Vanoggend het die Tora-studie, van Parashah Va’Etchanan (“Ek het gesmeek”) gegaan oor Moshe wat, voordat Israel uiteindelik die Heilige land betree, by die Here gesmeek het om hom tog maar toe te laat om met hulle mee te gaan. Maar die Ewige het by Sy verbod gebly. Moshe wat tot sy ken toe genoeg gehad het van die volk se klagtes, het in plaas van soos die Here gesê het, met die rots te praat vir water, dit twee keer met sy stok geslaan. Dié ongehoorsaamheid het hom sy intog in die Beloofde land gekos. Moshe vertel die volk hoe die Ewige vir hom geantwoord het: “Jy het nou genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met my oor hierdie saak praat nie.”(Deut.3:23-26)

Daar was veel om te beredeneer oor as die Here “Nee!” sê. Maar in dieselfde parashah wat strek oor hoofstukke 3-7 is ook die woorde in 6 vers 4: “Luister, Israel, die Here ons God, Hy is die enigste Here “– Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu, Adonai echad. Die Jode se geloofsbelydenis. Die uitgebreide versie daarvan bid elke Tora-getroue Jood twee maal op ’n dag. Dis die laaste woorde oor sy lippe as hy in sy sterwensoomblik by sy bewussyn is.

Ons het gepraat oor hoe moeilik en bykans onmoontlik dit is vir ’n Ortodokse Jood wat sy lewe lank daaraan vasgeklem het dat daar maar EEN – echad – Lewende God is, om te verstaan hoe die Christendom kan praat van ’n Drie-eenheid! Drie Gode? Ondenkbaar! Godslasterlik! En ons het andermaal geluister hoe die studieleier dit weer omsit in verstaanbare terme. “God is Unity in Plurality. He and the Son are of the same substance, but relationwise they are two ‘Persons.’ Beingwise Yeshua and God is echad (one), but relationshipwise Yeshua is subordinate to the Father.

Opnuut het dit weer vir ons sin gemaak. Het ons verstaan waarom Yeshua vir Sy dissipels gesê het: “Ek en die Vader is Een.”

Toe ek huis toe ry, dink ek aan die boek wat ek Maartmaand in Israel by die Yad Vashem, Holocaust Museum, gekoop het. “To Bear Witness”. ’n Boek so duur dat ek dit eintlik nie kon bekostig nie en so swaar dat ek ’n dierbare mede-toerlid moes vra om dit vir my in haar ekstra-gewig besigheidsklas-bagasie huis toe te bring. Uiteraard gaan dit oor verhale uit die Holocaust, sommige wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. ’n Boek wat jy moeisaam lees, meesal deur afgryse oorweldig. ’n Paar bladsye per aand waarvan die meeste foto’s of skrynende gedigte of flarde dagboekstukkies, of sketse op toiletpapier is, is beswaarlik haalbaar.

Ek onthou meteens so helder dat ek benoud raak daarvan, wat geskrywe is oor wat met die Jode in Bogdanovka gebeur het. Want ook in Roemenië was daar nie ’n druppel genade vir God se volk te vinde nie. 54 000 Jode is na Bogdanovka gedeporteer. Midde-winter was dit ysig koud, dig gesneeu.

Omtrent 5 000 van hulle is twee skure in gedwing en lewend verbrand. Die res is na ’n nabygeleë woud geneem. Tot aan die rand van ’n ravyne is hulle gebring, beveel om al hul klere uit te trek en dan summier doodgeskiet. Dié moordparty het vier dae lank geduur. Duisende van hulle het doodgevries terwyl hulle op hulle beurt gewag het om vermoor te word.

Daar in die motor is dit asof ’n koue hand om my hart vat, by die een vreeslike gedagte: Hoeveel keer is Sh’ma Yisrael daar uitgekreet of met ’n laaste asemtog geprewel? Smekings, ja, maar ook, alles ten spyt, geloofsbelydenisse. Soos yskeëls het dit in die besneeude bome bly hang …

2018-08-01T08:51:02+00:00