‘Almal het gesondig…’ Romeine 3:23a

Dis op plekke onpopulêr vir Christene om die s-woord te gebruik, maar soms moet ons eenvoudig daaroor praat: “sonde”.

Wat is sonde? In my kinderjare was sonde gewoonlik rook en drink, daarna vloek, dans en dobbel, asook te kort rokkies en te swaar grimering – vroue was skynbaar meer vatbaar vir sonde. Ligsinnigheid, bioscope en swem op Sondae kan ook bygevoeg word. Snaaks hoe ons steeds aan sonde dink as iets wat ons dóén, terwyl die wese daarvan eintlik baie dieper lê. “Sonde is ons strewe om sélf in beheer te wees, wat daartoe lei dat ons God se doel vir ons mis.” Dis trouens een van sonde se definisies: “om die doel te mis”. Sonde is dus ook baie wat ons níé doen nie: ons gebrek aan liefde (die “grootste” sonde, aangesien liefde die grootste gebod is), genade, geregtigheid, ensovoorts – veral ons gebrek om saam met God te leef. So word ons nooit wat ons kon word nie.

Ons eerste poging met die sonde, om dit self te probeer “bestuur”, eindig gewoonlik net in godsdienstigheid. Die Bybelse antwoord is om onder God se bestuur te kom, Heilige Gees-bestuur. Vanuit ’n verhouding – van binne na buite – sal ons lewe verander. Sonder ongesonde skuldgevoelens of sondebeheptheid (wat ná die kruis van Jesus bloot ongeloof is) moet ons eerder konstruktief met ons sonde werk: ons moet ons sonde verstaan, op die agenda hou tussen ons en God as ’n groei-area en dan deur die leiding van Gees daaruit groei.

As Hy jou lei in jou woorde en dade, jou gewoontes, ja selfs in sommige klere-keuses, is jy op Sy pad!

Gebed

Bestuur U my lewe, Here!

“Sonde is ten diepste ’n stukkende verhouding.” Stephan Joubert

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2018-08-01T08:37:03+00:00