“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Johannes 10:10

Die boodskap wat ons dikwels in kerke hoor is dat hierdie lewe maar net ’n voorbereiding is vir die ewigheid, dat die ewige lewe die eíntlike lewe is! In hierdie lewe moet ons veral die regte keuses maak om vir ewig by God te wees. Dis natuurlik waar dat ons na ’n ewigheid by God uitsien, maar – om eerlik te wees – die Skrif lê nie die klem soos hierbo nie. Glad nie! Die Skrif se fokus is sterk op híérdie lewe, op vandag – nie net die eendag nie. Die Ou Testament gaan uit en uit oor God se wil vir híérdie lewe. Jesus bou daarop voort: God se koninkryk moet kom in híérdie lewe, op die maniere wat Hy ons leer. Hy sê die lewe met God is die wáre lewe, die oorvloedslewe! So ’n lewe is vir ewig, dit vloei onophoudelik, want dit kom van God af. Selfs as Hy terugkom na híérdie aarde en alles hier nuut maak, sal die goddelike lewe aanhou en aanhou. Dis wat “ewige lewe” beteken.

Nee, die doel van die lewe is beslis nie net voorbereiding nie, maar God se verheerliking deur ’n volle en ryk lewe, in Sy wil. Die Here wil hê dat ons – ek en jy – sal besluit om te LEWE! Hy maak híérdie lewe die moeite werd! Wens jy soms dat Hy maar moet kom, sodat jy kan aanbeweeg? Dis dalk verstaanbaar, maar tot dan wil Hy hê dat jy híérdie lewe voluit sal leef, met Hóm sal leef! Tot dan moet jy nog liefhê.

Gebed

Here, ek kies om te LEEF!

Aanhaling

Mag jy al die dae van jou lewe lééf! Jonathan Swift

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings. Foto geneem deur Alta Dusse.

2018-06-30T12:19:49+00:00