‘n Kwessie van geloof

Om te vergewe

Deur Mark Woods | Foto Hanneri de Wet

Die Bybelse opdrag van vergifnis is baie moeiliker as wat ons dink, maar opregte vergifnis kan bevry en seën.

Op 7 Julie 2005 het vier Islamitiese ekstremiste bomme laat afgaan op drie Londense moltreine en ’n dubbeldekkerbus in Tavistock-plein. Dit was die heel eerste selfmoordaanvalle wat nog ooit in Engeland plaasgevind het en is twee weke later deur ’n reeks ander mislukte pogings opgevolg.

In die 7/7-aanvalle is 52 mense dood en meer as 700 beseer. Een van die oorledenes was Jenny Nicholson, 24, wat Engels en musiek aan Reading-universiteit studeer het. Sy was van plan om met haar sielsgenoot, James White, te trou, ’n PhD te doen en ’n ma te word. Haar eie ma, Julie, was ’n Anglikaanse priester in Bristol. Sy het nege maande later uit haar amp bedank en in ’n BBC-onderhoud gesê: “Dit is vir my baie moeilik om agter ’n altaar te staan en die eucharistie, die Nagmaal, te vier en mense met woorde van vrede en versoening en vergifnis te lei terwyl ekself baie ver daarvan af voel.”

Sy het sedertdien in die memoir A Song for Jenny oor haar ervaring geskryf, en dit is ook as ’n roerende BBC-drama verfilm. Sy het by ’n BAFTA-vertoning van die film gesê: “Ek kan nie voorgee dat ek vergifnis in my hart het vir die persoon wat my dogter se lewe geneem het nie. Ek voel nie dit is my reg en voorreg om vergifnis aan te bied nie. Die enigste persoon wat dit kan doen, is my dogter, en sy is nie hier nie.

“Al wat ons kan doen, is om ons oë oop te maak en na die wêreld te kyk en menslikheid met menslikheid te ontmoet. Ek moes hard aan myself werk om nie te haat nie en ek is baie eerlik oor daardie stryd, maar ek krap myself nie om deur aan vergifnis te dink nie.”

Nicholson se smart was diep, maar so ook haar eerlikheid. Sy het dieper tot in die aard van vergifnis gesien as wat baie Christene doen, en erken dat sy dit nie kan hanteer nie. En tog, alhoewel baie mense dalk op daardie tydstip simpatiek teenoor haar was, is daar geen twyfel dat haar bedanking en berusting vir baie Christene ’n tipe neerlaag was nie. Vergifnis is immers wat ons doen. Die meeste Christene bid elke Sondag: “Vergewe ons ons sondes, net soos ons dié wat teen ons gesondig het, vergewe,” of ’n variant daarop.

In die hart van die evangelie

Ek wonder egter hoe dikwels ons stil raak en dink oor wat ons sê. Ek wonder of ons werklik verstaan wat vergifnis beteken. Ek dink dit is ’n woord wat dikwels geuiter word sonder ’n ware begrip van die krag daarvan – en die gevaar.

Die Bybel vertaal meer as een Hebreeuse en Griekse woord as “vergewe”. Hebreeuse woorde kan egter die betekenis hê van “bedek”, “stuur weg” of “laat gaan”. Griekse woorde kan die betekenis inhou van “wees genadig teenoor”, “vrylaat” of “stuur weg”. Die Ou Engelse wortel van die woord “forgive” het die letterlike betekenis van “gee volkome” of “gee op”.

Vergifnis is diep in die strukture van die Christelike geloof ingebou. Vergifnis is ’n manier om die gevoelens te hanteer wat ons as gevolg van verraad beleef en wat geestelik onnatuurlik is. As ons egter nie kan vergewe nie, is ons skaars Christene.

Vergifnis lê aan die hart van die Evangelie. Hier is ’n paar dinge wat die Nuwe Testament daaroor sê:

As julle ander vergewe, sal julle vergewe word (Lukas 6:37).

Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het (Efesiërs 4:32).

As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie (Matteus 6:14-15).

Petrus vra Hom: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?”

“Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!” (Matteus 18:21-22).

Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.” Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom (Romeine 12:19, 21).

Maar wat is vergifnis? Hoe bereik ons daardie punt? Hier is ’n paar dinge wat dit nie is nie:

Dit beteken nie jy moet vriende word met die persoon wat jou kwaad aangedoen het nie.

Dit beteken nie verkeerde dade en optrede word geïgnoreer of kwytgeskeld nie.

Dit beteken nie gevoelens van woede en bitterheid verdwyn wonderbaarlik nie.

Dit beteken nie jy vertrou iemand weer soos jy hulle voorheen vertrou het nie.

Dit beteken nie jy sal nie weer seerkry nie.

Versoening kan nie sonder vergifnis plaasvind nie, maar daar kan vergifnis sonder versoening wees.

Vergifnis beteken nie vriendskap nie

As iemand ons diep seergemaak of beledig het, kan ons in staat wees om hulle te vergewe. In ’n kerklike konteks kan dit beteken dat ons saam met hulle Nagmaal vier. Kommunikasie kan hervestig word. Indien ons voorheen vriende was, kan daardie vriendskap dalk opnuut groei. Omdat God genadig is, kan vyande dalk dinge in mekaar vind wat hulle bewonder en selfs van hou. Tog kan dinge dalk nie so uitwerk nie en ons het nodig om te hoor dat dit oukei is.

Maar vergifnis en versoening is nie dieselfde nie. Versoening kan nie sonder vergifnis plaasvind nie, maar daar kan vergifnis sonder versoening wees. Dit is die verskil tussen ’n handdruk en ’n drukkie. Soms is ’n handdruk al wat nodig is en eerlikwaar ook al wat ons kan aanbied.

Vergifnis beteken nie om verkeerdhede te ignoreer nie

In die verkeerde hande kan die leerstelling van vergifnis ’n dodelike wapen wees wat boosdoeners nie net toelaat om die gevolge van hulle dade vry te spring nie, maar om selfs meer skade aan te rig. In my werk as joernalis het ek voorbeelde gesien van Christelike organisasies waar daar ernstige aantygings voor bestuurders gebring is oor die gedrag van senior werknemers. In plaas daarvan dat daar na die aanklaers geluister is, is hulle aangespoor om die persoon te “vergewe” wat hulle seergemaak het, dikwels met die implikasie dat die organisasie vir wie hulle werk se werk skade sal ly indien hulle hul klagte deurvoer.

Persoonlike verhoudings is nog ’n area waar vergifnis met sorg hanteer moet word. Dit is maklik om gevalle te kry van vroue wat aan fisieke en emosionele mishandeling onderwerp is, en wat deur goedgesinde maar gevaarlik oningeligte leraars aangespoor word om hulle aanvaller te “vergewe”. Beide mans en vroue kan godsdienstige taal tot hulle eie voordeel gebruik om ’n verhouding wat een van wedersydse omgee en respek behoort te wees, te verdraai tot een van dominansie en verdrukking. Hoe lyk vergifnis egter wanneer die magsverhoudinge so ongelyk is? Hoe lyk vergifnis wanneer die persoon wat verkeerd gedoen het nie dink hy was verkeerd nie, of wanneer hulle vergifnis as vanselfsprekend aanvaar, of wanneer hulle herhaaldelik misbruik maak van die geskenk wat hulle aangebied word?

Vergifnis beteken nie altyd jy voel beter nie

Mense wat vergewe, voel in werklikheid dikwels beter. Daar is tallose verhale van mense wat jare of selfs dekades lank aan bitterheid en woede vasgehou het en wie se lewe daardeur geruïneer is. Baie het getuig van die vreugde en gevoel van verligting wat hulle ervaar het toe hulle in staat was om te vergewe en om die haat te laat gaan.

Heelwat verstommende verhale is deur The Forgiveness Project versamel, ’n liefdadigheidsorganisasie wat stories versamel van mense wat geleer het om ná ondenkbaar verskriklike ervarings te vergewe en brûe te bou. Dit is nie ’n godsdienstige organisasie nie, alhoewel sommige van die deelnemers hulle vergifnis aan hulle geloof verbind. Deelnemers sluit in ’n oorlewende van Noorweë se Utøya-menseslagting, Jode en Palestyne wat familie in die stryd verloor het, slagoffers van geweld en mishandeling – en oortreders ook. Baie van hulle praat van ’n mate van genesing nadat hulle vergewe het.

Ander sê weer dat vergifnis ingewikkeld is. Nog ’n deelnemer, Jayne Stewart, wat as kind deur haar pa – wat dit steeds ontken – misbruik is, sê: “Vergifnis is ’n interessante konsep met betrekking tot my pa. Ek dink vergifnis is ’n voortgaande proses wat kom en gaan en mettertyd ontwikkel, eerder as iets wat een keer en vir almal bereik kan word … ”

Dit kan ons ook verstaan. Toe Petrus in Matteus 18:22 vir Jesus gevra het hoeveel keer hy moet vergewe – sewe keer? – antwoord Jesus: “Nee, nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!” Ons aanvaar dat Jesus soveel verskillende oortredings bedoel. Dit is egter net ’n oordrewe manier om te sê dat daar geen beperking is op die hoeveelheid kere wat ons behoort te vergewe nie.

Maar dalk sê Hy ook daar is geen beperking op die hoeveelheid kere dat ons dalk dieselfde oortreding moet vergewe nie. Wat ons aangedoen is, hou aan om na ons terug te keer: die herinnering aan seerkry of verraad kom weer in ons gedagtes op, vir die tweede of die tiende of die 50ste keer, en elke herinnering vereis dat ons opnuut moet vergewe.

Dit gaan oor hoe ons kies om ons eie gevoelens van woede en seerkry en ons begeerte na wraak te hanteer.

Vergifnis beteken nie dat jy iemand weer moet vertrou nie

Ja, dit kan. Verhoudings kan so volkome herstel word dat dit sterker is as wat dit voorheen was. Natuurlik kan die man of vrou wie se vertroue geskend is weer hulle huweliksmaat vertrou; tallose huwelike het al van ontrouheid herstel, en God se mag om die menslike hart te verander is oneindig.

Vergifnis beteken nie altyd ons moet ’n voortgaande verhouding hê met iemand wat ons seergemaak het nie. Maar soms doen dit. Dus moet daar, iewers in hoe ons dít hanteer wat aan ons gedoen is, ’n manier wees om te erken wat gebeur het, maar in die konteks waar ons glo dat hulle van plan is om dit nooit weer te doen nie.

Dit kan beteken dat party goed moet verander. Dit kan op ’n suiwer praktiese vlak wees. Iemand wat bedrog gepleeg het, kan dalk deur haar slagoffers vergewe word. Dit beteken egter nie sy gaan as die kerk se tesourier aangestel word nie. Iemand wat ’n buite-egtelike verhouding gehad het se vrou kan hom dalk vergewe. Sy sal egter altyd weet hy is daartoe in staat, en hulle sal maniere moet vind waarop hy aan haar kan rekenskap gee. Vergifnis beteken nie die horlosie word teruggedraai na die begin nie. God kan dooies opwek, en God kan ook dooie huwelike, dooie vriendskappe en dooie reputasies opwek. Maar sonde maak dinge anders.

In Johannes 20:27 nooi die opgestane Jesus vir Thomas om sy vingers in sy wonde te steek. In Openbaring 5:6 het Johannes voor die troon “’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is”. Christus is met sy littekens opgewek, en ons ook.

Vergifnis kom nie met waarborge nie

Wat vergifnis ook al is, dit is nie ’n transaksie nie. Ons vergewe iemand nie met die verwagting dat hulle sal verander en ’n beter mens sal word nie. Dit gaan eintlik glad nie oor die ander persoon nie. Dit gaan oor hoe ons kies om ons eie gevoelens van woede en seerkry en ons begeerte na wraak te hanteer. Indien hulle ons dus weer seermaak, of ons in die steek laat, of iemand anders seermaak, is dit hartseer. Dit beteken egter nie ons was verkeerd om hulle te vergewe nie, want vergifnis is nie ’n ooreenkoms nie. Dit is ’n geskenk.

Dalk verander ons geskenk iemand wel. Dalk help dit hulle om op ’n manier ’n beter mens te word. Of dalk nie. Handelinge 20:35 onthou Jesus se woorde: “Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.” Dit maak sowel psigologies as geestelik sin. Dit is moeilik om iemand iets verskuldig te wees, en daar is geen groter las as om vergewe te wees nie. Dit is wat agter die gesegde in Spreuke 25:21-22 skuil. Paulus haal dit in Romeine 12:20 aan: “As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.”

As ons seergemaak is, kan ons vergifnis as ons Christelike reaksie kies. Dan kom die persoon wat ons seergemaak het ook voor ’n keuse te staan. Sal hulle leer, berou hê en verander? Of sal hulle verteer word deur verontwaardiging en in weerwraak uitvaar? Dit is egter nie ons keuse nie; dit is hulle s’n. Ons keuse is om te vergewe. Soms, soos Mark Twain gesê het, is “vergifnis die geur wat die viooltjie aan die hak afgee wat dit vertrap”, en dis al. Maar daardie geur is soet.

Ek dink ons maak vergifnis te maklik. Dit is glad nie maklik nie. Dit strek tot in die wortels van ons identiteit, ons verhoudings, ons gevoel van eiewaarde en dit waaraan ons die meeste waarde heg – en dit nog voordat ons enigsins oor ons geloof begin dink het. Tog is dit beide ’n roeping en ’n geskenk van God. Eerlike vergifnis kan bevry en seën.

Uittreksel uit Staan dit regtig in die Bybel? deur Mark Woods met toestemming van CUM Christelike Uitgewersmaatskappy gepubliseer.

2018-05-31T22:21:00+00:00