Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Dis altyd makliker om goeie verhoudings te blý leef as om agterna te probeer “regmaak”. Dis gewoonlik ook lekkerder!

ʼn Mens kan in een oomblik so droogmaak dat dit jou ure, dae … jare neem om weer ʼn verhouding te herstel, vertroue te bou of ʼn band van liefde te smee. Ons weet dit, en tog faal ons so maklik in die manier hoe ons mekaar hanteer; in die sagtheid waarmee ons leef; in ons geloofwaardigheid, want ons is mos ménse. Mense wat inherent selfgerig is, dikwels net ons eie prentjies raaksien en nie altyd begrip vir ander het nie.

Die waarheid is dat ons Here mos juis gekom het vir mense wat sukkel om die regte woorde en dade in hul storieboeke te skryf. Vir mense soos ek en jy wat met die beste intensies in die wêreld steeds onvanpas, onbillik of ongenaakbaar teenoor ander kan leef. Hy het ons nie net gemaak en laat staan nie. Hy is elke dag besig om ons te skep. En te herskep. Te vorm en te omvorm. Te leer. Ons hand te neem en ons te help om in reguit lyne te skryf.

Miskien moet ek en jy daarom juis tyd spandeer om by die Woord te kuier, maar ook in die oë te kyk van die Man wat die Woord ís. En dan te oefen om meer soos Hy te wees, te dink, te praat. Te doen.

Die wonder is dat droogmaakmense nie alleen hoef te probeer nie, omdat die rigsnoere van die Woord en die Gees onuitwisbaar in ons harte is. Ons moet dit maar net meer gereeld soek … en volg. Dis immers altyd makliker … en lekkerder om in en deur Hom saam met ander te leef.

Wysheid-graveerder
Dis niks lekker om
reg te maak as ek verbrou het nie.
Om verskoning te vra
as ek onvanpas was nie.
Daarom, Here, wil ek vra:
Doop asseblief myself in u
inkpot van wysheid.
Kleur my binnekant met U-self
sodat ek,
ongeag en ten spyte van myself,
woorde en dade van liefde
op ander sal graveer.
Want Here,
ek wil nie in my verhoudings
verbrou nie.
Dit bring immers net
’n seer berou.

Woorde vanuit die Woord

ʼn Mens kan nogal verstaan waarom die wyse Salomo soveel lewenswaarhede kon skryf. Hy het immers met ʼn hele klompie vroue saamgeleef. Tot vandag kan ons so baie uit sy Spreuke oor die lewe – veral verhoudings – leer. Lees ek dit, vind ek keer op keer ’n stuk waarheid wat my weer laat onthou dat wysheid op ’n diep verhouding met die Gees gebou is. Dié Een wat my, wanneer my hart oop is, sal vul met onderskeidingsvermoë, die regte perspektief, ’n sin vir regverdigheid, reg en billikheid en natuurlik goddelike vergifnisliefde.

Kom ons doop elke nuwe môre die punt van ons harte in die inkpot van die Woord en laat toe dat die Gees ons verhoudingslyne skryf. Dis immers makliker as om gebrokenheid later te probeer uitvee.

Boodskap: “Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak.” Spreuke 2:10
2018-05-31T22:42:32+00:00