Hartstog

24 uur in Istanboel

Deur Christine Coetzee | Foto’s Christine Coetzee, Nerina van Zyl & Ben Kunz

’n Dag in dié historiese Turkse stad, met sy ryk geskiedenis, laat jou met ’n leeftyd se kleurvolle en soet herinneringe.

Enige gesoute reisiger wat al voet op Turkse bodem gesit het, sal weet dat jy hierdie imposante stad ’n onreg aandoen deur slegs ’n skamele 24 uur daaraan toe te eien. Maar Nerina (my vriendin en medereisiger) het voorgestel dat ons, ons skakelvlug op pad terug van Israel af met ’n dag uitstel en die historiese stad, met sy ryk geskiedenis vinnig verken. Min het ons geweet hoeveel avontuur, kultuur, tee en “Turkish Delight” ons in een eetmaal sou kon inpas.

Sommer so met die afklimslag besef ek dat hierdie stad se hart teen ’n vinnige ritme klop. Dit is eenuur die oggend en die strate krioel nog met voete. Daar is ’n gesellige dreuning van stemme op die sypaadjie voor die sardientjie-ingerygde restaurante. Af en toe vang jou neus die soet reuk van ’n hubbly.

In die huurmotor, op pad van Ataturk-lughawe af, het ons so ewe beplan hoe ons onmiddellik gaan slaap sodra ons by die hotel aankom, sodat ons genoeg energie kan hê om die druppeltjie tyd tot ons beskikking die volgende dag tot die maksimum te kan benut. Daardie rigiede meesterplan het saam met die moegheid soos mis voor die son verdwyn toe ’n breë Turkse glimlag ’n glas stomende appeltee in ons hand druk en na die dakterras beduie.

Op die dak loop ons onsself vas in ’n bejaarde, Kanadese paartjie wat in salige, stilte na die hemelruim staar en net af en toe ’n geluid maak om erkenning te gee dat beide nog wakker is en in die lekkerte deel. Ek is so byna versigtig om nie die saligheid te versteur nie, maar toe die oom ons gewaar, nooi hy ons nader en deel vrygewig die uitsig. In die verte kan ons die poskaartbekende Blou Moskee se skerppunt minarette fier sien staan.

Die stilte word langsamerhand gevul met ’n woord hier en daar, ’n versigtige uitvra na mekaar en stadig maar seker gaan dit oor na ’n volwaardige middernagfees. Ons beleef Istanboel deur hulle oë en kry al die kortpaaie na die beste kopies. Ons gesels oor die wêreld en sy dinge, ons wonder oor die toekoms en ons deel van ons eie stories. Vir ’n oomblik, in die middel van die nag, raak ons harte aan mekaar en voel vreemdelinge soos jarelange vriende. Dit is oomblikke soos hierdie wat ’n reis sy sout werd maak, want ek reis nie net om nuwe lande te sien en beleef nie, maar om nuwe plekke binne myself te ontdek en die nasies aan my vel te voel. In daardie oomblik, bo-op ’n dakterras in Istanboel, het ook Kanada wortel in my hart kom skiet.

‘Ons het ’n vae idee van wat ons alles wil sien, maar besluit om te stap waar ons voete lei en te stop as die oomblik dit van ons vra.’

Baie om te doen!

Douvoordag skree die wekker op my. Met skuurpapier agter my ooglede en lood in my lyf skuifel ek na die plek waar ons moet eet. ’n Mediterreense feesmaal wag ons in en die tafel kreun onder ’n verskeidenheid kase, olywe, eiers, sucuk (sterk speserywors) en room, maar al waaraan ek kan dink is ’n koppie boeretroos om die moegheid te verdryf. Die kelner moes my misnoeë van ’n afstand af bespeur het, want terwyl ek op my stoel neerplons vra hy of hy maar vir my ’n bietjie granaatsap kan bring. As ’n kind van die Karoo is granate nie vir my ’n vreemde ding nie, maar om te sien hoe dit hier reg langs my, met die hand gepers word, was vir my ’n eerste en ’n diepe bederf. Soos wat ek dit drink voel dit asof die robynrooi sap van die antieke vrug die lamheid van my afwas en slukkie vir slukkie begin die avontuurlus vir hierdie dag in my ontwaak.

Ek en Nerina pak die strate sommer so op gevoel aan, aangesien ons die vorige nag ’n goeie idee gekry het van waar die belangrikste punte lê. Ons het ’n vae idee van wat ons alles wil sien, maar besluit om te stap waar ons voete lei en te stop as die oomblik dit van ons vra. Die paadjie lei sommer reguit na die argitektoniese juweel van die Hagia Sophia. Die eertydse kerk wat later ’n moskeebaadjie aangetrek het, is anders as wat ek dit in my geestesoog voorgestel het. Hoewel dit presies lyk soos die prentjies in my reisboek, is die gevoel wat daaraan hang voller, ryker. Selfs my leke-oog kan die boustyl herken en die fyn detail waardeer. Alles in my wil om en om en nog ’n keer om stap om dit van alle kante af te bekyk, maar ek besef dat daardie luuksheid slegs vir ’n opvolgbesoek beskore sal wees, want ons dag is kort en die Blou Moskee soek ook sy oomblik in die kollig. Terwyl ons daarheen stap vlieg die duiwe in flardes rondom ons op, so asof hulle met ’n erewag vir ons die pad na die ou reus, aan die anderkant van die plein wil wys. Hoewel ek nie spesifiek sentimentele waarde aan moskees heg nie, moet ek erken dat die gebou ’n statigheid het wat eerbied eis. Met die naderkom begin ons voete vanself stadiger loop en ons stemme sagter gesels, want al is dit die heilige plek van ’n ander geloof as myne, kan my wese nie die mooi van aanbidding en iets groters as myself ontken nie.

Teen laatoggend besluit ons om die effense honger wat kop begin uitsteek te stil met vars gebraaide kastaiings wat ons sommer by een van die waentjies langs die Bosphorus koop. Wat ’n teleurstelling, want al maak die waentjies met sy rondelyfneute die mooiste prentjie voor die wyeblou van die kanaal, verander dit geensins die oninteressante smaak van die kastaiings nie. Gelukkig kan ons die melerige droogheid met ’n koppie Turkse tee afspoel. Al het Turkye ’n lang geskiedenis as dit kom by koffie, is dit die Turkse tee wat buitestaanders met ope arms na die binnekring van hierdie land nooi. Hier beteken teetyd, ’n vergestalting van vrede en gasvryheid. Dit is oor ’n glasie tee wat vriendskappe gesmee, pryse beding en stories gedeel word. Die tee word in klein glasies bedien en dit is etiket om die pikante, tulplyfie net liggies aan die bo-punt vas te hou. Ek was salig onbewus van die ongeskrewe reël, maar ek weet ook nie hoe anders mens dit sou doen nie, want sonder om te waarsku word die kokende boepensie in jou hand gedruk en skielik word daai dun randjie aan die bopunt van die glas jou enigste wegkomkans van pyn.

‘Ons tydsberekening is goed en teen middagete stap ons die Grand Bazaar binne. Die plek is ’n mengelmoes van kleur, klank en aromas.’

’n Mengelmoes van kleur

Ons tydsberekening is goed en teen middagete stap ons die Grand Bazaar binne. Die plek is ’n mengelmoes van kleur, klank en aromas. Dit dreun en druis en die oënskynlike deurmekaarspul is intimiderend. Gelukkig word ons vinnig deur ’n verkoopsman uit die hoofstroom gelok. Hoewel ons beslis is oor die feit dat ons niks gaan koop nie, bied hy steeds vir ons tee aan en kry ons ’n oomblik om net eers ons ewewig te vind in hierdie kleurryke doolhof. Ons waardeer die leer, voel aan die lappe en proe by elke stalletjie aan Turkse lekkergoed. Stadig maar seker begin ons die ritme vind en sien ons die humor en speelsheid van die Turke raak. By een van die serpstalletjies noem die assistent so terloops dat dit sy verjaarsdag is. Beide ek en Nerina wens hom hartlik geluk en hy dring daarop aan dat hy geregtig is op ’n dans vir sy verjaarsdag. Net daar in die kleine serpwinkeltjie maak ons albei om die beurt ’n draai saam met hom en met die uitstap sê hy met ’n knipoog, dat hy graag verjaar wanneer hy wil dans.

Ons het die Grand Bazaar aanvanklik versigtig ingestap, want ons is vooraf, vanuit verskeie oorde, gewaarsku teen die slinkse sjarme van die Turke. My ervaring van hierdie nasie was egter verrassend anders. Sjarmant? Ja, miskien. Veral as daar ’n paar blou-oë of ’n blonde dos by betrokke is. Glad met die mond en slim met woorde, as dit by die verkoop van hulle goedere kom, maar nie slinks en onderduims nie. Met my reise het ek al vele kere gekul en ingeloop gevoel. In Marokko het ’n matverkoper my met ’n slap riem gevang, in Israel is die geskiedenisfeite verdraai vir wins en in Indië het ek die uitbuit van my onkunde eers ’n paar dae later besef. Maar die matverkoper in Istanboel het vooraf eerlik sy prys gemaak. Hy het ons, soos met elke ander toeris, ingelok met sy sjarme, welkom laat voel met sy appeltee en vernuftig sy verkoopstegniek ten toon gestel. Hy moes vanuit die staanspoor kon sien dat ons nie sy tapyte kan bekostig nie en nie beplan om een te koop nie en tog het hy nie moeite ontsien of ons van die kulturele ervaring ontneem nie. Hy was soos ’n kunstenaar wat met sy woorde oor ons geverf het en jou wrintiewaar, met ’n kelim en kussing daar laat uitstap het. Daar is ’n verskil tussen slinks en eenvoudige briljante verkoopsvernuf.

Teen laatmiddag herinner die bidroep van die moskees ons dat ons dag in hierdie ryk, kleurvolle stad, met sy eksotiese aromas, einde se kant toe staan en dat ons eintlik alreeds ’n volporsie van die dag kon proe. Terwyl ons op pad terug weer al langs die Bosphorus af drentel wonder ons oor hierdie land en sy mense. ’n Tannie in haar herfsjare hengel van die brug af en ’n gryskop omie verkoop sy vis langs die straat. Op beide se gesigte is daar ’n tevredenheid met kreukels wat van langjare se leef vertel. Die lug raak triestig en die koelte wat saam met die aandskemer op ons begin neersak dryf ons na die naaste restaurantjie. Die aandete is verruklik en sit die finale stempel van goedkeuring op dié cuisine. Na ete koes-draf ons in die ligte reëntjie wat tydens ete begin uitsak het, terug na ons hotel toe. Al moes ons die oggend 10:00 die hotel verlaat, het die hotel in eg Turkse jovialiteit aangebied dat ons maar ons bagasie daar kan los en sommer gou kan stort voordat ons weer teen middernag die tog lughawe toe aanpak. Hulle maak die hamam vir ons beskikbaar en vir oulaas verlustig ons onsself in die fyn mosaiekwerk van ’n Turkse badkamer.

Eenuur daardie oggend sak ek moeg en voetseer op my sitplek in die vliegtuig neer. Met ’n glimlag en die soet herinnering van appeltee op my lippe, is ek tevrede in die wete dat ons elke greintjie goud van hierdie 24 uur ontgin het.

2018-06-30T09:43:35+00:00