Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Daar’s ’n nuwe belangstelling op die werf. Eintlik is dit nie heeltemal waar nie, want die tekens wat na hierdie oomblik sou lei, was jare gelede al daar. Dit behels natuurlik vuur, geskroeide wenkbroue, rooi wange en baie sweet. Toe hierdie belangstelling boonop onlangs aangeblaas word deur ’n televisiereeks wat die vernuftigheid en vaardigheid tot nuwe tipe kunsvorm verhef, het ek geweet my doppie is geklink. Letterlik.

Pa Jan is natuurlik deel van die aksie en maak net so entoesiasties soos die seuns planne en wanneer “Forged in Fire” op televisie verskyn, kyk almal en lewer passievolle kommentaar. Die ding het my nou ook beet want die simboliek van hierdie kunsvorm is net te bekoorlik om te ignoreer. Daarom dat ek nou hier op ’n wintersmiddag staan en toekyk hoe die gasvlam die staal lemme van die seuns soos oranje kole laat gloei – hulle gesigte ’n studie van genot en konsentrasie. Hy kyk net skrams op om my reaksie op hulle gevaarlike werk te aanskou, en weliswaar moet ek my hart in toom hou as ek sien hoe die vuur alles wat oorbodig is verskroei. Dan buk hulle weer om die rooiwarm lem op die aambeeld (heel professioneel nogal!) te timmer. Heen en weer werk hulle. Eers in vuur, dan op die aambeeld. Dis om die lem te vorm, verseker hulle my vol selfvertroue en hulle gloei van trots. Ek voel my oë rek elke keer as hulle so heen en weer van die vuur af wegstap. Gaan hulle nie seerkry nie? Wat as hulle so wegraak in die genot van die arbeid dat hulle die siedende vlam vergeet? Maar dan bekyk ek die hele prentjie. Pa Jan staan groot en fors agter hulle en hou elke beweging sorgsaam dop. Nes ons Vader met ons ook maak.

“Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie”se die Here vir Joshua voordat hy deur sy eie vagevuur moes stap. Soos God met Daniël se drie vriende in die vuur was, net so is Sy belofte dat Hy deur ons eie smeltkroes saam met ons daar sal wees. Die ander interessante ding van ystersmeewerk is die hardmaak van die staal. Wanneer die rooiwarm staal uit die vuur kom, word dit onmiddellik in ’n pot olie gedruk. Hierdie pot olie moet egter presies noord wys – om te keer dat die lem skeeftrek. Is Sy Woord dan nie ons ware Noord nie? Kan ons sien hoe God alles bevestig – al gaan ons deur die smeltkroes van Sy vuur wat alles wat onsuiwer is wegbrand – is Sy woord die balsem, die ware Noord wat ons gees temper en reguit hou.

Leer jou kind:

  • God se karakter is sinoniem met die simboliek van vuur.
  • Alhoewel die vuur van God verterend is, behoort die verdoemenis van vageput se vuur aan Sy ewige vyand.
  • Die proses om staal te temper en te vorm tot iets nuttig en selfs kunstig, is lank en tydsaam.
  • God werk in elke gelowige se lewe ook so – gloeiend warm, tempertyd, afkoeltyd.

Lees meer:

“Ontdek die vuur van God” deur Joy Dawson (VG Uitgewers).

2018-05-31T22:44:51+00:00