Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ek en my kleinkind stap. Hy buk by ’n klomp rysmiere wat stokkies aandra nes toe. Rondom ons gaan staan die hele wêreld stil. Tyd ook. Niks maak meer saak nie. Net daardie rytjie miertjies wat soos opgewende robotte hul stokkies aanbring nes toe. Haastig-haastig want die winter en die reëntyd in die Kaap is op hande.

Die ontdekkertjie trek my aan die hand af grond toe. Saam sit ons en kyk na een van God se skeppingswonders. In die akkerbome se hoogste takke wip eekhorings rats heen en weer om akkers vir hul winternessies in te samel. En in die blou lug swiep ’n laaste groot swerm swaeltjies verby op koers noordelike halfrond toe. Somer toe. 

Hoe weet ’n mier dat die winter nader kom? En hoe weet ’n eekhoring dis tyd om akkers by mekaar te maak? Hoe weet swaeltjies dis tyd vir trek? Net God kan hierdie wete in hulle plant.

Die Here, die Skepper van alles wat asem het, kom lê ook in ons harte die onverklaarbare hunkering na iets groter as onsself. Iets wat ons diepste honger kan stilmaak. Iets wat die winter in ons eie hart weer somer kan maak. Hy skep in ons die verlange na Homself. 

Met Sy eie hand skep en versorg Hy elke skulpie en besie en spinnerakdraadjie met liefdevolle, noukeurige presisie.

Anders as die miere en eekhorings en swaeltjies wat instinktief weet wat om te doen om te oorleef, ignoreer ons dikwels ons diepste  honger – daardie branding na God – en ons verdwaal op vreemde plekke in ons soektog na sin en betekenis wat nét in Hom gevind kan word. Die antwoord is so eenvoudig: “Kyk na die lelies, na die wilde voëls … en soek heel eerste God se Koninkryk.”

Dikwels is dit juis klein kindertjies wat ons aan die hand vat en by ’n ry swart miertjies laat buk, wat ons oë weer vir hierdie waarheid oopmaak.

Ek dink vanmiddag aan die titel van die Indiese skrywer, Arundhati Roy, se roman, The God of Small Things. Ek besef opnuut: God is die God van klein dingetjies. Met Sy eie hand skep en versorg Hy elke skulpie en besie en spinnerakdraadjie met liefdevolle, noukeurige presisie.

Daarom wil Hy ook hê dat ons klein en groot lewenskrisisse na Hom sal bring. Daardeur erken ons Hom as die Alwyse en meelewende Vader. Wanneer ons saam met God deur die lewe loop, kyk ons anders na ons eie lotgevalle. Dan kyk ons met verwondering na ’n veldblom. Of ’n strepie son. Of ’n baba wat vir die eerste keer sy handjie ontdek. Of ’n glansende druppel water wat roerloos aan ’n buitekraan hang.

Here, ek bring my eie klein, skamel gebed na U. Dit is onvolmaak en stotterend. Dankie dat ek egter weet dat geen opregte gebed vir U minderwaardig of onaanvaarbaar is nie. U neem dit met oop arms aan. U voeg dit by al die ander gebede in die groot wierookbak voor u troon. Niks is te klein vir U nie. Geen gebed of versugting té gering nie. U is die God van klein dingetjies. Dankie dat U ook my geringe woorde met vreugde aanvaar. Ek kniel in verwondering voor U neer. Amen

2018-06-01T21:14:12+00:00