Boekgesprek

Lééf gesels met debuutskrywer, Lisl Barnes oor Losing Emma … Finding Hope, ’n aangrypende boek oor hul gesin se stryd teen kinderkanker; die hartseer en verlies van hul dogter, Emma; en die hoop en vrede wat hul van God ontvang het.

Ouerskap is onder normale omstandighede ’n groot uitdaging, maar wanneer jy die woorde hoor, “jou kind het kanker”, kom daar nuwe en onverwagte uitdagings oor jou pad. Jy kan een van twee dinge doen – of weghardloop óf die uitdagings met durf aanpak en ervaar hoe elke uitdaging ook ’n geleentheid word om met ’n positiewe ingesteldheid te leef en die groter prentjie te kan raaksien. Daar is altyd versteekte hoop in alles wat gebeur.

Lisl Barnes woon in Vanderbijlpark saam met haar man Michael en twee viervoetige kinders. Sy is onder meer musiekonderwyseres, sangeres en blogger, maar help ook graag as vrywilliger by verskeie kinderkanker-liefdadigheidsorganisasies. In haar vrye tyd geniet sy dit ook om te hekel, naaldwerk te doen of te skilder. Dit is vir haar ’n passie om mense in te lig oor kinderkanker – om mense te laat verstaan wat dit werklik is. Sy wil mense help verstaan dat dit nie net oor oorlewing gaan nie, maar ook oor hoe mens weer kan lééf na die verlies van ’n kind.

Vraag: Voor ons oor jou boek gesels, vertel eers vir ons meer oor jouself en veral Emma?

Antwoord: Ek het in Pretoria grootgeword as deel van ’n baie musikale gesin. My ouers het my aangemoedig om my hart te volg en daarom het ek besluit om musiek-onderrig te studeer. Gedurende my derde jaar het ek ’n ingenieurstudent ontmoet. Ek het vinnig agtergekom dat hy my trouman is. Ek en Michael is in 2007 getroud, amper vier jaar na ons eerste ontmoeting. Ons het in 2009 na die Vaal verhuis weens Michael se werk en ek het werk gekry by ’n plaaslike skool as onderwyseres. Ons het begin dink aan ’n gesin en het in April 2010 die nuus ontvang dat ek swanger is.

Emma is op 17 Januarie 2011 gebore, ’n pragtige en gesonde dogtertjie. Sy is egter op 13 Desember 2013, ’n maand voor haar derde verjaardag, met kanker gediagnoseer. Wat hierop gevolg het was nege maande gevul met moeilike besluite, uitputting en pyn. Dit was nie alles altyd sleg nie en daar was tye wat ons net ’n gewone gesin was wat saam kon lag. Maar op 13 September 2014 is Emma oorlede. Ons het die eerste paar maande na Emma se dood ongelooflik gerou – daar was tye waar ek nie eens die mees eenvoudige daaglikse take kon uitvoer nie. Soos wat die tyd verbygegaan het, het ons stelselmatig begin leer om met die pyn van ons verlies saam te leef en was dit al hoe minder verlammend. Ons het begin groei deur die pyn.

Nou kan ons oor Emma praat en ons storie met ander deel. En wanneer ek nie besig is om dít te doen nie, is ek betrokke in musiekbediening of hou ek myself besig met hekelwerk.

 

Vraag: Jy het tydens julle ervaring met Emma ’n blog begin skryf. Wat het jou laat besluit om die boek te skryf? Was dit ’n uitvloeisel van die blog?

Antwoord:Op ’n aand toe Emma weer in die hospitaal was, het ek en van die ander mammas gesels oor wat ons gevoel het ander mense behoort te weet oor dit wat ons elke dag met ons siek kinders deurmaak. ’n Vriendin het voorgestel dat ek my ervarings neerskryf en so het my blog begin. Ek het al hoe meer gedrewe gevoel om alles neer te skryf, om elke gedagte en emosie te deel met mense – om ons lewe in die ware sin van die woord aan ander te ontbloot.

My doel in die begin was om die mense wat ons ondersteun, diegene wat in die proses deel geword het van ons lewe, in te lig en te help, maar mettertyd het dit ’n stuk gereedskap geword wat my gehelp het met die verwerking van my pyn.

Elke keer wat ek in die vroeëoggendure gesit en geskryf het, was dit vir my ’n geleentheid om alles wat in my hart opgehoop het, uit te stort. Dit het my gehelp om ons nuwe lewe te hanteer, en God het ongelooflik baie deur middel van my skrywery met my gepraat.

Tydens Emma se behandeling het ek soms met vriende en familie (asook Emma) gegrap dat ek dit alles eendag in ’n boek sal publiseer.

Na Emma se dood het ek bly skryf aan die blog. Dit was omtrent sewe maande na Emma se dood dat ek besef het dat die droom van ’n boek ’n realiteit moet word. Ek het begin om afskrifte van al die blog-plasings te sorteer – ek het onderstreep, bewerk, bygevoeg en gekrabbel. En so het die boek vorm begin aanneem.

Met die professionele advies en hulp van ’n goeie vriendin, baie laat aande, baie koffie, bloed, sweet en trane, het ons reggekom. En amper ’n jaar en ’n half later, is bokse vol kopieë van “Losing Emma … Finding Hope” by ons huis afgelewer – twee jaar na Emma se afsterwe.

Ek het aangehou met die blog nadat die boek verskyn het. Dit bring steeds groot genesing vir my en help baie met die bewusmaking van kinderkanker, droefheid, en ons persoonlike reis deur dit alles.

 

Vraag: Vir wie het jy die boek geskryf?

Antwoord: Ek het meestal die boek vir Emma geskryf. Ek kan my net indink hoe opgewonde sy sou gewees het oor ’n boek oor haarself.

Ek het dit ook vir vriende, familie en vreemdelinge geskryf – om hulle te help met die “wie, wat en hoe” van kinderkanker en die smart en hartseer wat ouers deurgaan met die verlies van ’n kind.

Ek het dit vir ander ouers geskryf wat ook rou oor hul kinders, om vir hulle te wys dat hulle nie alleen is nie.

En laastens het ek dit vir myself geskryf. Deur die skryfproses het God gereeld met my gepraat. Dis asof ek hom die duidelikste kon hoor terwyl ek besig was om te tik. Hy het my skryf van ‘n boek gebruik om my hart te genees.

Vraag: Wat was vir jou die moeilikste tydens die saamstel en skryf van die boek?

Antwoord: Terwyl ek die blog geskryf het (en ook die boek), was die moeilikste oomblikke daardie tye wat ek my eie emosies moes konfronteer, die tye wat God met my gewerk het en my gevorm het. Maar die moeilikste gedeelte van skryf is omtrent nooit die skryf self – dit is in die logistiek agter die skryf, om seker te maak alles is net soos dit moet wees. Om te sorg dat die fokus van die boek deurgaans eg bly, dat dit nie gaan oor wie ék is nie, maar oor wie Gód is.

Vraag: Wat is die boodskap wat jy met dié boek wil oordra?

Antwoord: Die boodskap van die boek is dat God in beheer is. Hy het die perfekte plan vir ons lewens en Hy maak nie foute nie. Daar gaan moeilike tye wees, maar Hy laat dit alles ten goede meewerk vir ons omdat ons Hom liefhet. Wanneer die lewe onmoontlik voel, moet jy onthou God is dáár en as jy weet dat Sy perfekte plan gevul is met hoop, is dit heelwat makliker om die moeilike tye te oorleef.

 

Vraag: Hoe het dit vir jou gevoel toe jy die eerste kopie van die boek in jou hand vasgehou het?

Antwoord: Die enigste ander keer wat ek sulke oorweldigende vreugde ervaar het was toe ek Emma vir die eerste keer vasgehou het na haar geboorte. Toe ek die eerste proefkopie van die boek gekry het, was ek sprakeloos (iets wat mense wat my goed ken nie sal kan glo nie), die besef dat my droom om Emma se storie met ander in boekvorm te deel, uiteindelik ’n realiteit is.

 

Vraag: Die omslag en illustrasies in die boek is besonders en vertel opsigself ’n storie. Vertel ons meer hieroor?

Antwoord: Na Emma se dood, het my goeie vriendin Dana Espag vir my ’n skildery van Emma gegee. Sy het die wese van Emma so goed vasgevang dat ek onmiddellik in trane uitgebars het. Dit was dus ’n vanselfsprekende keuse om haar te vra om die illustrasies en uitleg van die boek te doen. Sy doen illustrasies en bladuitleg as beroep, maar met hierdie boek was dit vir haar baie meer as net nog ’n taak. Met elke nuwe versoek wat ek deurgegee het oor die lettertipe, ’n illustrasie, of die uitleg, het sy haarself oortref. Elke keer as Dana ’n nuwe illustrasie van Emma gedoen het, het dit vir my gevoel asof ek na ’n foto van haar kyk wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Sonder die illustrasies sou die boek net ‘n inspirerende storie gewees het, maar met al Dana se hardewerk en talent is dit ‘n boek wat lewens verander.

Vraag: Was hierdie ’n eenmalige projek of beplan jy om nog ’n boek te skryf? 

Antwoord: As ek sê, gee ek mos alles weg! Maar in alle eerlikheid is ek nie seker nie. Ek beplan nie enige spesifieke boeke vir die toekoms nie, maar aan die ander kant het ek ook nie vier en ’n half jaar gelede beplan om hierdie een te skryf nie. Baie van my vriende en familie het my aangemoedig om aan te hou skryf, so die moontlikheid bestaan. Net God weet wat die toekoms vir my inhou.

Losing Emma … Finding Hopedeur Lisl Barnes is beskikbaar by alle CUM Boeke winkels landwyd of bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/losing-emma-finding-hope-paperback

2018-05-31T22:26:38+00:00