Vanaand toe ek kom sit en skryf, bly my gedagtes Jerusalem toe draai. “Onthou jy daai jaar wat ons met Pesach daar was?” het Trudy nou net oor die foon gevra. Dié dat die Heilige Stad nou so by my is.

April/Mei is ’n drukke tyd in Jerusalem. Daardie jaar was Pesach (Pase), Yom HaShoah (Holocaust-dag) en die gedenkdag vir gevalle Israeli-soldate, binne ons tyd daar. Met Pesach is die Ou Stad ’n miernes wat moeilik te verwoord is. Tienduisende mense beweeg voortdurend van en na die Kotel om te gaan bid. Deur die Jaffa-poort stroom met reëlmaat 30 000 mense per dag.

In ’n stadium raak ons twee vasgekeer in ’n opdamming by ’n knelpunt. Dis waar die straat na die Armeense Buurt en die nou gangetjie uit die Joodse Buurt wat oor die Hurvah-plein na die Kotel lei, mekaar ontmoet. Daar’s eenvoudig nie te beweeg nie. Tog raak niemand paniekbevange of selfs kwaad nie. Nie eens die honderde babas in die skare nie. Uit skynbaar ontelbare stootkarretjies kom geen benoude geweeklaag nie. Jong mammas, later met ’n kleine op elke arm, beskerm behoedsaam geswolle buike. Pa’s lig stootkarretjies bo hulle koppe uit en gee dit vorentoe aan. Mense lag, roep uitgelate na mekaar. Waardige rabbi’s druk hulle hoede vas, swetend in die vroegsomer hitte.

’n Paar dae later kuier ons in die Negev. Anderkant Be’er Sheva op ’n splinternuwe ‘settlement’, drie kilometer van die Egiptiese grens, is dit ’n snikwarm 47 °C. Teen sononder flikker die Shabbat-kerse in die genadige briesie wat oor die sandduine huiwer. Ons gasheer het pas teruggekeer van sy waakbeurt al langs die grens. Sy geweer leun teen die muur langs hom. “Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal … ” bid hy oor die wyn. En ek sien sy vingers om die beker stil word. Ons sing L’cha Dodi: “Kom, geliefdes, laat ons die bruid verwelkom, die Shabbat se rus ervaar … ” Ons ietwat yl stemme dra ver op die stil woestynlug. Na die stad se gewemel, daal rus oor ons.

Donderdag 1 Mei is Holocaust-gedenkdag. Weer en weer hoor jy die frase ‘nizkor lenetzach  –  “om nooit te vergeet nie”. Die media dra onbeskryflike verhale van die al minder wordende oorlewendes uit die Nazi-helkampe. By Yad Vashem, die Holocaust-gedenkmuseum, praat leiers oor ’n volksmoord wat opnuut, en soos al Israel se bestaansjare, uit die vyandige buurlande dreig. Om tienuur soggens loei ’n sirene oor Jerusalem. Dis of jou bloed in jou are stol. Plotseling kom alles tot absolute stilstand. Voetgangers, busse, polisievoertuie, ambulanse, alles. Mense klim uit hulle voertuie en vir twee minute staan almal roerloos. In die bome raak selfs die voëls stil.

’n Paar dae later word die meer as 22 000 soldate wat sedert die onafhanklikheid in Israel se oorloë geval het, gedenk. Kranse word gelê, mans huil openlik, veral by grafte waar nog vars grond vol blomme is. Die stryd om die verwoesting van die piepklein staatjie het nog geensins in felheid afgeneem nie. Inteendeel. Wanhoop dreig jou hart te oormeester.

As ek die aand die Woord wil lees, val dit oop by die laaste verse van Joël: “Maar Juda sal sonder ophou bewoon word en Jerusalem vir altyd … en Ek, die Here, sal op Sion woon.” Ek kyk deur my venster na die verligte stadsmuur en die sekelmaan wat aan die hemel hang en onthou Monsignor Knox se vertaling van Sagaria 12:6: “Jerusalem shall stand, when all is over, where Jerusalem stood.” En ek wéét: Die Here sál op Sion woon al dreun die nasies om heen.

2018-05-31T22:46:37+00:00