Boekuittreksel

’n Oomblik in tyd

Deur Karen Kingsbury

Wendelle Quinn is opgewonde oor dit wat vir Hoërskool Hamilton voorlê. Hierdie jaar gaan dinge anders wees. Wendell is moeg vir die dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, geweld en lae verwagtings by sy skool. Hy is ’n Christen en ’n gesinsman en hy wil verandering in sy gemeenskap sien. Daarom begin hy ’n vrywillige naskoolse Bybelstudieprogram, ten spyte daarvan dat dit sy werk in gevaar kan stel. Die hoë bywoning by elke byeenkoms moedig hom egter aan om voort te gaan. Dis duidelik dat die program werk – totdat een ouer die pers daarvan in kennis stel. Nou staan Wendell voor ’n regsgeding wat alles kan verwoes, en hy moet kies: Gaan hy toegee en die program stop, of gaan hy opstaan vir wat hy glo reg is?

Uittreksel

“As die media egter snuf in die neus kry oor wat hy besig is om te doen . . . as die mense van die skooldistrik uitvind en hom beveel om op te hou, kan Wendell tot stilte gedwing word. Maar hy het daarvoor ook beplan. Hy het reeds gekyk na sy opsies, reeds gegoogle om te kyk wie hom kan help as sake verkeerd sou loop.

Daar is ’n regsman in Indianapolis wat in die laaste paar jaar ’n hele paar godsdienstige sake gewen het. Gegewe die groot moontlikheid dat hy die man sal moet bel, het Wendell navorsing gedoen oor die ou. Hy is ’n Christen met ’n meelewende maar uitgesproke geloof in God. Die man is ’n suksesvolle litigeerder. Iemand wat jy aan jou kant wil hê. Wendell het sy naam gememoriseer.

Die man se naam is Luke Baxter.

Ashley Baxter Blake ontvang die oproep tien minute voordat die kinders by die huis sou kom van die skool af. Hulle is nou ’n week terug by die skool. Hulle is weer gewoond aan die roetine.

Die oomblik toe sy die foon optel, weet sy iets is verkeerd. Dit is haar skoonsuster Reagan. Sy huil. “Ashley . . . Ek is jammer. Ek moes net bel.”

’n Oomblik lank voel Ashley hoe haar hart in haar skoene sink. Die Baxter-gesin het die afgelope dekade genoeg tragedies beleef. Asseblief, Here, laat alles oukei wees. Asseblief. Haar gebed jaag deur haar gedagtes terwyl sy haar skoonsuster se naam sê. “Reagan!” Ashley was besig om appels en kaas te sny vir die kinders. Sy leun teen die kombuistoonbank. “Wat het gebeur? Wat is dit?”

“O, dit is nie so iets nie.” Verslaentheid klink in Reagan se stemtoon op. Sy snuif ’n paar keer en kry ’n mate van beheer terug. “Dis ek en Luke. Dis ons.”

Ag nee. Ashley laat sak haar kop. Reagan en Luke het voorheen ook probleme gehad. Dit is nie ’n motorongeluk of siekte nie. Maar dis steeds erg. “Vertel my.”

“Dis sy werk. Hy’s nooit by die huis nie. Ek is net so moeg daarvoor.” Reagan klink asof haar hart wil breek. “Hy bring elke maand meer en meer tyd by die kantoor deur.” Sy snuif weer ’n paar keer. “Eers was dit Maandagaande. Toe ’n paar aande per week.” Sy sug bewerig. “Nou is dit elke aand behalwe Sondae.” ’n Snik onderbreek haar voordat sy verder kan praat. “Ek weet hy is belangrik. Hy is ’n grootkop- godsdienstige vryheidsvegter. Mense het hom nodig. Ek verstaan dit.” Sy snuif weer. “Maar ek en die kinders . . . Ons het hom ook nodig.” Sy huiwer. “Ek is nie seker hoeveel meer ek kan verduur nie, Ash.”

“Ai, ek hoor jou, Reagan. Ek hoor wat jy sê.” Ashley voel die dringendheid aan. “Het jy met Luke hieroor gepraat? Hom vertel hoe jy voel?”

“Ek het probeer.” Sy klink verslae en verlore. “Hy is te besig om te luister.” Sy begin weer huil. “Ek moes jou net bel.”

“Ek is bly jy het gebel.” Ashley wens sy en Reagan kan persoonlik gesels. Maar haar broer woon bykans ’n uur se ry weg en sy sien Devin, Amy en Janessa al in die oprit aankom. “Kom ons maak so. Ek gaan jou oor ’n halfuur terugbel en dan kan ons ’n plan maak.”

Reagan stem in en teen die tyd dat Ashley haar terugbel, klink Reagan meer in beheer van sake. “Wat jy my voorheen gevra het, het my laat dink. As ek vir hom sê dis belangrik, sal hy na my luister. Ek ken Luke.”

Verligting spoel deur Ashley en sy glimlag. “Dis wat ek ook dink.”

“Ek gaan hom nou bel.” Reagan se stem spreek van ’n nuwe vasberadenheid. “Dalk kan ek en hy vanaand gesels.”

“Ja. Dis ’n goeie plan.” Ashley huiwer. “Ek sal bid vir ’n deurbraak. Miskien kan jy my later bel, om my te laat weet hoe dit gegaan het.”

“Ek sal.” Reagan se stem hou die begin van ’n glimlag in. “Dit sal reg uitwerk. God sal my die woorde gee.”

“Nou ja toe!” Ashley het buitentoe gestap om met haar skoonsuster te praat, ingeval dit ’n private gesprek sou word. Noudat hulle klaar gesels het, stap sy weer in. Die kinders is by die kombuistafel besig om huiswerk te doen. Amy kyk op, haar oë vol vrees. “Is alles reg?”

“Ja, liefie.” Ashley antwoord doelbewus vinnig. Sy glimlag vir haar susterskind. “Ek en tannie Reagan het net bietjie gesels.”

“O goed.” Kommer lê vir nog ’n paar oomblikke vlak in die meisie se oë. Toe gaan sy aan met haar skoolwerk.

Ashley voel jammer vir die kind. Arme Amy. Meer as enigeen van die kinders, is Ashley se jong niggie baie bewus van potensiële slegte nuus. En hoe dan anders. Nadat sy haar ouers en susters jare gelede in ’n verskriklike motorongeluk verloor het, kan Amy nie anders as om sensitief te wees nie. Ashley stap nader en sit haar hande op Amy se skouers. “Wiskunde vandag?”

Amy knik. “More is die eerste toets.”

“Wel, as dit gaan soos met jou ander wiskundetoetse, gaan jy lag-lag ’n A kry.”

Amy kyk glimlaggend op na haar. “Dink Tannie so?”

Ashley soen haar op haar kop. “Baie beslis.”

Sy stap om die tafel. Devin is besig met flitskaarte vir ’n wetenskapseksamen. “Ma en Pa kan my later hieroor toets.” Hy grinnik vir Ashley. “Ek voel goed hieroor. Maar nogtans . . .”

“Flitskaarte is ons gunsteling.” Ashley is mal daaroor dat Devin sy ouer broer, Cole, se selfvertroue het. Hulle is in soveel opsigte verskillend. Cole is meer van ’n leier. Maar Devin leer vinnig, en op oomblikke soos nou is daar geen twyfel dat hulle broers is nie.

“Kyk na my werk, Mammie.” Janessa wink Ashley na haar punt van die tafel toe. “Ek is besig om vir jou ’n prentjie in te kleur.”

Janessa het een keer per week spelwoorde vir huiswerk. Maar Ashley is so bly en dankbaar dat haar dogtertjie nog genoeg tyd het om in te kleur. Soos Ashley, is Janessa lief daarvoor om te skep. Ashley trek ’n stoel nader en bekyk haar kunswerk. Dis interessant, Skat. “Vertel my meer daarvan.”

“Wel.” Janessa trek haar asem dramaties in, asof haar verklaring op daardie oomblik tot uiting gaan kom. “Die bome is blou omdat die lug op hulle skyn.” Sy kyk op na Ashley. “Dis mooi, nè?”

“Baie mooi.”

’n Halfuur later toe Cole en Landon by die huis aankom, is Ashley nog saam met die kinders by die kombuistafel. Volgende aan die beurt is aandete en ’n gelag en besonderhede van elkeen se dag. Tussendeur die oomblikke wat sy nie wil misloop nie, doen Ashley wat sy gesê het sy sal doen.

Sy bid.

Here, open asseblief Luke se hart. Help hom om die veranderings wat hy vir Reagan en die kinders moet maak, raak te sien.Ja, hy werk vir sy geloof. Maar as hy sake wen ten koste van sy gesin, sal die oorwinnings tot een groot onherstelbare verlies lei.

Niks meer nie.

Janessa is al in die bed en die ander speel tafeltennis saam met Landon toe Reagan uiteindelik terugbel.

“Ashley!” Haar stem is lig en lewendig. “Jy was reg! Ek moes lankal met hom gepraat het.”

“Wat het hy gesê?” Ashley is so bly dat haar skoonsuster haar vertrou. Luke is een van Ashley se beste vriende. En Ashley kon dit van die begin af van Reagan ook sê. Sy hoor hoe Reagan sag lag. “Wel, kom ons sê net hy is baiejammer. Hy gaan minder werk en ons twee gaan meer tyd maak om alleen saam te wees.” Haar stemtoon raak ernstiger. “Regtig, Ash. Sy oë was vol trane. Hy gaan verander. Ek glo dit.”

Die gesprek duur nog ’n paar minute voordat Ashley die foon neersit en by Landon en die kinders aansluit. Sy is dankbaar dat Luke so maklik Reagan se kant van die saak ingesien het. Dit is Luke se aard om alles in te sit vir sy werk. Die balans wat hy nou vir Reagan belowe het, is presies wat hy nodig het.

Ashley kan maar net bid dat Luke nie mettertyd van sy belofte sal vergeet nie.”

’n Oomblik in tyd deur Karen Kingsbury word deur Struik Christian Media uitgegee.

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van ’n Oomblik in tyddeur Karen Kingsbury wen. Stuur jou naam, adres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae @leef. Wat is die naam van die onderwyser wat die Bybelstudieprogram by Hoërskool Hamilton aanbied? Sluitingsdatum: 30 Junie 2018.
2018-05-31T22:28:58+00:00