Sielsmaats

Deur Johan Ferreira  Foto | Hanneri de Wet

Is jy enkellopend en op soek na die regte maat? Onthou, daar is altyd die moontlikheid van ’n nuwe verhouding op jou horison of jy droom daaroor of nie.

Vir meeste enkellopendes is die moontlikheid van ’n nuwe verhouding ’n opwindende gedagte, maar dit kan ook baie spanning veroorsaak. Vanuit die staanspoor moet ons onthou dat geen verhouding sonder stres en uitdagings is nie – daar is gewoon nie iets soos ’n volmaakte verhouding nie. Indien jy na ’n geïdealiseerde verhouding soek, wat net in jou droomwêreld bestaan, gaan jy verseker teleurgestel word.

Kom ons kyk na die hooftemas en uitdagings wat met ’n nuwe verbintenis op die romantiese speelveld gepaardgaan.

Vertroue is sekerlik die tema waaroor ek die meeste met mense rakende verhoudings gesels. Êrens in gewone mense se lewens het iemand jou waarskynlik seergemaak of teleurgestel in verhouding. Hierdie herinnering aan die pyn veroorsaak dat jy beskermend teenoor jou hart kan optree wanneer daar weer die kans op ’n liefdesverhouding is. Ongelukkig is hierdie pogings om jou hart veilig te hou nie bydraend tot die volledige ervaring van ’n nuwe romantiese konneksie met iemand nie. Indien jou nuwe maat ook nie weet van jou vrese of angs nie, mag dit dalk lyk of jy nie in die verhouding wil wees nie. Vrees sal jou inhibeer om spontaan deel te neem aan die lekkertes van verlief wees.

Indien seerkry uit jou verlede nog ’n rol in jou lewe speel, sal jy met jou nuwe maat daaroor moet praat. ’n Beter begrip van jou maat se kant af sal daartoe bydra dat van jou huiwerende gedrag nie verkeerd geïnterpreteer word nie. Indien jy nie tans jou uitdagings ten opsigte van verhoudings kan oorkom nie, is dit beter om eers buite die verhouding hierdie probleme te gaan oplos om sodoende nie die pyn na die volgende maat aan te gee nie.

Misverstande speel natuurlik ’n ster-rol in die uitspeel van ’n nuwe verhouding. Hoeveel keer het jy nie al iets totaal onskuldig kwytgeraak wat jou maat verkeerd opgeneem het nie? Dit gebeur wanneer ons mekaar nog nie goed genoeg ken nie, nog nie mekaar se sin vir humor verstaan of ken nie of wanneer ons eie geskiedenis die prentjie voor ons belemmer. Die oplossing hiervoor is om te poog om kalm te bly, nie onmiddellik tot gevolgtrekking te kom nie en om oor die misverstand te praat.

Meeste misverstande kan baie effektief opgelos word deur kommunikasie. Dit sluit egter twee dele in. Ek moet kan verduidelik wat ek bedoel het, maar ek moet ook kan luister na wat my maat gehoor het. En dan moet ons oor die verskil in interpretasie praat totdat ons beide verstaan wat die vertrekpunt van die ander was. En natuurlik moet ek in verhouding die behoefte laat vaar om altyd te wil reg wees. Iemand wat dink dat hulle altyd reg is, het ’n probleem met realiteitstoetsing. Indien ons aanhou praat en aanhou poog om te verstaan, moet ons by ’n oplossing kan uitkom. Hierin lê die grootste potensiaal vir verstaan en verhoudingsgroei.

Die derde groot berg om te klim in nuwe verhoudings is natuurlik die intimiteitsuitdagings. Omdat ons seksueel aangetrokke is in romantiese verhouding, word dit al hoe moeiliker om die aangetrokkenheid te bestuur hoe meer ons van mekaar hou en hoe dieper die verliefdheid groei. Die ou verskonings dat ons tog uiteindelik gaan trou, of dat almal dit doen, gee vir baie paartjies die groenlig om te vinnig tot seksuele intimiteit toe te tree. Ervaring in hierdie veld dui duidelik daarop dat die begin van ’n seksuele verhouding vroeg in die hofmakingsfase meer as dikwels tot die verbrokkeling van die verhouding sal lei. Onthou dat die seksuele versoeking van iemand wat vir jou pragtig is slegs een van die uitdagings van ’n nuwe verhouding is wat bestuur moet word. Ons kan dit iets negatiefs maak, of ons kan die heerlikheid daarvan reg bestuur. Seksuele aangetrokkenheid tot iemand is ’n wonderlike ervaring en kan gekoester word totdat die uiteindelike vervulling daarvan reg en veilig is. ’n Liefdesverhouding is gewoon net nie so eendimensioneel dat ons alle fokus op die seksuele behoort te plaas nie.

As jy dan nou reg voel om hierdie romantiese spel te begin speel is die beginpunt natuurlik dat jy jouself beskikbaar moet stel. Onthou dat hierdie ’n besluit is wat eers in jou hart en in jou denke moet gevestig wees voordat dit in jou gedrag sal kan wys. Jy sal moet veilig voel in jouself om weer die kwesbaarheid te beleef om te sien of iemand graag by jou sal wil wees. Dit is in hierdie kwesbaarheid dat die saad vir ’n nuwe potensiële liefdesverhouding geplant kan word.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielsmaats.co.za vir meer inligting.

2018-07-04T18:49:26+00:00