Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Die wintervakansie kon nie op ’n beter tyd aangebreek het nie. Lank, snoesig en vol heerlikheid lê die gedagtes aan niksdoen in ons almal se gemoed. Die donker en koue dae word gevul met mosbolle knie, kaggelvuur aansteek, warmsjokolade drink en avontuurverhale lees. Salig en soos die natuur dit wil, vol lewegewende rustyd. Ek neul nie soggens in hulle slaapdonker kamers om op te staan of klere aan te trek nie. As hulle saans nie wil bad nie, dan hoef hulle nie. (Binne perke, ek belowe). Die feit is, iewers in die hartjie van my ma-wees, het ek laat skietgee en ek het dit doelbewus gedoen omdat ek glo dat die seuns ’n blaaskans nodig het. Hulle het nodig om op hul tyd hul eie ritme te vind en sorgeloos net te kan wéés en rus. Sonder horlosies of periodes of matrones of skedules. Onbevange. Soos kindwees van jou vra.

Deur die loop van die kort wintersdae soek ons mekaar se saamwees op. Ons ry saam motorfiets, kyk laataand flieks en lag uitbundig vir mekaar se simpel sê-goed. Ek verwonder my aan die seuns se emosionele vaardighede – hulle fyn waarnemingsin, humor en empatie. Ek kom agter ek kan van hulle dinge vra en hulle plekke heen stuur waarvoor hulle voorheen verskonings sou uitdink. Sonder murmurering gaan haal hulle vir my suiker uit die rantsoenstoor, gee hulle die hanslammers melk en kap hulle selfs vir my sakke vol hout. Ek giggel half ongelowig en verlekker my aan die nuutgevonde ywer en gehoorsaamheid waarmee hulle my bedien.

Wat is dan nou skielik anders, vra ek en pa Jan half ongelowig vir mekaar. “Dalk is dit die koshuis wat hulle nou laat besef hoe baie hulle na ons verlang,” verduidelik hy en ons knik instemmend ons koppe. Maar iewers roer ’n ander wete: die seuns doen dit omdat hulle sien hoe ons hulle geniet en ek geniet hulle omdat ek my prestasie-ingesteldheid laat vaar het.

Psalm 147:11 lees: “Die Here verheug Hom in hulle wat Hom dien, in die wat hulle hoop vestig op Sy troue liefde”. Wat ’n wonderlike woord is ‘verheug’ nie? Dit sê soveel van iemand se hart en ingesteldheid, die vonkel in hul oog, die vooroor leun en uitbundige genot van samesyn. Sien, as jy weet iemand geniet jou, dan wil jy hulle mos aanhou bekoor en in hulle geselskap wees. Dan is niks moeite nie en alles word met ’n lied in die hart uitgevoer.

Hoekom glo ons nie die wete dat God se Woord ons telkens herinner aan Sy genot in ons nie? Hy red ons omdat Hy ons geniet (2 Samuel 22:20 en Psalm 18:19) en daarom moet ons Sy Woord as ’n liefdesbrief begin lees sodat ons van ons prestasie-ingesteldheid kan loskom en weer die kind kan wees wat Sy Vader bekoor.

Leer jou kind

  • Dink dalk vir jou huisgesin ’n ander “prentjie” van God uit.
  • Sien in jou geestesoog hoe Hy jou menswees geniet en hoe Hy graag jou samesyn wil opsoek.
  • Dalk kom die vreugde wat ons by God vind, omdat Hy Hom eerste in ons verheug.
  • Laat jouself en jou mense die vrymoedigheid toe om net te wees in God se Teenwoordigheid – sonder voorskrif of protokol.
  • Bestudeer weer ’n slag Dawid se hart en manier van aanbidding voor God die Vader as rigtingwyser van hoe ons moet optree.

Lees meer:

Indien jy dit nog nie gedoen het nie, lees William P. Young se “The Shack” om ’n ander idee van die Drie-eenheid te kry! Uitgegee deur Windblown Media.

2018-08-01T08:45:47+00:00