Lééf mooi

Skone slaap

Deur Christine Ferreira

Slaap maak jou mooi. Liggaam en siel het die helende krag van ’n goeie nagrus broodnodig.

Slaap maak gesond. Dit gee die liggaam nuwe krag en laat die vel lewendiger en jonger lyk. Tydens diep slaap is die liggaam stil en rustig, die hartklop stadiger, die bloeddruk val effe en asemhaling word reëlmatiger en stadiger. Selfs die spysverteringstelsel werk teen ’n laer tempo. Die liggaam maak homself snags heel, beskadigde weefsel en selle word herstel en infeksie word deur teenliggaampies beveg. Slaappatrone verskil van mens tot mens en almal het nie ewe veel nodig nie. Wat wel belangrik is, is om seker te maak dat jy ’n goeie nagrus kry.

Wenke vir ’n goeie nagrus

  • Oefen gedurende die dag. Dit help om oortollige adrenalien, wat as gevolg van stres in die brein opbou, te verminder. Moenie net voor bedtyd strawwe oefening doen nie.
  • Moenie in die bed klim as jy nie vaak is nie.
  • Vermy ’n swaar maaltyd saans. Die spysverteringstelsel werk snags stadiger en kos word moeiliker verteer.
  • Maak seker dat jou kamer die regte temperatuur is – 18 grade Celsius is ideaal.
  • Vermy saans kaffeïen en alkohol en ander stimulante. Dit kan jou van tot twee ure se slaap beroof, sê die kenners.
  • Leer om te ontspan sodra jy in die bed klim. Doen ’n paar strekoefeninge wat die liggaam help ontspan.
  • ’n Louwarm bad, met ’n paar druppels laventel-olie daarby, sal jou beslis lekkerder laat rus. Verhoogde liggaamstemperatuur help die slaap aan.
  • ’n Matras wat te sag of te hard is, bederf jou nagrus.
  • Maak seker dat jou kamer donker genoeg is. Selfs ’n dowwe nagliggie kan keer dat die brein melatonien, ’n hormoon wat slaap bevorder, vervaardig.
  • Moenie met jou rekenaar, tablet of selfoon in die bed klim nie. Skakel dit liefs ’n uur voor slaaptyd af.
Voed jou vel twee keer per week met ekstra vog en voedingstowwe met ’n spesiale masker wat saans aan die vel gesmeer word en eers die volgende oggend afgewas word.

Droommooi

’n Goeie nagrus ontspan die liggaam. Vir ’n moeë vel is dit beter as enige wondermiddel. Bloedvaatjies vergroot en bloed, ryk aan voedingstowwe, werk om die vel se diepste lae te herstel. Te min slaap maak die vel dof en leweloos.

  • Pamperlang jouself saans met ’n spesiale skoonheidsroetine voordat jy in die bed klim. Dit is ook ’n manier om te ontspan. Reinig en voed jou vel deeglik. Die vel skuur snags teen jou kussing en bakterieë word versprei. Selaktiwiteit verhoog snags en vogroom word beter geabsorbeer. Voed die vel met ’n goeie nagroom, verkieslik een wat ryk is aan anti-oksidante en wat die vel voorberei vir die volgende dag se aanslag van son en besoedeling. ’n Oogroom bevogtig die fyn vel om die oë.
  • Dit is beter om op jou rug te lê as op jou sy. Die vel word nie onnodig geplooi en verdruk nie en die vorming van onnodige lyne kan voorkom word. Soos ons ouer word verloor die vel sy elastisiteit. Herhaalde voue verander later in plooie. ’n Spesiale slaapkussing van satyn kan hiervoor help.
  • Saans is die ideale tyd vir afskilfering. Dooie selle word verwyder en nuwe selle vorm vinniger. Dit is voldoende om een tot twee maal per week af te skilfer.
  • Voorkom moeë, pofferige oë deur ’n oogjel te gebruik. ’n Paar druppels laventel of roosolie op watteballetjies wat in lap toegedraai is en ligte drukking op die oogarea veroorsaak, kan die vloei van limfatiese vloeistof help verbeter.
  • Smeer saans strelende olies soos laventel en amandelolie aan droë lippe en naelvliesies.
  • ’n Groot hoeveelheid liggaamshitte word snags deur die kopvel verloor. Sweet en die hare se natuurlike olies maak dit vetterig. Was daarom eerder jou hare soggens as saans.
  • Moet nooit met ’n masker wat aknee uitdroog gaan slaap nie. Dit brand die vel en laat dit stadiger genees.
  • Voed jou vel twee keer per week met ekstra vog en voedingstowwe met ’n spesiale masker wat saans aan die vel gesmeer word en eers die volgende oggend afgewas word.

Slaapkokon

Slaap is heel moontlik die naaste aan wat ons as die ‘fontein van jeugdigheid’ kan beskou. Die skoonheidshuis, Dermalogica, het hiermee in gedagte onlangs ’n spesiale vogroom bekendgestel wat die vel saans, terwyl jy slaap, koester en vernuwe. Dermalogica Sound Sleep Cocoon transformative night gel-cream (R1 295) herstel jou vel snags, terwyl jy rustig slaap, met onder meer Persiese syboom-ekstrak, laventelolie, patsjoelie en sandelhout. Die kosbare bestanddele word geaktiveer sodra dit in aanraking met die vel se hitte kom. Die ligte jelroom word met spesiale drukbewegings oor die gesig aangewend om onder meer ’n goeie nagrus te bevorder. Dié skoonheidshuis het selfs ’n spesiale slaap-toep beskikbaar gestel. Laai gerus dié strelende slaapklanke gratis af by soundsleepcocoon.com

  • Foto verskaf deur Dermalogica
2018-06-30T08:46:45+00:00