Lééf as gesin

Beskermde skermtyd

Deur Schalk Schoombie | Foto Pexels

Wat kan ouers doen om hul kinders te beveilig teen die euwels van die internet? En hoe kan hulle tegnologie inspan om bondgenote in opvoeding te word? Dit is die dubbele fokus van ’n nuwe bewussyn van ouerskap in die digitale era.

’n Onlangse artikel in Time Magazine (23 April 2018), wat handel oor die invloed van digitale toestelle op oud en jonk, word geïllustreer met ’n humoristiese foto.

’n Groep skoolkinders op ’n uitstappie na ’n kunsmuseum sit in ’n lang ry op ’n bank voor Rembrandt se beroemde skildery, Die Nagwag. Nie een van die tieners kyk op na die asemrowende kunswerk nie. Almal is gebuig oor hul slimfone, vasgenael op hul skerms.

Waarna kyk hulle so aandagtig? Dalk meer inligting oor die skildery? Dalk iets minder opbouend?

Amerikaners spandeer gemiddeld vyf uur per dag op hul slimfone, aldus Time. Sowat 45% van Amerikaanse kinders tussen 10 en 12 besit hul eie slimfone. Sowat 58% van Amerikaanse ouers is besorg dat hul kinders te verknog aan hul toestelle raak.

Volgens dieselfde peiling kyk mense gemiddeld 47 keer per dag na hul fone en daar verloop gemiddeld 19 minute tussen die kere wat mense hul foonskerms beloer.

’n Nuwe revolusie

“Hierdie generasie het soveel meer keuses wanneer dit kom by toegang tot informasie,” sê Lulu Burger van Onsite Group in Johannesburg. “My seun se algemene kennis is baie wyd omdat hy soveel Youtube-video’s kyk. Hy het keuses oor wat hy wil kyk en dit word gedryf deur sy nuuskierigheid oor die wêreld om hom.”

Lulu ontwikkel opvoedkundige aanlynkursusse vir ’n nuwe maatskappy, HecTo Life (hectolife.co.za), wat gemik is op vroue en hul families en fokus op die benutting van alle digitale toestelle soos skootrekenaars, tablette en veral slimfone.

“In ons grootwordjare het ons briefies rondgestuur en al ons kennis deur ons onderwysers, ouers of boeke gekry. Nou het jongmense toegang tot veel wyer perspektiewe en insigte. Dit is nou belangriker as ooit om hierdie generasie te leer om ’n balans te hê, om te weet wat hulle globale profiel is en om krities te dink oor sosiale media en nuus.

“Ons kinders is gebore in die wêreld van tegnologie, verandering en ’n konstante vloei van informasie. Die feit dat tegnologie groei en verander, beteken dat ons as ouers ons benadering ten opsigte van ons verhouding met ons kinders verander. “Ek is betrokke by skole en lewer gereeld praatjies oor kinders, ouers en die gebruik van tegnologie. Hierdie projek gee my nou die geleentheid om meer ouers te bereik en skep die geleentheid vir ouers om in hulle eie tyd te leer en te verstaan.”

‘As ons ingelig is, kan ons met selfvertroue planne beraam, gesprekke voer en die respek van ons kinders wen.’

Anders bedraad

Vandag se jongmense is “anders bedraad” as vorige generasies, sê Johan Ferreira, ’n sielkundige van Johannesburg wat ook by HecTo Life betrokke is.

“Hul breine is beslis anders ingestel teenoor tegnologie, want hulle het daarmee grootgeword. Hulle neurologiese samestelling verskil reeds van vorige generasies. Ons moet nie die baba met die badwater uitgooi en die voordele van tegnologie miskyk nie, maar onbeperkte toegang tot tegnologie lei daartoe dat die neurologiese werking van die brein belemmer word. Die belewenis van alledaagse aktiwiteite word sterk negatief beïnvloed in verslaafde kinders, en tieners wil uiteindelik niks anders doen as om met tegnologie besig te wees nie.”

Die internet en tuistegnologie bied ’n nimmereindigende stroom van vermaak en kitskommunikasie met vriende én vreemdelinge: videospeletjies, Youtube-video’s, WhatsApp, Snapchat, Facebook ensovoort.

Die grootste gevaar van tegnologie is verslawing, waarsku Johan, die onvermoë om die hoeveelheid tyd en inhoud van blootstelling aan tegnologie te selfreguleer.

“Die meeste ouers is totaal oningelig oor die gevare. Hulle weet nie wat op die slimfone van hul kinders aangaan nie, hulle monitor nie die inhoud of die toepassings nie – hulle weet nie eens watter toepassings hulle kinders gebruik en hoe dit werk nie. Hulle het nie ’n idee of hulle kinders met vreemdelinge gesels nie. Hulle weet nie van kuberboelies nie en is totaal naïef oor kuber-afpersing en pornografieblootstelling.

“Ek is genader deur Ilze Dijkstra om te hoor of ek dink daar bestaan ’n behoefte aan beter, meer en korrekte inliging oor digitale blootstelling by kinders,” onthou Johan. “Ek was reeds besig met opleiding oor die onderwerp en het ingestem om die sielkundige benadering tot digitale blootstelling vir hulle in kursusformaat te skryf. Daar is ’n meetbare tekort aan toepaslike inligting by die algemene publiek oor die effek van ongereguleerde blootstelling aan tegnologie.

“Ons het gekyk na die sielkundige uitvalle wat kinders en tieners beleef indien hulle onbeperkte toegang tot tegnologie het. Ek het probeer om ’n gebalanseerde uitkyk te bied tussen die positiewe en negatiewe uitkomste wat ek in die praktyk sien.”

Koop die tyd uit

Lulu Burger glo dit hang eerder af van waarmee jongmense besig is as hoeveel tyd hulle op die internet spandeer.

“Ons is as grootmense ook besig op ons toestelle vir groot gedeeltes van die dag – ons werk, sosialiseer en leer. My pa het my geleer dat balans belangrik is. As volwassenes is dit ons verantwoordelikheid om ons kinders balans en selfregulasie te leer en om dit te monitor. Ons moet die positiewe invloed van sosiale media met hulle bespreek, want dit kan ’n kragtige stuk gereedskap wees om konstruktiewe sosiale verandering mee te bring.

“Ouers lewe in vrees want hulle weet eenvoudig nie genoeg nie. Dit is juis hoekom hierdie kursusse oor digitale ouerskap van sleutelbelang is. As ons ingelig is, kan ons met selfvertroue planne beraam, gesprekke voer en die respek van ons kinders wen.

“Ingeligte ouers kan sodoende beter besluite neem oor die gebruik van tegnologie en sosiale media. Ons weet reeds dat ons kinders tegnologie op vlakke gebruik wat wyd strek, en dit is nie noodwendig om te boelie of gemeen met mekaar te wees nie.”

‘Elke keer wat ’n selfoon lui of ’n boodskap inkom, neem die kind se brein tot 12 minute om weer te herfokus.’

Studietyd

“Dit is belangrik om die gesprek te hê met jou tiener oor die gebruik van ’n toestel wanneer hulle moet fokus om te studeer,” beveel Lulu aan.

“As hulle net musiek luister en dit maak leer makliker, is dit nie ’n probleem nie. Maar speletjies, Youtube-video’s en aanhoudende WhatsApp-praatjies kan hulle fokus benadeel. In die kursus verwys ek na sagteware wat kan help om jou tiener se toestelle dop te hou en te monitor. Dit is egter belangrik om nie net toepassings te blokkeer nie, gesels met hulle oor wat jy monitor, want dan kan julle saam besluite neem oor verantwoordelike gebruik.”

Johan stel voor dat selfone tydens studietyd afgeskakel of weggesit word. “Elke keer wat ’n selfoon lui of ’n boodskap inkom, neem die kind se brein tot 12 minute om weer te herfokus. So elke steurnis trek die aandag af en verlaag die gehalte van studietyd.”

Suiwer potensiaal

Ilze Dijkstra, bestuurder van HecTo Life, verduidelik die naam: “Dis die Grieks vir 100, 10². Dis waarna ons streef. ’n Getal wat geassosieer word met energie; ’n getal wat onafhanklik is en oneindige potensiaal het.”

Die eerste twee HecTo Life-kursusse, A Psychological Approach to Digital Parenting enA Technological Approach to Digital Parenting, bied praktiese raad aan ouers oor hoe om hulle kinders, veral ouer tieners, toe te rus om al die platforms op sosiale media en hul interaksie daarmee te hanteer.

Die kursusse verken die verskillende sosiale media toepassings (toeps) en platvorms in detail en verskaf inligting oor hoe om toeps te gebruik of te vermy. Advies en riglyne word verskaf oor digitale etiket en hoe om ’n goeie digitale rolmodel vir jou kind te wees.

Geen tiener wil ’n helikopter-ouer hê wat heeltyd oor sy/haar skouer loer nie, en daarom moet die klem op eie verantwoordelikheid, samewerking, ondersteuning en balans wees.

“Al stel tegnologie eise aan ons ouerskapstyle, kan dit ingespan word om ons kinders se toestelle effektief te monitor en beheer. Daar is wenke oor hoe om jou kind se skermtyd te beperk en hul internetgebruik ouderdomsgeskik in te span,” sê Ilze.

“Ons verken beide die sielkundige en die tegnologiese impak op ons kinders se interaksie met sosiale media, en verleen praktiese hulp oor hoe om digitale toestelle in jou huis opvoedkundig en veral opbouend in te span.

“Ouers kan hul eie kennis en vaardighede opknap om tred te hou met die nuwe sosiale landskap waarin hul kinders beweeg en ingelig raak oor hulle elektroniese regte en verantwoordelikhede.

“Ons is oortuig dat nuwe vaardighede nodig is vir die toekoms en dat groei en verandering genotvol, deurlopend en ’n lewenslange leerproses moet wees.”

Vasgenael

Die hedendaagse mens bly gekluister aan skerms; oor naweke én op vakansie, hetsy vir werk of vermaak; op rekenaars, slimfone, videospeletjies, televisie. Ure der ure van stip staar na digitale skerms kan ’n negatiewe en verslawende invloed op tieners en volwassenes hê. Sowat ’n derde van 12- tot 15-jariges kyk TV en gebruik die rekenaar vir twee ure per dag. Sowat sewe persent spandeer meer as vyf ure voor skerms. Dit is ’n toename van meer as twee en ’n half ure oor die afgelope dekade, volgens die Amerikaanse Akademie van Pediatrie. Oormatige skermtyd word verbind aan slegte eetgewoontes, gewigprobleme, slaaptekort, probleme by die skool, pyn in die vingers, gewrigte, nek en rug en plaas stremming op die oë. Tieners stuur gemiddeld 34 teksboodskappe ná hulle in die bed klim. Vier ure skermtyd per dag kan veroorsaak dat tieners 20 minute langer neem om aan die slaap te raak. (Bron: https://www.statefarm.com/simple-insights/family/the-effects-of-too-much-screen-time)

Besoek die webwerf https://hectolife.co.za/of stuur e-pos aan info@hectolife.co.za

2018-06-01T10:19:27+00:00