Kuier by

’n Mooi uitsig

Vir wingerboukundige, Dirkie Morkel, en eienaar, Marinus Neethling, lê die wynplaas, Bellevue met sy besonderse geskiedenis, ná aan die hart. Lizette Murray het gaan kuier.

Die lae wit ingangsmure met hul effense rondings en die vlae wat weerskante in die oggendbries roer, verwelkom die besoeker met die inryslag. Op een van die mure staan die naam Bellevue. Dit beteken Mooi Uitsig.

Ek ry met die varsgeskraapte grondpad verby blinkbruin perde en ’n silwergrys populierbos na die opstal en restaurant. So ver as wat die oog kan sien, strek rye en rye wingerde soos stywe vlegseltjies dwarsoor die geboë heuwelkoppe. In die verte staan Tafelberg. En wanneer ’n mens skuins oor jou skouer na agter kyk, lê Simonsberg rustig in die oggendson en slaap.

Op die restaurantstoep kuier ek met Dirkie Morkel, wingerdboukundige en bestuurder van Bellevue, en Marinus Neethling, wat die plaas in 2014 by Dirkie gekoop het.

In harmonie

Die storie van Bellevue kom ’n lang pad. In 1691 kom Philip Morkel, ’n kanonnier in diens van die VOC in Tafelbaai aan. Hy vestig hom as Vryburger aan die Kaap en trou na die dood van sy eerste vrou met Catharina Pasman. Hulle is die voorouers van die Morkels wat Bellevue reeds sedert 1861 besit. In die vroeg-1950’s ontwikkel die plaas tot ’n volbloed-wynboulandgoed onder die eienaarskap van Pieter Krige Morkel, alombekend as P.K.. Hy verwerf bekendheid met die aanplant van die eerste pinotage in 1953, ’n kruising tussen die twee kultivars, pinot noir en hermitage (cinsaut), waarmee hy in 1959 die Generaal Smuts-trofee vir die beste wyn op die Kaapse Wynskou verower.

Maar op Bellevue gaan dit oor veel meer as wyn en toekennings en prestasies. Hier gaan dit oor mense. Oor liefde en harmonie. Oor langs mekaar woon en werk. Die feit dat Marinus en Dirkie saam op die stoep van die wynproelokaal en restaurant met my oor Bellevue gesels, is ’n sprekende bewys daarvan. ’n Aantal jare gelede het Dirkie besef dat sy plaas nie winsgewend is nie en dat hy die gevaar loop om dit te verloor. Om ná vier geslagte op Bellevue die plaas te laat gaan, was vir hom byna ondenkbaar. Oral was tasbare dinge wat herinner aan ’n lang tradisieryke verblyf hier. Op die groot groen grasperk staan die wit gewelhuis – ’n Nasionale Gedenkwaardigheid – wat reeds uit 1803 dateer en wat Dirkie in 1990, met die hulp van die bekende Fagan-argitekte, gerestoureer het.

Voor die huis staan ’n kanon wat in die tyd van die VOC gebruik is om waarskuwingskote af te vuur wanneer vreemde skepe gewaar is. Dit het mettertyd in onbruik geraak. In 1862 is die verwaarloosde kanon met twee spanne osse na Bellevue gebring waar dit nou reeds 155 jaar lank rus – op ’n smal wit voetstuk, met sy loop in die rigting van Kaapstad. En rondom – so ver as wat die oog kan sien – strek die wingerde, ’n blywende gedagtenis aan die harde werk en visie van vier geslagte Morkel-eienaars. Van die wingerde is reeds in 1952 aangeplant en is steeds produktief. Die spreekwoord, “Goeie wyn word in die wingerd gemaak”, is by uitstek waar van Bellevue. Die ooglopende toewyding en liefde waarmee na die wingerd omgesien word, laat my onwillekeurig aan Christus se woorde in Johannes 15 dink: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.” Dirkie se vertellings onderstreep hierdie verbondenheid aan die grond.

Een oggend – kort nadat hy as jong gegradueerde en met ’n honneursgraad in sy sak, begin boer het – het een van die werkers hom gevra: “Is Meneer lief vir die wingerd?” Toe Dirkie bevestigend antwoord, het hy voortgegaan: “Ek kan dit sien. Wanneer Meneer deur die wingerd stap, vat Meneer aan die wingerdlote en blare soos ’n pa aan sy kind vat.”

‘Wanneer daar groot besluite op my pad kom, laat ek my deur God lei. In hierdie geval het ek duidelik geweet dis die regte ding om te doen.’

Waarom, Here?

Om hierdie plaas te laat gaan, was ’n groot geloofstoets vir Dirkie.

“Ek het met die Here geworstel. Hoekom gebeur dit? Hoekom is dit so ’n uitgerekte proses? Is God opsetlik besig om my te pynig?

“Hoewel daar heelwat belangstelling was en die plaas ’n paar keer op die punt was om verkoop te word, het daar elke keer iets skeef geloop. Intussen moes die werk aangaan. Werkers moes betaal word.”

Een Maandag het Dirkie sy werksmense bymekaar geroep en vir hulle gesê dat hy nie kan waarborg dat hulle aan die einde van die week hul lone sal ontvang nie. Hulle kan dus kies of hulle die week wil kom werk. Hy sal verstaan indien hulle nie kom nie.

“Almal het kom werk.”

Dwarsdeur al die terugslae het Dirkie sy geloof behou deur beloftes uit die Skrif, asook deur die gebed en bemoeienis van mede-gelowiges, veral van Heidi, sy vrou, op wie hy swaar gesteun het.

Op die vooraand van ’n kooptransaksie het ’n voornemende koper via sy bank vir Dirkie in kennis gestel dat die koop gekanselleer is. Daardie aand stuur ’n vriendin – onwetend van die terugslag – vir hom ’n selfoonboodskap: “Lees Jesaja 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.

Toe ’n veiling na die laaste opsie begin lyk, en Dirkie een middag met ’n arbeidsoudit deur die Departement van Arbeid besig was, het Marinus Neethling opgedaag om na die plaas te kyk. Dirkie kon Marinus nie self rond wys nie en het ’n prokureursvriend gevra om dit namens hom te doen.

Marinus vertel: “Ek is ’n bourekenaar en het my eie konstruksiefirma. Iemand het my van Bellevue vertel, en ek wou kom kyk. Dis ’n ander wêreld as die harde boubedryf waaraan ek gewoond is.

“Wanneer daar groot besluite op my pad kom, laat ek my deur God lei. In hierdie geval het ek duidelik geweet dis die regte ding om te doen. Die volgende oggend het ek weer plaas toe gekom – om die koopkontrak te kom teken.”

Dirkie vul aan: “Dit het net so tien minute geneem om die transaksie te beklink. Korter as wat dit my neem om oor ’n bergfiets te besluit! Wanneer God se tyd reg is, laat Hy dinge sonder moeite in plek val.”

’n Nuwe begin

Vir Marinus was boerdery ’n onbekende terrein. Hy en Dirkie het ’n oorgangsperiode-kontrak vir vyf jaar aangegaan, waartydens Dirkie steeds vir sy eie rekening boer en in die historiese gewelhuis aanbly. Marinus sou as nuwe eienaar aandag aan kapitaaluitbreidings skenk. Onder sy bekwame hand is die proelokaal opgeknap. Alhoewel modern, laat die ouwêreldse elegansie besoekers onmiddellik tuis voel. Marinus het ook ’n restaurant in een van die kelder se geskiedkundige vleuels ingerig. Die groot stoep nooi gaste om hul skoene uit te skop en te vergeet van die halsoorkop-wêreld anderkant die groen gras, perdekampe en uitgestrekte wingerde.

Marinus se laerskoolseuntjie geniet die plaas, veral die perderitte. Hy noem Dirkie spontaan “Oupa Dirkie” en kom groet graag wanneer hulle vertrek. Sulke klein gebaartjies van toegeneentheid versterk die wedersydse goedgesindheid.

Vir Marinus is dit ’n voorreg dat sy kinders aan die plaas blootgestel word.

“Om naby aan die grond te leef, is belangrik in die vaslê van hul waardesisteem.”

Die feit dat Dirkie, sowel as Marinus, die Here se wil vir hul lewens eerste stel, versterk hul verhouding onderling.

Marinus beleef die seën van die Here op sy handewerk en inisiatiewe.

“Dit gaan goed met die projekte wat ek in die boubedryf aanpak. Toe die bedryf op ’n laagtepunt was, het ’n groot blok woonstelle wat ek gebou het, onmiddellik verkoop. My seëninge plaas ’n verantwoordelikheid op my om nóg nader aan die Here te leef en die seëninge tot Sy eer aan te wend. Dit geld ook vir my eienaarskap van Bellevue.”

‘Die groot stoep nooi gaste om hul skoene uit te skop en te vergeet van die halsoorkop-wêreld anderkant die groen gras, perdekampe en uitgestrekte wingerde.’

Met oë op Hom gerig

Voor my sien ek die vrug van ’n sonderlinge samewerkingsooreenkoms. ’n Jonger man met kapitaal en energie en inisiatief, idealisme en nuwe idees. Teenoor hom ’n ouer persoon met kundigheid, ondervinding, lojaliteit vir sy grond en sy werkers én respek vir sy produk en die grond. Saam ’n span wat ’n verskil kan maak.

Ook in Dirkie se interaksie met sy plaaswerkers is goeie menseverhoudinge ononderhandelbaar.

“Ons begin elke dag met oggendgodsdiens en hou weekliks ’n biduur. Dit bring ’n openheid en versterk vertroue,” vertel Dirkie.

Dirkie het in 2014 ’n belofte gemaak om aan die einde van die parstyd by die grootpad saam met sy werksmense te gaan dankie sê vir die uitkoms met die verkoop van die plaas aan Marinus. Een nag het hy in ’n helder droom die woorde “Deuteronomium 11:7” duidelik gesien. Die volgende oggend het hy die teksvers neergeskryf. Toe hy dit later naslaan, lees hy: Met julle eie oë het julle al die groot dade gesien wat die Here gedoen het. In daardie stadium het dit nie vir hom iets beteken nie.

Die middag het Dirkie uit die bloute vir Heidi gesê hulle moet die beplande dankbiduur teen die pad gaan hou. Hoewel hy normaalweg by hul bidure slegs tyd aan gebedsversoeke afstaan, het hy sy Bybel in die verbygaan gegryp. By die pad het daar reeds ’n hele klomp werkers op hom en Heidi gewag – baie meer as gewoonlik.

“Ek het skielik besef dat ek nie net sal kan bid nie, ek sal ook iets móét lees. Skielik skiet Deuteronomium 11:7 my te binne – die teksvers wat ek in my droom ontvang het!”

Daardie middag het iets in hulle midde gebeur. God was voelbaar teenwoordig. ’n Plaas se werkerskorps het saam begin getuig van die groot dade wat God gedoen het.

“Ek het besef dat God nie in al die moeilike tye afwesig was nie. Ekself is van alles gestroop. Niks wat ek gehad het, het oorgebly nie. Nie my planne of kundigheid nie. Niks wat ek as mens kon aanbied nie. Net God.”

Bellevue. Oor die jare het die naam ’n veel ruimer betekenis gekry as net ’n mooi uitsig op die berge en wingerde. Vir die mense van Bellevue is dít wat werklik saak maak, die blywende uitsig op die ewigheid.

2018-06-01T21:08:40+00:00