Dit is ’n koel oggend toe ons in die Johannesburgse koffiewinkel ontmoet. Die son skyn gul en geel en almal in die koffiewinkel gesels vrolik. En toe sy vanaf haar koppie koffie opkyk, skyn sy óók. Haar glimlag verraai nie haar onlangse hartseer en verlies nie, maar straal van vergenoegdheid, belofte en God se nabyheid juis wanneer die lewe se storms om haar woed . . . Marijke van der Westhuizen (35) se roosblonde hare hang los en welig oor haar skouers. Sy is knus, maar modern uitgevat in ’n bruin leerbaadjie. Sy het min grimering aan en fyn sproete lê liggies oor haar wange en neus. Sy’s petite, maar verwelkomend wanneer sy my omhels. Sy gesels vinnig en haar oë praat saam.

Marijke is deur diep waters die afgelope jaar, maar getuig dat sy heeltyd bewus was van God se liefdevolle Teenwoordigheid. “Ek het verlede jaar ’n baie moeilike jaar gehad. Ek is geskei; het iemand na aan my aan die dood afgestaan en ek en my seuntjie Juwan (7) – wat beteken God is genadig – het na Johannesburg verhuis. Tog het die Here my die heeltyd gelei. My familie het my ook gedra deur hierdie tyd – ek kom uit ’n wonderlike huis uit waar die Here die sentrale punt van ons lewe is. Ons is almal kinders van die Here en ek maak Juwan ook groot vir die Koninkryk van die Here.”

’n Hoogtepunt

Marijke is ’n mense-mens en bieg dat sy baie soos haar karakter in Getroud met Rugby is: “Ek is baie positief en hou daarvan as mense van my hou.” Hoewel sy aanvanklik onderwys studeer het, was sy nog altyd lief vir die verhoog en het toneelspel en dans haar vinnig weer teruggeroep na die vermaaklikheidsbedryf. “Vir my is dit nie net ’n werk nie. Ek is nou in die posisie waar ek absoluut doen waarvoor ek lief is. Ek is nog altyd lief vir die verhoog en die mikrofoon, maar ek is ook baie lief vir kinders. My ouers het my drome altyd ondersteun en het my aangemoedig om eers ‘iets’ agter my naam te kry voor ek my drome van toneelspel en dans verder najaag. Daarom het ek onderwys gaan studeer. Ek het egter in my tweede jaar my studies ‘gevries’ om in Taiwan te gaan dans. Ek het my studies wel later voltooi en het begin skool gee by ’n wonderlike skool in Pretoria … maar ’n vaste pos het my nie die vryheid gegee om ander geleenthede na te jaag nie. Ek het ’n geloofstap geneem en bedank.”

Haar geloofsstap het vinnig vrugte gewerp en deur haar betrokkenheid as een van die eerste Bulls Babes, het sy ’n rol in Villa Rosa losgeslaan. “Ek sê nog altyd, ‘God is my agent’, want ek het nog nooit vir ’n rol oudisie nie. Dit is baie moeilik om rolle te kry as jy nie ’n netwerk het nie, maar my rol in Villa Rosa het later gelei tot my rol as pom-pom nommer een in Getroud met Rugby en dit het weer gelei daartoe dat ek die hoofrol gekry het in Seisoen 5 van Getroud met Rugby en Getroud met Rugby die sepie. Hierdie is my hoogtepunt.”

‘Ek is baie optimisties oor my toekoms. Ek kyk net vorentoe!’

’n Gesonde liggaam

As danser én aktrise het Marijke nog altyd ’n voorliefde vir ’n gesonde leefstyl. “My ma is my rolmodel. Sy is 62 en speel nog twee of drie maal ’n week muurbal. Ek is dus nog altyd maar lief vir gesond leef. Ek oefen sewe dae ’n week en eet elke drie uur en ek glo werklik in ’n gesonde leefstyl. Juwan oefen saam met my. Ek behoort aan ’n paar verskillende gimnasiums en dit laat ons toe om een dag te swem, ’n ander dag dalk muur te klim. As ons die dag nie by die gim kon uitkom nie, doen ons ’n paar opstote en maagoefeninge voor bedtyd. Juwan is baie aktief en is lief vir rugby en krieket. Dit is vir my belangrik om ’n gesonde leefstyl by hom ook tuis te bring. Hy eet ook wat ek eet, al moet ek die groente soms bietjie in sy kos in rasper. Ek berei ook die volgende dag se kos die vorige aand voor sodat ek ’n rustige atmosfeer vir hom voor skool kan skep.”

Die geheim is . . .  

Kommunikasie is vir Marijke deurslaggewend tot Juwan se geluk. Juis in die moeilike tye. “Juwan is deur baie – ook baie verliese. Hy is mal oor sy nuwe skool, maar verlede jaar was vir hom ook ’n groot ontwrigting. Boonop is sy hondjie dood. Ek bly op my knieë voor die Here en soms moet ek doelbewus terugtree en vir die Here vra om my kind te dra en te troos. Ons het ’n roetine gevestig waar ons elke aand ons hande op mekaar se koppe plaas en mekaar seën. En wanneer hy al gaan slaap het, gaan ek in sy kamer in om vir hom te bid terwyl hy slaap. Net die Here weet wat in sy hartjie aangaan,” vertel Marijke.

Oor hul egskeiding sê Marijke: “Niemand trou met planne om te skei nie . . . en ek en Pieter is albei kinders van die Here. Ek het geleer dat God ’n liefdevolle God is en hoewel Sy plan vir ons nie egskeiding insluit nie, Hy my nooit sal verlaat nie. Hy het my beskerm en gelei en ek het deurentyd Sy vrede ervaar. Ons het ons beste gedoen en besluit om dinge mooi te hanteer vir ons kind se onthalwe. Ek moes pynlik eerlik met Juwan wees en ons het van die begin af baie duidelik met hom gekommunikeer. Ek het mooi vir hom verduidelik dat Mamma en Pappa nie meer in dieselfde huis gaan bly nie en ons herinner hom heeltyd aan hoe lief ons vir hom is.”

‘God is ’n liefdevolle God. Hy het my beskerm en my gelei, selfs deur ’n egskeiding. Ek het deurentyd Sy vrede ervaar. En ek het vrede oor my toekoms.’

Natuurlik mooi

Oor haar toekoms sê Marijke: “Ek is baie optimisties. Ek kyk net vorentoe. En ek droom weer van die eenheid van ’n gesin . . . ’n mens raak maar af en toe eensaam. Ek weet nie wat my toekoms inhou nie, maar ek bid daaroor en die Here weet wat Hy vir my beplan. Ek wil net hê dat my kind moet gelukkig wees.”

’n Groot deel van Marijke se optimisme vind oorsprong in haar aanvaarding van wie sy is en hoe sy lyk. Sy vertel onbeskaamd: “Ek is nou 35 en dit het my 33 jaar geneem om my sproete te aanvaar. Kinders kan so wreed wees en sal sommer ander kinders spot wat sproete het . . . Ek is ook op laerskool vreeslik oor my sproete gespot. Tog het ek vir modelkompetisies ingeskryf en wanneer ek op die verhoog was het ek hierdie sterk selfbeeld gehad. Ek het kompetisies gewen met my baie sproete, ’n groot kuif, maer bene – en alles wat uit verhouding gelyk het! Ek wóú op die verhoog wees.

“Ek het myself nooit as ‘mooi’ gesien nie . . . Ek het my lewe lank probeer om in te pas en ek  het my hele hoërskoolloopbaan lank selftan aangesmeer en soos ’n oranje mannetjie skool toe gegaan. My ma was raadop, want my wit vel en my sproete was vir haar so mooi, maar ek wou eerder soos die ander meisies lyk.” Nou weet Marijke egter: “Sproete is mooi! Dis uniek en ek het besluit om lief te wees vir myself soos ek is.”

’n Boodskap op sosiale media ’n paar jaar gelede het ’n verrykende gevolge ingehou – nie net vir Marijke nie, maar ook vir ander jongmense, wat soos sy, sukkel om hul sproete te aanvaar. “ ’n Ma het my gekontak nadat ek ’n foto van my, my seuntjie en my pa se neef se arms vol sproete geplaas het. Sy’t gesê sy glo dat ek haar dogter se lewe verander het, want sy het gesien hoe haar dogter google, ‘how to get rid of freckles’. Ek voel bevoorreg om in ’n posisie te wees om ’n verskil aan jongmense se lewe te maak.

“Ek moet ook hierdie waarheid leef, want my seuntjie hou my dop. Hy het eendag vir my gevra hoekom hy so baie sproete het en toe ek vir hom sê dit is omdat ék so baie sproete het, het hy iets gesê wat my hart gebreek het. Hy’t gesê: ‘Maar ek wil nie soos Mamma lyk nie . . . ’ In plaas daarvan om uit seer of woede te reageer het ek van die geleentheid gebruik gemaak om vir hom ’n voorbeeld te wees. Ek het vir hom gesê dat ek lief is vir my sproete. Daarom moet ek glo wat ek sê. Die oomblik wanneer ek die ateljee verlaat, haal ek al my grimering af. Twee jaar gelede sou ek nie eers gim toe gaan sonder grimering nie. Ek is nou lief vir my sproete. Dit is hoe God my geskep het. Hy dink ek is mooi, daarom moet ek myself ook so liefhê.”

2018-07-31T22:07:05+00:00