Boekgesprek

Lééf gesels met Joy Mol oor haar boek, ’n Skatkis vol stories, wat vir kleingoed waardevolle lewenslesse leer sodat hulle die Ewigheid aan die voete van die Groot Storieverteller kan deurbring.

Joy Mol is ’n musikant, onderwyser en Sondagskooljuffrou. Sy het ook vir baie jare die Good News Club vir die kinders in hulle buurt gehou. Sedert 1978 het sy en haar man, Arnold, al meer as 150 naweek-seminare vir die gesin in Suidelike-Afrika en Europa aangebied. Sy is ’n gereelde spreker oor die huwelik, ouerskap, verhoudings en geestelike groei by damesgeleenthede. Sy het drie getroude kinders, Michael en Duane, albei mediese dokters, en Colette, ’n professionele berader in Pennsilvanië.

Die pragtige en opwindende stories in ’n Skatkis vol stories help jong harte om die “versteekte skatte” in elke storie en die lewe te vind, soos wat dit beteken om vir jou medemens om te gee, eerlik te wees, jou geloof met ander te deel en hoe om die ewige lewe te beërf. Elke verhaal word afgesluit met iets om God voor te dank, asook iets prettigs om te doen of te maak. Die verhale word pragtig afgerond deur die bekoorlike illustrasies van Catherine Groenewald. ’n Skatkis vol stories stel kinders van jongs af bekend aan eeue oue Skrifwaarhede en beginsels wat hulle sal leer om werklik seuns en dogters na God se hart te word.

Vraag: Joy, voor ons oor jou nuwe boek gesels, vertel ons bietjie van jouself. Waar het jou liefde vir skryf begin?

Ek dink dit het alles begin die dag toe ek ’n brief van my 14-jarige kleindogter Rachi ontvang het waarin sy vra vir iets spesiaal uit my hart vir Kersfees. Sy het voorgestel dat ek vir haar ’n joernaal met van my gunsteling sêgoed en herinneringe van ons twee saam gee, sodat ek so my wysheid aan haar kan oordra. “Dan noem ek dit The Rachi & Grammy Journal”, het sy gesê.

Ek het begin skryf en maande later was die joernaal voltooi. Daarna het twee van my ander kleinkinders dieselfde gevra en jul kan seker dink hoe my gedagtes toe begin hardloop het. Dit is waar die hele idee van die boek begin het.

 Vraag: Waarom ’n kinderboek?

Dit is maklik om te antwoord. Ek is mal oor kinders en ek dink ek kan nogal maklik met kinders op hulle vlak kommunikeer. Ek dink baie oor hierdie woorde van die kommunisme: “Gee vir ons jul kinders tot die ouderdom van sewe jaar en dan kan julle hul terugkry!” Dit het my laat dink. Ek was nog altyd betrokke in die kerk as Sondagskoolonderwyseres en het vir die afgelope 14 jaar die Good News Club vir kinders by my huis. Ek het ook 10 van my eie kleinkinders. Daar is so baie wat ek met hierdie kinders wil en kan deel en ek wil hulle toerus met die regte inligting en waardes voordat hulle die grootmenswêreld betree.

 Vraag: Hierdie boek gaan oor Ouma (Grammy) se skatte vir haar kleinkinders? Jy noem jy het 10 kleinkinders van jou eie. Het jy die boek spesifiek vir hulle geskryf en is die stories in die boek juis stories en lesse wat jy met hulle gedeel het en deel?

 Ja, ek is geseën met 10 kleinkinders van my eie.  Ek het begin deur te skryf wat enige Ouma graag sal wil hê haar kleinkinders moet weet en leer, natuurlik met my eie in my gedagtes die hele tyd. Ek wou hulle graag herinner aan ’n paar van die lewenslesse wat ons al saam gedeel het. Maar toe kom fiksie ook in my gedagtes op. Saam met dit was daar ook drie stories uit die geskiedenis wat ’n groot impak op my as persoon gehad het en natuurlik interessante stories uit die Bybel. Ek glo in my hart dat dit die stories is wat God graag wou hê ek met die kinders moes deel. Ek het myself die volgende vraag afgevra: “Hoekom nie hierdie stories en wyshede met álle kinders deel nie?” En toe doen ek dit.

 Vraag: Vertel ons bietjie meer oor die skatte in die boek.  Hoekom skatte?

Skatte is nie altyd groot en duur nie. Ek het dus besluit kinders moet skatte vir hulself in elke hoofstuk ontdek en versamel. ’n Skattejag is mos maar altyd groot pret vir die kleingoed. Ouers en grootouers wat die boek saam met hul kinders lees kan hulle help met leidrade om hierdie skatte te vind. Verbeel jouself hoe kinders skatte versamel soos: Jesus het my lief, Ek is spesiaal, God kan selfs vir my gebruik, God hoor en beantwoord gebede, wanneer ek sterf sal ek by Jesus wees, Jesus wil hê ek moet aan Hom behoort. Dit is ’n paar van die skatte wat ek wil hê hulle moet in hulle “mens-rekenaars” stoor vir ewig.

Vraag: Die boek is nie net bloot ’n versameling stories en lewenslesse nie, maar ook ’n goeie afskop-gids vir gebed vir kinders en ouers. Wat is jou siening oor die belangrikheid om jou kinders van baie jonk af te leer om saam te bid en hoe om te bid?

Dit is uiters belangrik, en ons het baie vroeg saam met ons kinders begin bid en hulle geleer hoe hulle op hul eie met God kan praat ook. Dit is juis hoekom ek die storie van Amy Carmichael ingesluit het. Toe sy ’n klein dogtertjie van drie was, het haar ma haar geleer dat God ons gebede hoor en beantwoord en dat jy enigiets vir hom kan vertel en kan vra. So het sy dit toe probeer en het gou geleer dat selfs “nee” ’n antwoord is. Soms het kinders net iemand nodig om mee te praat en iemand wat na hulle sal luister. God hoor graag kinders se gebede (Jeremia 33:3). Ons het elke aand in ons huis as gesin saam gebid, selfs toe ons kinders nog baie klein was en ons kinders doen dit nou saam met hulle kinders. Dit herinner my aan die volgende aanhaling: “Families that pray together, stay together!

 Vraag: Wat het jou die meeste inspireer terwyl jy die boek geskryf het?

Die feit dat God elke keer wat ek voor die rekenaar gesit het daar was vir my. Hy het my spesifiek herinner aan die geleenthede en situasies wat ek saam met my kleinkinders gehad het en dan het ek dit neergeskryf. Dit was ongelooflik, so opwindend en so werklik. Waardevolle oomblikke! Dan is daar die fiksie. Dit het my toegelaat om ’n paar ekstra lesse in te sluit. Daarna het die stories uit die geskiedenis en die vyf Bybelverhale perfek by dit wat ek met die kinders wou deel ingeskakel.

 Vraag: Wat was vir jou die grootste uitdaging met die skryf van die boek?

Ek het baie vir myself gevra: “Wat is jy besig om te doen? Jy is nie ’n skrywer nie, Arnold is!” Dan het Arnold my herinner aan die baie tye wat hy ook gevoel het hy wil sy manuskrip net in die asblik gooi. Dit het my laat besef ek is nie alleen nie. Dink daaroor – hoe wonderlik om jou eie skrywer byderhand te hê wat saam met jou woon en jou kan help deur die moeilike skryftye. Daar was baie geleenthede wat ek gevoel het ek gaan ophou skryf, maar God het my nie toegelaat nie. Hy het my die hele tyd aangemoedig met die mees wonderlike beloftes. Een daarvan is Efesiërs 3:20 en 21 wat vertel dat God in staat is om meer in ons te doen as was wat mens dink. So, ek sê vir God baie dankie vir my familie, en dat Hy my die hele tyd aangemoedig het en nie toegelaat het om op te gee nie.

 Vraag: Hoe het dit gevoel om die eerste kopie van jou boek in jou hand vas te hou?

Dit was vir my ’n oorweldigende en emosionele oomblik! Ek kon dit nie glo nie! Ek was so opgewonde dat ek gehuil het en Arnold omhels het met die boek in my hand. My hart was so vol prys en dankbaarheid vir die Here, want ek kon nie glo dat dit werklik besig is om met my te gebeur nie. Ek het ook onmiddellik Catherine Groenewald wat die illustrasies gedoen het geskakel om vir haar dankie te sê vir die ongelooflike mooi sketse wat sy gedoen het en wat so perfek by my stories pas. Sy het sonder twyfel ook inspirasie by God gevind toe sy die illustrasies dit gedoen het.

 Vraag: Vertel ons bietjie meer van die skatte vir die kinders se skatkis wat agter in die boek is.

Elkeen van daardie skatte is in die verskillende stories. Dit is waarhede en waardes wat ek wil hê kinders moet onthou. Waarhede oor: Wie is God? Wie is ek? Hoe wil God hê moet my gedrag wees? Hoe lyk die hemel? Hoe hanteer mens die dood? Hoe aanvaar ek Jesus in my hart?

 Vraag: Vertel ons meer van die “My woordlose boek” wat die kinders kan uitknip en versprei?

Die woordlose boek is ’n baie eenvoudige manier waarop kinders die Evangelie kan versprei. Dit is ’n fassinerende konsep vir kinders om ’n woordlose boek te hê en dit vertel ’n baie kragtige verhaal in kleur. Die goue bladsy herinner ons aan die hemel en dat dit God se woning is. Ook dat Hy graag wil hê dat ons eendag daar saam met Hom sal woon. Die swart bladsy herinner ons aan ons behoefte om God te ken. Ons is almal in sonde gebore. Die rooi bladsy herinner ons aan die bloed van Jesus Christus, God se enigste Seun wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Die wit bladsy herinner ons dat wanneer Jesus in ons lewens kom en weens Sy vergifnis, kan ons skoon harte hê. Die groen bladsy herinner ons dat ons as Sy kinders binne God se wil moet groei. Ons moet groei om meer soos Hy te wees deur die Bybel te lees, gehoorsaam te wees, te bid, Sy getuies te wees en Hom te aanbid.

 Vraag: Laastens, is daar enige toekomstige boeke in beplanning?

Nie op hierdie oomblik nie, want ek is nog in skok om te dink dat my boek aanvaar en gepubliseer is! Ek kan nog steeds nie glo dat ek hierdie boek geskryf het nie, omdat Arnold die skrywer in ons huis is. God sal die volgende idee vir my moet gee.  Maar ek moet erken, om hierdie boek te geskryf het, was ongelooflik lekker en vervullend.

’n Skatkis vol stories word uitgegee deur CUM Christelike Uitgewers en kan bestel word by https://www.cumbooks.co.za/n-skatkis-vol-stories-sagteband

2018-08-01T08:19:28+00:00