Lééf gesond

’n Gesonde leefstyl teen kanker

Deur Ida-Marie Steenkamp

Terwyl die kenners steeds probeer uitvind wat kanker veroorsaak, is daar ’n paar dinge wat ’n mens kan doen om gesonder te leef om so kanker te probeer voorkom.

Daar is soveel verskillende verslae, statistiek en kommentare oor wat ’n mens alles kan doen om kanker te voorkom dat jy later nie meer weet wat is feite en wat is fiksie nie. Een ding is gewis, ’n gesonder leefstyl sal beslis ’n verskil maak in die stryd teen hierdie siekte. Daar is ’n paar leefstylkeuses wat jy kan uitoefen om jou gesondheid te verbeter en jou risiko teen kanker te verminder; en dit is nooit te laat om te begin nie!

Dr. Cathryn Walton, kliniese en bestralingsonkoloog by Cancercare in Port Elizabeth, beveel dié drie eenvoudige veranderinge in jou leefstyl aan. Dit sal jou nie net gesonder laat voel nie, maar ook jou uitkyk op die lewe verbeter en boonop jou liggaam versterk en teen die moontlikheid van kanker beskerm.

  1. Matigheid is die antwoord

“Ek glo om alles te doen met matigheid in gedagte. Probeer om ’n goeie balans in jou lewe te bewerkstellig,” sê Dr. Walton. “Om gesond te eet is belangrik, maar net so is oefening, gewigsbeheer en stresverlaging. Verminder jou alkohol-inname en probeer van onnodige gewig ontslae te raak.

“Te veel van ’n goeie ding, is nie noodwendig ’n goeie ding nie. Jy kan te veel vrugte eet of te veel noodsaaklike koolhidrate uitsny, asook nie genoeg proteïne inneem nie. Te veel rooi vleis in jou dieet is nie goed vir jou nie, maar ’n gebalanseerde hoeveelheid daarvan wel. Let op die hoeveelhede van dit wat jy eet.

“Jou liggaam kommunikeer haar/sy behoeftes aan jou. As dit sjokolade is wat hy nodig het, eet dit, maar nie ses blokke op ’n slag nie. Jou liggaam het energie nodig, so luister daarna, maar maak slim keuses. Jy kan dalk die sjokolade inruil vir ’n happie vrugte.”

  1. Vars vrugte en groente

Om gesond te bly, benodig jou liggaam vyf voedselgroepe. Die beste manier om dit te behaal, is om genoeg vars vrugte en groente saam met die ander voedselgroepe in te neem. Hoe varser, hoe beter.

“In ons gejaagde lewe is dit nie altyd moontlik om vars kossoorte te eet nie. Maar moet ook nie slegs op jou multi-vitamiene staatmaak nie,” sê Dr. Walton. “Weereens: hou matigheid voor oë. Kunsmatige vorme van vitamiene behoort nie jou enigste bron van vitamiene te wees nie. ’n Gesonde persoon se dieet behoort van so ’n aard te wees dat hy of sy geen ekstra vitamiene hoef in te neem nie. As jy vitamien-aanvullings nodig het om jouself uit die bed te kry, behoort jy jou oefenprogram, stresvlakke en dieet in heroorweging te neem. Maak gesonde en vars kossoorte jou eerste keuse.

  1. Begin beweeg

Jy hoef nie 20 km ’n dag te draf of oor ’n naweek 75 km op jou fiets te ry om jou liggaam gesond te hou nie. Begin eenvoudig net beweeg! Dit is veral goed vir mense wat reeds met kanker gediagnoseer is en behandeling ondergaan. Beweging en vars lug is ongelooflik belangrik vir die liggaam om te herstel.

“Begin stap,” sê Dr. Walton. “As jy daagliks bitter min beweeg, is dit baie sleg vir jou bloedsomloop, jou energievlakke en jou immuunstelsel. Selfs ’n kort stappie is so belangrik en so goed vir jou liggaam.

“Versterk jou liggaam. Gee dit wat dit nodig het om sterker te word sodat kanker nie ’n vastrapplek kan kry nie. Jy bou ’n sterk liggaam en ’n gesonde gees deur ’n goeie dieet, lae stresvlakke en gereelde oefening. Gee jouself ’n kans om ’n slag goed asem te haal, te ontspan en jou lewe te verander sodat jy langer kan leef.

Deur ’n gesonde lewe te lei, genoeg te oefen en risiko’s te vermy sover jy kan, kan jy jou longe gesond hou.

Wat van longkanker?

Jaarliks word ’n groot hoeveelheid nie-rokers met longkanker gediagnoseer en Dr. Charleen Muller, kliniese- en bestralingsonkoloog by Cancercare, sê die volgende hieroor:

“Die persoon wat ’n sigaret aansteek en die chemiese rook inasem, stel hom of haar direk bloot aan longkanker. Kankernavorsing in Brittanje toon dat sigaretrook tot soveel as 15 verskillende soorte kanker kan veroorsaak. Dit sluit long- en slukdermkanker in. Soveel as 15% van rokers kan longkanker kry.

Die statistiek toon wel dat tussen 10 en 15% van nie-rokers ook kanker kan kry, veral vroue. Dit is moeilik om te glo, veral as jy baie groente eet, 20km per dag hardloop en nog nooit in jou lewe gerook het nie. Maar longkanker het nie slegs met rook te doen nie.”

Nie-rokers is mense wat nog nooit gerook het nie of wat minder as 100 sigarette in hul leeftyd gerook het en tweedehandse rook beïnvloed hulle gewoonlik. “Hoewel hierdie ’n voldwonge feit is, kan sigarette nie voorgehou word as van die grootste oorsake vir longkanker nie,” sê Dr. Muller. Volgens haar kan hierdie soort kanker direk herlei word na omgewingsbesoedeling.

Dr. Muller sê daar is aansienlik meer lugbesoedeling vandag as ooit tevore. Onlangse studies toon dat lugbesoedeling weens motorvoertuig-verkeer met soveel as 15 tot 20% toegeneem het oor die afgelope 15 tot 20 jaar. Nie net hou die verhoogde vlakke van stikstofdioksied groot risiko in vir mense wat in hul motors ry of in die omgewing bly nie, maar kan jou vinnige draffie in die oggend in ’n dodelike tydverdryf ontaard. In stede of dorpe waar die lugbesoedelingsvlakke hoog is, behoort hardlopers eerder in ’n gimnasium te oefen of in ’n park gaan draf waar die blare minstens die impak van uitlaatgasse verminder.

“Saam met uitlaatgasse en sigaretrook, word ons longe ook blootgestel aan verbindings soos chroom en arseen wat in die vervaardigings- en verf-industrieë voorkom. Hierdie giftige verbindings verhoog die risiko van longkanker omdat dit mutasies in weefsel veroorsaak. Een van die bekendste oorsake van longkanker is asbes, wat veral in die boubedryf gebruik word. Groot hoeveelhede asbes is reeds uit die meeste geboue verwyder, maar dit is steeds ’n groot bron van kommer vir mense wat naby of in asbes-strukture werk,” sê Dr. Muller.

“Uraan is nog ’n mineraalstof wat die voering van die longe kan beskadig,” sê sy. “Uraan is nie slegs ’n risiko vir myners wat binne die uraanmyne werk nie, maar dit kom ook voor in die grond en die grondwater wat uiteindelik in mense se huise beland. Radongas, ’n byproduk van uraan, is ’n ewe groot oorsaak van longkanker. Klein hoeveelhede hiervan is geensins giftig nie, maar as jy oor ’n lang tydperk aan groot hoeveelhede hiervan blootgestel word, sal dit jou siek maak.”

Dr. Muller sê hoewel baie mense nie noodwendig gedurende hul normale dag aan uraan of radongasse blootgestel word nie, is dit belangrik om te weet hoe sekere atmosferiese besoedelingsoorte ’n mens se gesondheid kan beïnvloed. Uitlaatgasse, kragsentrales, houtkaggels en steelkoolvure stel klein deeltjies in die atmosfeer vry wat ingeasem word en mutasies, siekte en kanker veroorsaak. “Diegene wat in huise bly wat afhanklik is van ’n vuur om warm te bly of op te kook, moet liefs rookvrye steenkool gebruik wat jou gesondheidsrisiko kan verminder.”

Ongelukkig is daar ook gevalle wat buite jou beheer is, soos jou genetika of waar jy vantevore kanker gehad het. Dr. Muller sê daar is navorsing gedoen om te kyk of longkanker dalk oorerflik kan wees, maar hierdie studies is nog in hul vroeë stadium en is daar is nog geen bevindings nie. Mense wat voorheen chemoterapie of bestraling ondergaan het, het ongelukkig ’n groter kans om longkanker te kry. Sommige medisyne wat vir chemoterapie gebruik word, kan letsels in die longvliese veroorsaak wat hulle ontvanklik vir longkanker kan maak.

“Daar is goeie nuus ook,” sê Dr. Muller. Deur ’n gesonde lewe te lei, genoeg te oefen en risiko’s te vermy sover jy kan, kan jy jou longe gesond hou. Die belangrikste is egter om op te hou rook, nie net vir jou eie belang nie, maar ook in belang van almal om jou wat nie rook nie.”

  • Foto verskaf deur Pouyoukas Food
2018-06-30T08:45:02+00:00