Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

“Met kinders kan ’n mens nooit seker wees nie,” het my ouma dikwels gesê. “Hulle verras jou op ongewone tye en ongewone maniere.”

Soms knikker ’n kleuter jou uit met ’n ongewone sêding. Soms veroorsaak hy ’n verleentheid in die openbaar. Ander kere weet ’n ouer nie of ’n kind krediet moet kry vir inisiatief, en of hy eerder gestraf moet word nie. Ouers het wysheid nodig om op hul voete te kan dink en die groter prentjie raak te sien. ’n Oënskynlike woede-uitbarsting oor ’n klein dingetjie mag dalk die uiting van frustrasie wat oor ’n lang tyd opgebou het, wees.

Die knaende tergery van ’n kleiner boetie of sussie mag dalk ’n manier wees om aandag te soek. ’n Onwilligheid om skool of kerk toe te gaan, het waarskynlik ’n dieperliggende oorsaak. Dalk word die kleinding afgeknou. Dalk is hy of sy bang vir die betrokke gesagsfiguur. Of dalk was die kwartaal maar net te lank en is al die reserwes uitgeput. ’n Ma moet met oop oë- en ore leef. Haar antennas moet ingestel wees op haar kinders se binne- en buite-wêrelde. Sonder om óórbesorg of angstig te wees, moet sy kan aanvoel wanneer iets besig is om die ewewig in haar gesin of ’n bepaalde kind te versteur. Sy mag nie oorreageer nie. Sy mag egter ook nie passief toekyk hoe haar kind fouteer, of afgebreek word nie.

Die uitdrukking: “Buig die boompie terwyl hy nog jonk is”, word soms verkeerdelik nét geïnterpreteer as dat die kind kleintyd getug moet word totdat hy in sy spoor trap. Dis veel eerder ’n geval dat hy liefdevol gerig en gelei moet word, sodat hy sal leer om tussen reg en verkeerd en billik en onbillik te onderskei.

Maar ouer wees is ’n proses, en die antwoorde is nie altyd klinkklaar uitgestippel nie.

Dikwels moet ’n ouer eerder die beginsel as die bepaalde saak aanspreek. Maar ouer wees is ’n proses, en die antwoorde is nie altyd klinkklaar uitgestippel nie.

Een Maandagoggend is een van ons seuns besonder vroeg reg vir skool. Sy ontbyt is geëet, sy bed opgemaak, sy rugsak gepak. Dan maar op my fiets klim en skool toe ry, besluit hy. Die kortste pad na die fietsloods is deur Pa se studeerkamer; van daar deur ’n ouer broer se kamer en dan af met die trappe na buite. Toe Boeta sy universiteitsbroer se bed met sagte duvet en pofkussings sien, is die versoeking net te groot. Hy gooi sy sak van sy skouer af en kruip onder die duvet in … Toe hy teen halfelf wakker skrik, loop hy hom tromp-op vas in Pa wat onverwags tuis kom werk het. “Kom ek gaan maak vir ons tee,” sê Pa onverstoord nadat hy die storie aangehoor het, “dis nou te laat om skool toe te gaan.”

Onlangs herroep Boeta – nou ’n man van dertig jaar – die insident … “So iets gebeur net een keer in ’n kind se lewe. Jy hoef hom nie daarvoor te straf nie.” “Ja,” sê Pa, “dit was ’n goeie oggend saam met jou.”

Here, lei ons as ouers asseblief hoe om in onbekende situasies op te tree. Ons weet nie altyd wat die regte ding is om te doen nie. Skenk ons U wysheid. Amen

2018-06-30T09:43:24+00:00