Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

’n Groot omwenteling in ’n mens se lewe gaan dikwels ook gepaard met verlies. Amanda de Lange begelei jou deur vyf stappe om jou deur die pyn en ongemak van só ’n proses te help.

Om suksesvol deur ’n proses van verandering te werk, is dit noodsaaklik om die gevoelens van verlies aan te spreek en indien nodig, selfs te rou oor dit wat nie meer is nie.

Laat die oue agter: Dit is nie maklik nie, maar om die omwenteling in jou lewe suksesvol te hanteer, is dit noodsaaklik dat jy aanvaar dat sekere dinge vir altyd verby is – selfs al was dit goed en lekker. Soms sal dít wat jou in een seisoen gedien het, en selfs tot jou sukses en geluk bygedra het, jou in ’n volgende seisoen terughou. Jy kan nie vorentoe beweeg as jy steeds bly vasklou aan die verlede nie. Buiten dat dit die hele proses tot stilstand bring, sal dit beslis ook bydra om pyn en verlies te vererger.

Vra jouself: Wat moet ek agter my laat? Hoe kan ek daarvan afskeid neem en aanvaar dat dit nie meer deel van my lewe is nie? Doen ek dinge wat my laat vassit tussen twee seisoene of is ek aktief besig om vorentoe te beweeg en die omwenteling en verandering in my lewe te omhels?

Wees dapper: Ons weet reeds verandering is ten beste van tye moeilik en spanningsvol. Dit verg moed en dapperheid. As jy suksesvol deur die omwenteling in jou lewe wil beweeg, moet jy bereid wees om probleme en hindernisse trompop te loop en nie daarvandaan weg te hardloop nie. Dis natuurlik nie altyd maklik nie, maar dit is noodsaaklik. As jy die hele tyd terugdeins van die uitdagings op jou pad, sal jy nooit die oorwinning ervaar wat die verandering in jou lewe teweeg kan bring nie.

Vra jouself: Waarvoor is ek bang in hierdie proses? Hoekom is ek daarvoor bang? Is die spreekwoordelike monster in die donker werklik so groot soos ek dink hy is? Is ek besig om hierdie verandering op my eie te hanteer, of maak ek die Here aktief ’n deel daarvan? In die teenwoordigheid van Sy liefde en versorging is daar geen vrees nie (1 Joh. 4:18).

Wees kwesbaar: Om suksesvol deur ’n proses van verandering te beweeg, moet jy bereid wees om kwesbaar te wees. Oorwinning en genesing gebeur nie in isolasie en afsondering nie, maar wanneer jy jouself omring met mense wat jy vertrou en wat jou liefhet en jou beste belange op die hart dra. Dit beteken dat jy nie jou twyfel, onsekerheid, hartseer en gevoelens van verlies wegsteek nie, maar uitgesoekte mense toelaat om jou daarmee te help. Dit beteken jy vra hulp wanneer jy nie weet hoe om self iets reg te kry nie of wanneer dit lyk of jou proses besig is om te ontspoor.

Vra jouself: Wie is die mense wat ek in my binnekring kan toelaat in hierdie proses? Wat moet ek doen om meer openhartig te wees?

Hanteer die verliese: Jy moet erkenning gee aan die dinge wat jy verloor het – hetsy emosionele- of materiële omstandighede wat drasties verander het of op professionele vlak. Laat jouself toe om jou pyn te voel en die rouproses te beleef. Moenie van jouself verwag dat jou proses soos iemand anders se proses moet voel, lyk of wees nie. Dit is vir elke mens anders.

Die tweede aspek hiervan is om die uitwerking van jou verliese op die mense om jou te hanteer. Dit is maklik om uit die oog te verloor dat dít waardeur jy gaan, ook ’n uitwerking het op die mense wat die naaste aan jou is en jou die liefste het. Pyn en ongemak is in wese ’n effens selfsugtige proses. As jy op ’n gesonde en suksesvolle manier deur verandering wil beweeg, is dit noodsaaklik om te onthou alles gaan nie altyd net oor jou nie. Ander mense word regstreeks of onregstreeks diep geraak deur jou lewe.

Vra jouself: Maak ’n lysie van die dinge wat jy verloor het en stel vas watter verliese steeds pyn veroorsaak. Is hierdie pyn en hartseer iets waardeur jy self kan werk of het jy professionele hulp daarmee nodig? Hoe kan jy erkenning gee aan die mense om jou en aan die uitwerking wat jou lewe op hulle het? Wat kan jy doen om vir hulle te wys dat jy hul liefde en omgee waardeer, selfs al verstaan hulle nie altyd waardeur jy gaan nie?

Raak prakties: Daar is altyd praktiese dinge wat gedoen kan word om die proses te vergemaklik, te bespoedig of gladder te laat verloop.  Jy sal dalk sekere dinge moet prysgee, van sekere dinge ontslae moet raak, tydelike planne maak om jou deur die oorgangsproses te help of jou planne heeltemal moet hersien. Al hierdie dinge sluit moontlike opofferings in, maar die beste ding wat jy vir jouself kan doen, is om bereid te wees om te doen wat ook al nodig is sodat jy ’n suksesvolle oorgang na jou nuwe seisoen kan verseker.

Vra jouself: Wat moet ek doen om die proses van verandering vir myself en dié om my makliker te maak? Watter areas het die dringendste aandag nodig? Kan ek dit self hanteer, of het ek hulp nodig daarmee?

  • Amanda de Lange is ’n veranderingstrateeg, meester-lewensafrigter en spreker. Kontak haar by 0846090344 of stuur ’n e-pos na dlange@gmail.com as jy een van haar werkswinkels oor strategiese verandering wil bywoon of as jy wil reël dat sy só ’n werkswinkel op jou dorp of by jou kerk kom aanbied.
2018-06-30T12:02:49+00:00