Lééf mooi

Mooi geel

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Geel is een van die suiwerste kleurpigmente; dis die kleur van nektar, blomme en sonskyn.

  • Grimeerkunstenaars glo al lank in die vleiende uitwerking van geel in onderlaag. Die meeste professionele onderlae, verbloemroom en poeiers bevat ’n geel ondertoon wat jou ’n natuurlike voorkoms gee en help sorg dat die onderlaag presies by die kleurtoon van jou vel pas. Die meeste vroue se velkleur neig eerder na geel as pienk. Die doel van onderlaag, verbloemroom en poeier is om die vel vlekkeloos te laat vertoon. As die produkte wat aangewend word, van die natuurlike velkleur verskil, kan ’n werklik natuurlike voorkoms met ‘onsigbare’ grimering nie verkry word nie. Soek dus altyd na ’n onderlaag met ’n effe geel eerder as pienk ondertoon.
  • Van sonneblom tot bottergeel word deesdae aan die naels geverf. Geel en oranje vlei die meeste velkleure.
  • Kleur beïnvloed jou emosies. Kleurteoretici verdeel kleure in vier psigologiese kleurgroepe, naamlik rooi, geel, groen en blou. Die verdeling word gegrond op die manier waarop die oog kleur ‘verwerk’. Geel fokus op die emosies en selfvertroue. Dit kan jou laat beter voel en skep ’n ligte, sonnige atmosfeer.
  • Geel is ook ’n kleur met groot trefkrag. Deur na sekere kleure te kyk kan jy jou gemoedstoestand verander. So kan ’n geel vertrek of selfs ’n bos geel blomme jou bloed ’n bietjie vinniger laat pomp om jou meer woema te gee. Kleur spreek ook tot die onderbewuste. Geel bevorder positiewe denke. As jy van geel hou is jy waarskynlik spontaan, kreatief, optimisties en hardwerkend.
  • Geel is gesond. Tien tot vyftien minute se blootstelling aan die son, twee tot drie keer per week, is al wat nodig is om 90% van die aanbevole dosis vitamien D aan die liggaam voorsien. Vitamien D help die liggaam om meer kalsium te absorbeer.
  • Eet gerus meer geel groente. Geel groente en vrugte is ryk aan vitamien C en kalium, asook vesel. Vitamien C is ’n kragtige anti-oksidant wat ook in vogrome gebruik word om die vel nuwe lewe te gee.
‘O, sonskyn! Die kosbaarste goud op aarde.’ Roman Payne
  • Geel en oranje groente en vrugte bevat beta-keratien, ’n anti-oksidant wat die liggaam en vel teen vernietigende vrye radikale beskerm. Probeer om ten minste een geel porsie groente en vrugte per dag te eet.
  • Sonneblom-mooi. Die sonneblom se vermoë om die son te volg, asook ’n stam wat selfs met die gewig van die swaar blomkop kan draai en beweeg, het wetenskaplikes in hul stryd teen veroudering geïnspireer. Sonneblom-plantgroeistowwe in vogrome en serums help om die vel meer soepel en fermer te maak en om selvernuwing te stimuleer. Sonneblom-ekstrak word ook ingespan om die vel teen sonlig en vrye radikale te beskerm.
  • Papaja bevat ’n hoë konsentrasie ensieme wat die vel versag en suiwer. Papaja is ryk aan vitamien C en karoteen, wat die liggaam help om vrye radikale te beveg. Kies ’n afskilferaar soos Elemis Papaya Enzyme Peelwat die vel met papaja versag en verglad.
  • Die krag van borrie. Een van die hoofbestanddele Clarins Double Serum Complete Age Control Concentrateis borrie-ekstrak wat help om die velfunksies te stimuleer en te aktiveer.
  • Meng self ’n masker. ’n Lepelvol melkpoeier, fyngemaalde amandels, twee druppels lemoenolie en ’n teelepel heuning sal help om ’n droë vel te bevog en te verfris.
  • Heuning versag en bevog die vel. Dit is boonop ’n natuurlike anti-bakteriese middel wat help met aknee en merkies. Heuning is propvol anti-oksidante wat veroudering bekamp.
  • Troetel jou hande en lyf met die nuwe Crabtree & Evelyn Citron & Coriander reeks lyfprodukte met die verfrissende geur van sitrus en koljander in ’n heldergeel verpakking om al die sintuie te stimuleer.
2018-06-21T09:17:07+00:00