Hoe goed is dit tog dat mense nie weet wat die jare vorentoe vir jou inhou nie. Elf jaar gelede op hierdie dag het ek ’n hartsvriendin wat ’n moeilike pad met ’n geliefde, eens van vlymskerp verstand, maar nou soos haar kind geword het, bemoedig. Nou loop ék die pad. Vanmiddag het ons twee gekuier. “Praat,” sê sy vir my terwyl sy haar koffie roer en my aankyk.

“My wiele het afgeval, vriendin. My wêreld het ’n puinhoop geraak. Niks het meer struktuur nie. Ek kan eenvoudig nie meer die toutjies bymekaar hou nie. Ek het my splinternuwe motor gestamp, my yskas het ingegee, ek het ’n gemors op internet banking gemaak. Ek … ! Ek kan nie meer nie.”

Sy glimlag sag en lê haar hand oor myne op die tafel.”Nee, jy kán.” Ek skud my kop. “Die Here steek Sy gesig vir my weg. Ek voel totaal oorweldig.” Sy vat my hand vas, dwing my om na haar te kyk. “Weet jy nog die gedig wat jy vir my gestuur het toe ek op jou plek gestaan het?” ‘”Kan nie van so iets onthou nie.” “Maar ék kan. Dié een van ou Francis Thompson … ” “The Hound of Heaven.” Ek ril daarvan. Sy knik. “Gaan huis toe, lees dit weer. Dan dink jy waarlangs die Here met jou geloop het. En dan sê jy nie weer jy kan nie meer nie.”

Ek krap my kosbare ou digbundel waarin ek jare nie meer gelees het nie, agter uit ’n boekekas. Langsaam, bewerig, lees ek die kragtige The Hound of Heaven, 19de eeuse gedig. Ek huil verskriklik. Al die pyn, die skok, die alleenwees van die afgelope maande brul deur my.

I fled Him down the nights and down the days / I fled Him down the arches of the years / I fled Him, down the labyrnithine ways,

Of my own mind and in the midst of tears / I hid from Him … From those strong Feet that followed, followed after.

But with unhurrying chase / and unperturbed pace / Deliberate speed, majestic instancy / they beat – and a Voice beat / More instant than the Feet …

That voice is round me like a bursting sea. / “Lo, all things fly thee, for thou fliest Me!…

“Who will thou find to love ignoble thee / Save Me, save only Me?…

“Ah fondest, blindest, weakest / I am He Whom thou seekest!”

Hoeveel moeitevolle jare het ek voor Sy verordeninge uitgevlug. My eie pad gegaan. Om male sonder tal in wanhoop neer te val. Voor sy toorn. Voor Sy liefde. Tog in daardie wilde jare, het ek Sy voetval steeds kon hoor. En toe was daar Sy Stem. Dringender nog en onontkombaar. ’n Barstende see rondom my. Die krag om verder te vlug het van my weggeval. Ek wis dit was om lewe en om dood. En soos Moses as Hy die Stem hoor, het ek myself op die grond voor Hom laat val. “Rabbani … ” “Wie anders,” het Hy stil gevra, “kan jou, onedel jy, liefhê soos Ek? Wie kan jou die jare teruggee wat jy die sprinkane laat verorber het?”

In die stilte van my eenmens-woonkamer gaan ek my gesig teen my slapende Siamesie vasdruk en huil haar hare nat. “Ek sal nie vlug nie, ek kan nie vlug,” roep ek teen die warm diertjie in my arms aan. “Ek sal dat Jy my vashou en my hierdeur dra, Hond van die Hemel. Want Jy hét my lief. Ek wéét dit.”

2018-06-30T09:45:49+00:00