Ek deel my hart

’n Man soos Pa …

Teks & foto deur Riekie Greyling

Sanger en radiopersoonlikheid, MD Greyling (33), vertel van dié dinge wat hy as man by sy pa geleer het.

MD Greyling en ek stap al ’n baie lang pad saam. Om die waarheid te sê, ons ken mekaar van sy geboortedag af op 1 Augustus 1984.

Michiel Daniel Greyling is my nefie, my jongste broer se enigste seun. Saam met sy bars-van-trots ouma en oupa, het ons soos ’n tros henne in die wagkamer van ’n kraamhospitaaltjie in Sunnyside rondgeskrop, geskarrel en gewag.

En toe sy pa uiteindelik sy nuwe babaseuntjie soos ’n goue Olimpiese medalje met albei hande hoog die lug in hou en die pasgebore lyfie teer heen en weer draai vir ons om te sien, toe weet ek: hier is die ster in die familie nóú.

(En ek onthou ook toe die tannie in die pers rok langs my ma so ewe sê ‘sjoe alle babatjies is darem nie mooi nie nê?’. Om die waarheid te sê, ons sal almal die arme pers tannie onthou danksy MD se ouma!)

Vraag: Hierdie is jou eerste Vadersdag sonder jou pa. Dis ’n moeilike een dié want alles is nog so rou.

Antwoord:In 33 jaar was daar regtig min dae wat ek en my pa nie ten minste een keer met mekaar gesels het nie. Soms net om te hoor of alles nog reg is. Sy lang siekte (hy was ’n diabeet) was vir ons ’n baie moeilike tyd. Eintlik voel dit of die realiteit, dat hy nie meer daar is nie, my nou eers tref. Wanneer ek advies nodig gehad het, was hy altyd daar om te luister en gou ’n vinnige opinie te gee. Ek bevind myself daagliks in onsekerheid as die vraag ‘wat sou Pa gesê het?’ in my kop draai.

Vraag: Wat is die lekkerste ding wat jy en jou pa ooit saamgedoen het?

Antwoord: Die twee lekkerste dinge wat ons ooit saam gedoen het was toe ons saam gaan jag het naby Bloemhof en ’n Pink Floyd konsert in Johannesburg bygewoon het.

Vraag: Hoe dink jy het hy as ’n pa gevoel oor jou talle prestasies en toekennings as sanger, entrepreneur, liedjieskrywer, kitaarman, deel van die Ses Snare en gewilde radioaanbieder by PretoriaFM?

Antwoord:Hy was ’n baie trotste pa en was altyd betrokke en ondersteunend. As kind het ek gesukkel om dit te verstaan, want soms het ek so skaam gekry in ’n geselskap as hy begin spog het. Ek doen waarvoor ek baie lief is, maar is nie mal daaroor om te veel in die kollig te wees nie, maar dit kom maar saam met die aard van my beroep. Vandag verstaan ek hom beter, want nou is ek die pa wat onophoudelik wil spog oor my eie twee seuntjies.

Vraag: Wat is die laaste geskenk wat jy aan jou pa gegee het?

Antwoord:Presies ’n dag voor sy dood was sy laaste woorde aan my (en dit is al wat hy kon sê) ‘Baie lief vir jou’. Vir my was dit die volledige samevatting van die man en pa wat hy was. Hy was lief vir ons en dít is die grootste geskenk wat enige kind voor kan vra.

Vraag: Glo jy mans mag nie huil nie en wanneer is die laatste keer dat jy gehuil het?

Antwoord:Ek huil moeilik, veral voor ander mense, maar die laaste wat ek gehuil het was tydens my pa se begrafnis in Januarie.

Vraag: Wie anders in jou familie het jou as kind, tiener en later bekende musikant, beïnvloed en gehelp om besluite te neem en keuses te maak, reg of verkeerd.

Antwoord:Daar was ’n paar. My oupa Piet was my grootste aanhanger en in sy oë was ek die beste kunstenaar in die hele wêreld. My ouma Rita was glo ’n fantastiese orreliste en pianis, maar ek was te klein om haar ooit behoorlik te kon hoor musiek maak. Sy is dood toe ek sewe jaar oud was. Maar sy bly steeds vir my ’n groot inspirasie. Beslis ook my pa en sy broer, Kobus en my neef Jaco. Ons kon vir ure sit en sing en musiek maak en sommer net ‘jam’. Ek sal dit nooit vergeet nie.

Vraag: Wat onthou jy van die huis waarin jy grootgeword het? En is dit goeie herinneringe?

Antwoord:Ja, dit was goed. Dit was nie altyd lekker nie, maar die reëls was altyd duidelik neergelê. My pa het my op skool in die aande soms uitgevat om na musiek te gaan luister in restaurante en klubs. Ek en hy kon vir ure sit en luister na ander kunstenaars se talente. My ma was nog altyd baie saggeaarde en ’n wonderlike ma en vrou.

Vraag: In drie woorde, hoe sou jou ma jou beskryf?

Antwoord:Sag. Wonderlik. Sterk.

Vraag: Hoe is jou verhouding met jou ma en sussie Marisa?

Antwoord:Ons was nog altyd ’n baie hegte gesin en al het dit nie altyd ewe goed gegaan nie, kon ons altyd lag, grappe maak en gedagtes uitruil – selfs tydens die moeilikste tye. Ons het almal ’n goeie sin vir humor en dit was dikwels ons manier om moeilike dae en tye te verwerk.

Vraag: Vertel ons een van die beste herinneringe vir jou op ’n familievakansie vir jou as ’n kind.

Antwoord:Ek onthou ’n spesifieke vakansie in George waar ons in die skoolkoshuis tuisgegaan het. Dit was ongelooflik lekker, maar niks luuks of besonders nie. Ek onthou dat ons elke dag na ’n ander dorp toe gery het as gesin en om vir die eerste keer as ’n gesin die nuwe plek te beleef. Ek sal dit nooit vergeet nie.

Vraag: As jy een dag in jou kinderlewe kon terug hê, watter dag sou dit wees en waarom?

Antwoord:Die dag in die Kruger Wildtuin saam met my Oupa Piet, Ouma Rita en my ma toe ons amper die heeldag aaneen gelag het. Ek kan nie eens onthou waaroor ons so geskater het nie, maar ek hoor dit steeds vandag.

Vraag: As daar iets unieks van jou herkoms of familiegeskiedenis is wat jy graag sou wou weet, wat sal die wees?

Antwoord:Ja. Ek sou wou weet hoekom verloor ons Greylings so moeilik gewig?

Vraag: Jy het sommer vroeg in jou lewe geweet jy het musiek in jou are. Na wie het jy gegaan vir raad en advies. En as jy nou terugkyk, was dit goeie raad?

Antwoord: Ek was bevoorreg om op ’n vroeë ouderdom (18) te kon begin optree in klubs en kroeë en baie ervaring opgedoen – goed en sleg. As musikant het ek ook in daardie tyd vir baie ander sangers en orkeste gespeel. Ek was konstant omring met mense wat my kon raadgee. Weereens was van die advies nie altyd noodwendig goed nie, maar geen boek kan dié soort ervaring vir jou leer nie.

Vraag: Hoe is jy as pa anders as jou ouers en ook waar is daar raakpunte?

Antwoord:Ek is meer soos my ma en my sussie weer meer soos my pa. Ek is maar ’n ‘softie’ as dit kom by mense en hulle dinge. Daar was tye wat ek en my pa hard koppe gestamp het waaroor ek vandag ook nie spyt is nie, want uit elke insident kon ek iets leer en nou die kennis oordra aan my eie kinders.

Vraag: Vertel ons van jou eie gesinnetjie, Denise en die seuntjies.

Antwoord:My gesin is my lewe. My kindertjies Divan (2) en Lenro (1) is my trots. Ek het nooit gedink dat ouerskap ’n mens soveel  insig in so baie dinge kan gee nie, soos uitput, vorm, toets, bly maak en laat glimlag – en dit alles op een slag. Dit is loshande die moeilikste en beste ding wat ooit in my lewe met my gebeur het en ek en my pragtige vrou, Denise, is geseënd met dit wat ons het.

Vraag: Het julle Christenskap ’n groot invloed op julle opvoedingsrol as ouers?

Antwoord:Ons kom albei uit gelowige families met baie dieselfde agtergrond. Christenskap is vir ons nie onderhandelbaar nie. Ons doelwit is om ’n standvastige en Christelike tuiste te skep vir ons kinders vir solank as wat ons leef.

Vraag: Pas jy en Denise van dieselfde reëls toe op julle eie kindertjies as wat julle ouers met julle gedoen het?

Antwoord: Meeste van die tyd, ja. Ons is seker nie perfekte ouers nie, maar ons reëls is gebaseer op liefde, Christelike waardes en ’n goeie gesonde, gebalanseerde opvoeding.

Vraag: Is julle moderne ouers met moderne idees oor opvoeding en dissipline of glip daar soms iets ‘outyds’ deur?

Antwoord:Ek wil graag glo dat ons moderne ouers is maar daar is beslis ’n paar ‘outydse’ reëls wat vandag nog geld. Ek kom ook uit ’n baie tradisie-vaste seunsskool (Affies) waar ons ook goeie maniere en ordentlikheid geleer het. En daardie agtergrond help daagliks om op die fondasies van ons verhouding met ons kindertjies te bou.

Vraag: Wat het jy as kind gehad wat jy vandag wens jou seuntjies kon hê?

Antwoord:Ons het op ’n klein plattelandse dorpie Reivilo gewoon en as ek kon, sou ek die stadslewe verruil het vir die platteland. In vandag se tye en die aard van my beroep is dit egter ’n moeilike skuif om te maak.

Vraag: Wanneer het jou groot deurbraak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak en het jy geweet jy gaan ’n verskil maak?

Antwoord:Ek glo nie vir ’n oomblik dat musiek sommer oornag van ’n mens ’n sukses kan maak nie maar dat dit wel ’n loopbaan is wat moet groei soos enige ander. Daarom is dit moeilik vir my om ’n presiese deurbraak te onthou. Dit is maar soos ’n fiets wat jy moet stoot, en in ’n stadium kan jy opklim en op die momentum met bietjie minder moeite verder ry. Sommige mense vang net vinniger ’n afdraande en ander moet harder trap om aan die beweeg te bly.

Vraag:Jy is al vir byna vier jaar deel van die PretoriaFM span as omroeper en produksie-regisseur. Wat is dit wat radio vir jou so spesiaal is?

Antwoord:Radio is steeds in vandag se moderne tyd een van die mees effektiewe maniere van kommunikasie en ek sien dit as ’n reuse-voorreg om daarby betrokke te kan wees. My werk behels nie net gesels tussen musiek nie, maar dit bevat die moontlikheid om ’n positiewe verskil te maak en ’n glimlag te plaas op luisteraars se gesigte wat dit dalk baie meer nodig het as ek vandag. Dit bly ’n groot voorreg om te kan doen wat ek doen. Om te kan musiek maak en te kan uitsaai vir solank as wat dit moontlik is. Dit is wat ek nog altyd wou doen. By PretoriaFM kry ek die geleentheid om daardie droom onbeskaamd uit te leef.

2018-05-31T21:56:09+00:00