Geloof het ‘n adres

Kiekie van ‘n gesin

Deur Riëtte Grobler | Foto’s Marleen Nel

Op die nommer 2 by die voordeur by Marleen en Carel Nel se huis staan “Jesus is die weg”. Met hierdie rigsnoer navigeer dié jong ouers saam die lewe se uitdagings en vreugdes.

“Mamma, kóm?” Die klein seuntjie met die bos bruin hare en sagte oë kyk vraend na sy ma, die fotograaf Marleen Nel, waar sy in die mooi sitkamer van haar en haar man Carel se huis in Pretoria sit. “Ek kom nou-nou, my man,” beloof Marleen liefderyk. “Ek praat net gou met die tannie.”

Klein Iver (2) hang aan Carel, ʼn kinematograaf, se heup en strek sy armpies uit – ongeduldig, soos net ʼn tweejarige kan, totdat sy ma se hart dit oplaas nie kan hou nie en sy opstaan om hom te gaan borsvoed. Onderbrekings soos die bring Marleen nie van stryk nie, want nes sy die middelpunt van dié klein mensie se bestaan is, is hý (en sy pa) haar hart se punt.

Marleen en Carel bedryf hul onderskeie besighede, Stroopsoet Fotografie en 1988 Films van die huis af en buiten vir ’n kreatiewe vennootskap, is gehalte-gesinstyd ʼn uitvloeisel van hul tuiskantoor. Wanneer Ma en Pa oor naweke troues afneem, gaan klein Iver saam. Marleen en Carel dra nie trouringe nie, maar die tatoeëermerk op Carel se ringvinger som hul verhouding op, sê Marleen: “Dit is drie strepies ondermekaar. Die boonste strepie verteenwoordig die Here, die tweede strepie ons huwelik en die derde strepie is Iver.” Hierdie dinamiek laat hul gesin floreer, glo Marleen, wat ʼn klein hartjie-tatoe op háár ringvinger dra. “Ek is so bevoorreg om met Carel getroud te wees en dit is asof die Here my dit sterk op die hart lê dat ons twee bymekaar is om ʼn verskil te maak.”

Mekaar se laste

Sy en Carel, wat mekaar sedert hul hoërskooldae ken, maar eers na skool verlief geraak het, is in 2014 getroud. Die troue was onkonvensioneel en opreg – ʼn viering van hul liefde en ʼn betoog teen die fieterjasies wat die ware betekenis van ʼn troudag kan oorskadu.

“As troufotograaf is my aanslag om oomblikke vas te vang, nie om dit te vervals nie. Dit is so ʼn voorreg om die bruid voor enigiemand anders te sien en dit is kosbaar wanneer ʼn bruidspaar saam voor die kansel staan. Maar dit is nie lekker om te sien as daar geen spark tussen mense nie. Ek het dit ongelukkig al een of twee keer beleef. Omdat ons so baie troues afneem, het ons geweet wat ons nié op ons troudag wil hê nie,” sê Marleen. “Daar is niks fout met ʼn mooi troue nie, maar paartjies raak vasgevang in die blomme en die rok en vergeet waaroor ʼn huweliksbevestiging gaan. Ek en Carel wou ʼn mooi huwelik, eerder as ʼn mooi troue hê.”

Marleen gebruik haar platform as troufotograaf om mense te laat nadink oor waarom hulle saam voor die kansel wil staan en in inskrywings op Stroopsoet se Facebook-blad motiveer sy paartjies om hul harte én verhouding te ondersoek voordat hulle die ja-woord te gee. Marleen en Carel het al baie huweliksbevestigings deur hul lense waargeneem en hulle wou nie sommer enigiemand vra om hulle in die eg te verbind nie. Die persoonlike boodskap van ʼn pastoor by een van die troues wat hulle afgeneem het, het by hulle aanklank gevind. Hulle het dieselfde pastoor, Carlos Coveiro, genader om hulle op ’n Maandagmiddag in die middestad van Johannesburg, met McDonald’s Happy Meals op die spyskaart, te trou. “Die tema van sy preek was ‘Snapshots’ en het so mooi by ons twee gepas,” sê Marleen. Carel onthou die preek goed: “Dit het oor verskillende oomblikke in ʼn verhouding gegaan. Daar is tye van vreugde en hartseer en daardie tye bring mense bymekaar. ʼn Mens leer saam deur swaarkry.”

ʼn Lang lewe
Bevestiging van dié boodskap is volop sedert hul getroud is.As kreatiewe siele wat vir hulself werk, was daar al dikwels maande wat ʼn leë bankrekening hulle benoud gemaak het. “Maar die Here voorsien altyd en ek glo dit is omdat ons ons passie uitleef,” sê Marleen. “Ek wou nog altyd ʼn kamera hê, want om foto’s te neem bring vir my kitsgeluk.”

Die getuienis van ʼn Hollandse fotograaf by hul kerk het Carel destyds laat besluit om sy studies as chiropraktisyn te laat vaar en ʼn loopbaan as fotograaf na te jaag. Omdat hy en Marleen saam van die huis af werk, deel hulle in alle opsigte mekaar se laste en is Carel ʼn baie betrokke pa. Dit was veral Marleen se swangerskap, skaars ʼn jaar nadat hulle getroud is, wat hulle deur diep water laat gaan het. “Ek het met my swangerskap geleer swaarkry kweek volharding en dat die Here jou in omstandighede plaas sodat jy daaruit kan leer,” sê Marleen. “Ons het geweet ons kan net op ons knieë deur my swangerskap kom.”

Marleen was onverwags swanger en opgewonde dat God op Sy perfekte tyd besluit het om ʼn klein lewetjie in haar te laat ontwaak. “Maar my swangerskap was rof…” Sy moes die naweek twee troues afneem toe komplikasies op 19 weke intree. Haar dokter het aanbeveel sy vat dit rustig en een van die troues het sy so sit-sit afgeneem. “Ons was veronderstel om die volgende dag Lydenburg toe te gaan vir ʼn troue, maar ek het gebid vir ʼn teken of ek moes gaan. Nadat ek weer bloeding ervaar het, het ek die bruid in trane laat weet ek kan nie kom nie. Sy het soveel begrip gehad.” Hierna het weke van bedrus en angswekkende ervarings gevolg, soos ʼn noodoperasie, waartydens Marleen se serviks toegewerk moes word om te keer dat klein Iver sy opwagting te vroeg maak. Die ervaring het Marleen angstig gemaak, maar ʼn gesprek met ʼn vrou wat in dieselfde meenthuiskompleks as hulle gewoon het, was ʼn keerpunt.

“Ek glo God gebruik dikwels humor om met my te praat. Ek het moedeloos gevoel oor hoe siek ek was, toe dié tannie in ʼn pers sweetpak na haar Christelike hip-hop-klas met my begin gesels,” onthou Marleen laggend. “Ek het haar vertel wat besig was om te gebeur en sy het vir my gesê om dadelik Psalm 91 te gaan lees.” Marleen het die Psalm oor en oor gelees en veral gevoel die laaste is vir haar seuntjie bedoel: “ ‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm … ʼn Baie lang lewe sal Ek hom gee…” Marleen sê: “Ek het die gedeelte in pienk onderstreep in my Bybel en ek was onmiddellik rustig, ten spyte van wat die duiwel probeer doen het. Die versie het deur die loop van my swangerskap by my gebly, selfs toe ek in pyn en beangs was.” Carel sê Marleen het ʼn aanvoeling om te luister en antwoorde te kry en sal ʼn aanhaling op Pinterest, of selfs iets wat sy toevallig iewers raaklees haar help om die Here se Stem te hoor. “Ek leer by haar om meer intuïtief te wees,” sê hy. Marleen voeg by: “As jy voel jy praat met die Here, maar jy weet nie hoe om Sy Stem te hoor nie, moet jy Hom vra hóé Hy met jou kan praat. In my geval is dit deur aanhalings.” By Carel leer Marleen om op ʼn kinderlike manier te glo. “Ek kan dinge oorkompliseer, maar Carel herinner my ek hoef net in geloof te volhard.”

Binne-in hul harte

Klein Iver leer sy ouers meer van God se liefde as hulle vir hom, sê Marleen en luister ʼn mens so na hul storie, verstaan jy waarom. “Ek het geglo dinge sou beter gaan na Iver se geboorte, maar dit was selfs nog moeiliker,” sê sy. “Dit was asof die duiwel my wou laat glo dis alles my skuld.” Iver het met geboorte vrugwater gesluk en was ʼn week in die neonatale-hoësorgeenheid; hy het gesukkel met refluks; borsvoeding was aanvanklik moeilik en ʼn tongknoop en asemhalingsprobleem het daartoe bygedra dat hy teen een jaar skaars vaste kos kon eet. Iets goed het telkens uit die slegte gekom. “Op 11 weke het ek met hom hospitaal toe gejaag omdat ek gedink het Iver het diarree. Dit was toe net borsvoedingsdoeke … maar die suster wat aan diens was in die hospitaal het my eindelik gehelp om borsvoeding onder die knie te kry. Ek glo dit is hoe die Here werk”.  Sy het na sy geboorte met depressie gesukkel, maar borsvoeding het haar daardeur gedra en vir ʼn sterk band met haar seuntjie gesorg. Iver sukkel nog met vaste kos en Marleen borsvoed hom steeds.

Stroopsoet Fotografie was die ideale platform om ʼn bemagtigende boodskap oor borsvoeding oor te dra. Daarom het Marleen onlangs ʼn pragtige foto geneem van ʼn groep ma’s wat borsvoed – trots en uitdagend. “Die duiwel is die heeltyd besig met sy vurkie … hy wil nie hê daar moet ʼn band tussen ʼn ma en kind wees nie. Ek ervaar baie kritiek omdat ek nog my tweejarige borsvoed, maar dit het sy lewe gered.” Sy wil haar kind grootmaak om in dankbaarheid te leef en so klein soos hy is, lei sy hom reeds in gebed. “Dit is vir my belangrik om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ek sal Iver van kleins af leer hoe die Here hom deur en deur ʼn kans gegee het, toe sy kanse so min was. “Ons wil hom leer God ag hom belangrik genoeg om deel van hom te wees en binne-in sy hartjie te woon.” Carel onthou hoe Marleen op ʼn keer, toe dinge te veel geword het, vir hom gesê het dit voel vir haar asof Iver net by haar vat en vat. “Toe antwoord ek dat dit is omdat sy so baie het om te gee.” ʼn Aanhaling wat vir Marleen betekenisvol is, lui dat jou grootste bydrae tot die samelewing nie noodwendig iets is wat jy doen nie, maar iemand is wat jy grootmaak. Sy gryp dit aan. “Ek wens só alle ma’s hoor dit en wéét dit. As ouers is ons Iver se innerlike stem en daarom probeer ons God se voorbeeld volg.”

Volwasse perspektief beteken Marleen en Carel put boonop opnuut krag uit elke bekende Bybelverhaal en kinderlike gebed. Met klein Iver wat in die truspieëltjie vir dié “tannie” wat so sy ma se tyd opgeëis het waai, weet ek: geloof lééf by dié adres.

* Besoek www.stroopsoet.co.za om na Marleen se foto’s te kyk en gaan na http://nomorebluemondays.blogspot.com om meer van haar troue en swangerskap te lees.

2018-06-30T12:23:28+00:00