Kuier by

Kuns! Kos! Vrystaat!

Foto’s Hannerie de Wet

In die hartjie van Parys is ’n vyfster-gastehuis waar besoekers met kuns en fynkos bederf word. Schalk Schoombie het gaan inloer by Anneke en Paul Delport in hul kleurryke Art Lovers Guesthouse and Conference Venue.

Vandat die sierhek oopskuif en jy deur die gawe bestuurders van Art Lovers Guesthouse in Parys, Vrystaat verwelkom word, kan jy jou verkyk aan alles: die pittoreske kerktoring op die dak, die geil binnehoftuin met ’n ronde gazebo, die suurlemoenboom swaar belaai met geel vrugte, die romantiese muurskildery van ’n plattelandse nooi aan die buitekant, die ou stasieligte op die veranda, die rustige fontein in die voorkamer, groot sierkruise en mosaïekwerk wat plek-plek teen die voorhuismure geskep is …

“Art Lovers was eers ’n kunsgalery wat uitgebrei het om besonderse handgemaakte ware te bied, met skilderye van Zerk de Villiers, René Snyman, Royalene en ander kunstenaars wat soos soetkoek verkoop het,” vertel die energieke jong bestuurder Jadé Pretorius oor die oorsprong van die pleknaam. “Dus ’n trekpleister vir kunsliefhebbers. In 2006 het die eienaars ’n gewilde restaurant hier geopen en mense het van heinde en ver gekom om aan te sit vir die fynproewersdisse.”

Jadé begelei my deur sewe sjiek, gemaklike en suite slaapkamers wat keurig ingerig is met kuns en oudhede, kristalkandelare en houtvloere. Die kamers se name suggereer ’n tema en kleurskema: Angel, Sapphire, Champagne, Silver, Gold, Emerald en Rose.

“Mense is verskillend en daarom verskil die kamers ook. Die oorkoepelende estetiese styl van die kunsgalery het behoue gebly. Houtvloere is ingesit vir warmte en ’n gevoel van aardsheids.”

Klassieke musiek speel strelend in die agtergrond in die ruim sitkamers. Vars pienk en wit rose in ’n vaas word omring deur engeltjies van porselein. ’n Dieprooi leerbank en vleuelrugstoele nooi jou om te sit en alles in te neem: kuns en nogmaals kuns. Die swaar tafel in die statige eetkamer, wat ’n Victoriaanse statigheid uitstraal, word afgerond met wynrooi tafellopers en silwer kerskandelare.

“Rooi aksente is intens en warm – dit sein passie en skoonheid.” beduie Jadé. “Dit verwelkom en nooi jou om jou oor te gee aan die rustigheid.” In die gepas getitelde Angel Ontspanningskamer kan jy vergeet van die gewoel met ’n lekker boek en ’n skemerkelkie in die hand.

Vele gedaantes

Anneke en Paul Delport, die eienaars van die gastehuis wat deesdae in Paarl woon, vertel dat die plek sedert 1942 verskeie gedaantes ondergaan het; van ’n kerk, ’n kleinhandelaar tot ’n haarkapper.

“Ons het die torinkie op die dak opgerig en die kerkie herstel vir troues, onthale en konferensies. Topbestuurders hou van kleiner, uitgelese plekke,” knik Anneke. “Aanvanklik het ons net die kerkie gekoop en opgeknap. Toe raak die eiendom met twee huise langsaan beskikbaar en ons koop en herontwikkel dit ook. Die huise was verskriklik vervalle. Ons moes peste bestry in ’n ou huis wat platgestoot is. Ons het afgebreek en oorgebou, ’n tuin aangelê.”

“Die plan was aanvanklik om ’n derde van ’n Eiffeltoring met ’n restaurant op te rig, maar die dorpsinwoners was gekant daarteen,” vertel Paul geamuseerd. “Ons het die kombuis vergroot, en die eiendom langsaam bygekoop en ontwikkel tot sewe luukse kamers. Ons glo in herbenutting, en het ou plafonne as deure in die voorportaal hergebruik.

“So kon ons sedert 2002 Art Lovers geleidelik opbou tot ’n vyfster-gastehuis met ’n uitmuntende restaurant, Privé, en konferensiegeriewe wat veral by sakemense en die ANC in aanvraag is.”

Anneke verklap ’n romantiese kinkel: “Ons het die talentvolle jong sjef Hugo van Niekerk op televisie gesien en drie maande lank gesukkel om hom hier te kry. Toe raak ons jongste dogter Lana op hom verlief en nou is hy ons skoonseun!”

“Parys beleef gewoonlik ’n naweektoeloop van besoekers, en dit het bygedra tot die dorp se ontwikkeling,” vertel Paul. “Ons het gehoop om die hoofstraat te omskep tot ’n wandellaan met bome en straatlampe met blomme soos in Vancouver, Kanada, maar die idee wou nie posvat nie.”

Aards en eklekties

Van die kristalkandelare is ingevoer van Engeland, België en Nederland. Die gastehuis spog met ’n moderne filtreerstelsel wat die water suiwer en ’n kragopwekker wat sterk genoeg is om die hele dorp van krag te bedien.

’n Barokspieël in die voorportaal met ’n manjifieke handgekerfde houtraam is enig in sy soort, met ’n kleurryke geskiedenis. “Dit kom van Kuba waar dit destyds gesteel en toe uitgesmokkel is. Dit mag glad nie politoer kry nie, want dit kan die verflagie aan die houtsneewerk bederf. Dit mag net afgestof word,” sê Anneke en streel oor die kunstige snywerk. “Die een engeltjie se gesiggie lyk kompleet soos my kleindogter!”

Anneke beskryf die gastehuis se styl as aards en eklekties: “Groot vensters wat die lig laat instroom verleen warmte en landelikheid. Die professor kan buite sy boek gaan sit en lees. Ja, hier moet jy rustig kan raak, en alles help om jou te laat afskakel.”

’n Dieprooi leerbank en vleuelrugstoele nooi jou om te sit en alles in te neem: kuns en nogmaals kuns.

Goue herdenking

Paul (Polla) is ’n staal-ingenieur van Germiston wie se maatskappy sellulêre torings ontwerp, vervaardig en landwyd oprig. Anneke (’n nooi Gouws) is ’n plaasdogter van Louis Trichardt wat op Tzaneen getoë en aan die Heidelberg Onderwyskollege opgelei is. Albei is in Johannesburg gebore. In 1968 is hulle in Germiston getroud en vier vanjaar hul goue huweliksherdenking (50 jaar). Die egpaar is geseën met vier kinders, 13 kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Hulle skryf hul energie en vernuf aan hul onderskeie vaders toe: Paul se pa was in die ingenieursbedryf, Anneke se pa was ’n pragmatiese, slim man wat die jongste masjinerie oorsee gaan besigtig het en dan plaaslik ontwerp en vervaardig het.

Albei is betrokke by hul telekommunikasie- en kragtoring-onderneming wat hul produk plaaslik vervaardig en dit word in Afrika versprei. Vanaf 1992 tot 1997 het hulle die land deurkruis om telekommunikasietorings te installeer – in dorps- en landelike gebiede, skole en vir ander instellings. “Ons was na afgeleë plekke soos Baviaanskloof. Die afgelope 20 jaar het ons duisende sellulêre torings uitgevoer na Nigerië en res van Afrika. Ons oudste seun Jan Delport, skoonseun Jacques Fagan en drie dogters, Annerie, Ilona en Lana is almal betrokke in die familiebesigheid,” vertel hulle beurtelings.

Deesdae is hulle gevestig in die Paarl, en kom meestal Parys toe vir groot konferensies by die gastehuis – “vir ‘n tikkie persoonlike aandag”. Die res van die tyd is die bestuurder Jadé Pretorius en sy assistent-bestuurder Heike-Liza Liebenberg in beheer.

“Ons delegeer en vertrou die bestuurders. Hulle is deel van die familie en het vrye teuels om nuwe inisiatiewe en projekte van stapel te stuur. So gaan hulle nou met ’n stoomkamer begin,” beduie Paul. “En hulle beplan ’n roomysstalletjie vir die somermaande en ’n ‘high tea’ in die gazebo.”

‘’n Mengsel van oud en modern – om in almal se smaak te val; nie te modern nie en ons wil ook nie besoekers oorweldig met te veel oudhede nie.’

Op en wakker!

“Ons het dit oorweeg om ’n gastehuis in die Paarl oop te maak, maar is baie gelukkig met hierdie een.”

Anneke het vele belangstellings en waag haar hand graag aan allerlei projekte, van kuns tot motorsport. Paul beaam sy vrou se vasbeslotenheid en ywer: “Sy besluit om iets aan te pak en doen dit dan op die daad.”

“Ek besoek graag die teater en is baie lief vir mense en praat met almal,” skerts sy met oorgawe. “Ons is ’n hegte, liefdevolle familie.

Anneke se passie vir stambome het gelei tot die ontdekking dat Adam Tas een van haar stamvaders was. Haar oeroupa, die eerste eienaar van La Motte, ene Hans Jacob Hattingh het haar geïnspireer om verder in die geskiedenis te delf.

Die immer aktiewe egpaar is versot op reis en het al die ganse land en wêreld deurkruis: Alaska, Rusland, die VSA, Australië, Nieu-Seeland, Hong Kong, Viëtnam, Singapoer, elke land in Europa. “Ons wil graag nog deur die suide van Frankryk gaan stap. Verder is ons versot op motorsport en reis wyd om gereeld ’n F1-motorresies by te woon.

“Ons besef nie hoe geseënd ons in Suid-Afrika is nie. In Kambodja het ons soveel arm mense gesien wat net fietse besit, maar hulle lag en lyk stralend gelukkig.”

Anneke is ’n optimis wat vriend en familielid inspireer. Haar raad aan werkslawe: “Maak los! Die horlosie moenie jou baas wees nie.”

Ons groet en die wakker Delports klouter alweer in hul voertuig want vandag is hulle op pad na Kwazulu-Natal vir ’n kuiertjie by die see.

Besoek http://www.artloversguesthouse.co.za/ of skakel tel 056 817 6515.

2018-06-30T08:42:51+00:00