Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Verjaarsdae bly vir kinders ’n hoogtepunt waarna hul dwarsdeur die jaar uitsien.

Dit maak nie saak of dit ’n derde-, of negende-, of selfs ’n sestiende verjaarsdag is nie – die opgewondenheid bou op hoe nader die dag kom. Elkeen het ander verwagtinge. En soms verloop die dag anders as wat die kind dit in sy of haar gedagtes bedink het.

Ek onthou my twaalfde verjaarsdag. Ek was vroeg wakker. Maar, anders as gewoonlik, het my huisgenote nie vir my gesing nie. Aag, wat, het ek gedink, hulle het dalk vir my ’n verrassing in gedagte wanneer ek ná skool by die huis kom. Ek het so skrams in die verbygaan gegroet – vrolik en opgewonde oor die dag wat voorlê. Dit was operettetyd – en ek moes vroeg op my pos by die skool wees. Boonop was dit my verjaarsdag – en by die skool word daar altyd ’n groot ophef van die verjaarsdagmaat gemaak.

Al waaroor die kinders en onderwysers egter dié dag gedink en gepraat het, was kostuums, hare, grimering, kleedrepetisies. Niemand het my verjaarsdag onthou nie. Ná skool het ek bek-af buite die hek vir my pa gestaan en wag om my te kom oplaai.

Toe vergeet hy van my.

Ek het begin aanstap, met my skooltas en sak konsertklere wat kepe in my skouers en handpalms maak. Toe Pa uiteindelik langs my stilhou, sê hy:

“Ek is so jammer dat ek vergeet het om jou te kom oplaai, my kind.”

Al wat ek kon uitkry, was: “Ek verjaar vandag, Pappa.”

Later, met die perspektief van ’n volwassene, het ek besef dat ek hartseer was, maar dat ek nie ’n enkele oomblik aan my pa of die res van ons gesin se liefde vir my getwyfel het nie. Ek was ’n geborge kind.

Elkeen van ons se diepste verlange is eintlik net om te weet ons is gelief. ’n Verjaarsdag skep by uitstek die geleentheid om iemand daaraan te herinner.

Onlangs verjaar een van ons kleinkinders. Ons gaan die naweek voor sy verjaarsdag kuier. Daar is skoolsport. Pa se werksverpligtinge. Familie wat kom en gaan. Vir ’n amptelike partytjie is daar nie tyd nie. Maar ons vier fees rondom ’n tafel vol lekkernye, en ons sing en gee geskenkies vir die verjaardagman. Hy is opgetoë en diep gelukkig.

En tog. Toe sy ma ’n week later – toe alles aan die tuisfront bedaar het – uiteindelik die kans het om vir hom ’n partytjie met koek en kersies en ballonne te hou (met een maatjie en sy sussies teenwoordig), blink sy oë toe hy vra: “Is ek nóú sewe jaar?”

Party mense wil gereeld daaraan herinner word hoe kosbaar en gelief hulle is. Ander wil dit sien in die oë van die persoon oorkant hulle. Ander wil dit ervaar in die aanraking van ’n hand op die skouer.

Elkeen van ons wíl weet: Ek is spesiaal.

Elkeen van ons se diepste verlange is eintlik net om te weet ons is gelief.

Liewe Vader, U ken die hart van elke unieke kind van U. Help ons om nooit aan U liefde te twyfel nie, maar om in elke klein oomblik van koestering – en selfs wanneer ons ’n bietjie afgeskeep voel – daarvan bewus te wees. Help ons ook om sensitief vir ons kinders se behoeftes te wees. Amen

2018-08-01T08:40:19+00:00