‘Ek is waardig om te ly vir Jesus’

Foto’s © Geopende Deure Internasionaal 2018

Geopende Deure dien vandag miljoene vervolgde Christene in meer as 60 lande. Ook jý kan help om ’n verskil te maak.

*Meena en *Sunita kon hul bekering vir net só lank wegsteek voordat hul Hindoe-gemeenskap in Indië agtergekom het dat hierdie twee sussies “anders” was… “Christene mag nie bessies pluk nie, nie water uit die put gebruik nie, en ook nie dié pad deur die dorp loop nie!” het die Hindoe-dorpenaars hul op’n dag toegesnou.

Op daardie oomblik het die vervolging begin.
“Ons het ons huis verloor, ons rys-oes, 45 bokke, ons klere, én is uit ons dorp geskop. Verder het ons ons vriende en familie verloor,” vertel Meena. “Voordat ons vervolging ervaar het, het ek nie regtig begryp dat die Here met ons is nie. Maar Hy bewys Homself keer op keer as getrou – deur Sy genade en Sy goedheid.”

Sunita se stem bewe soos ’n ongestemde snaarinstrument wanneer sy vertel van die keer toe die Hindoe-dorpenaars hulle met bamboesstokke te lyf gegaan het. “Ek het gedink ek gaan sterf. Ek het nie’n woord gesê nie; ek het net gebid, totdat ek my bewussyn verloor het…” Deur die genade van die Here het Meena en Sunita daarin geslaag om te vlug na Christene in ’n naburige dorp.

In samewerking met Geopende Deure het ’n plaaslike Christengemeente vir Meena en Sunita onder hul sorg geneem. “Te danke aan die Here se voorsiening kon ons intussen ons eie winkeltjie oopmaak en só ’n inkomste genereer – vir onsself, maar ook om ander Christene te versorg. Meer nog, ons het ’n wêreldwye familie bygekry wat omgee. Dankie vir julle gebede en ondersteuning; ons lewens is nou soveel ryker!”

Meena en Sunita woon ook opleidingseminare by, ontwikkel deur Geopende Deure, waartydens Christene toegerus word met Bybelse beginsels rakende Jesus en spesifiek vervolging, asook kennis oor hul menseregte. Die geloof van hierdie twee vroue is merkwaardig. “Die Here gee ons krag,” sê hulle, en daarom moedig Geopende Deure hulle aan om hul getuienis tydens hierdie seminare met ander vervolgde Christene te deel.

Hoewel Meena en Sunita daagliks vervolging ervaar, lyk hierdie twee sussies vandag baie gelukkiger as twee jaar gelede toe Geopende Deure hulle vir die eerste keer ontmoet het. Hulle woeker skaamteloos vir die Here, en dank Hom daarvoor; Hy wat die gebede en ondersteuning van talle medegelowiges van oor die wêreld heen gebruik!

Geopende Deure dien vandag miljoene vervolgde Christene in meer as 60 lande in samewerking met plaaslike kerke en vennote, deur middel van gebedsondersteuning, die voorsiening van Bybels, Christelike materiaal, dissipelskap, lewensbestaansopleiding,  en op verskeie ander maniere.

Jy kan vervolgde Christene, soos Meena en Sunita, versterk om in die geloof te volhard. Om ʼn donasie te gee, deponeer jou geskenk in een van die volgende bankrekeninge:

Geopende Deure, ABSA, 632005, rekeningnommer 160 340 568 (Lopende), verwysingsnommer LF1807.

Geopende Deure, Nedbank, 198765, rekeningnommer 113 750 4552 (Besigheid), verwysingsnommer LF1807.

Geopende Deure 011 888 9341 |
e-pos southafrica@od.org |
webblad www.opendoors.org.za

* Name om veiligheidsredes verander.

2018-08-01T08:53:21+00:00