Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

Ouerskap is nie vir sissies nie. Dit weet elke ma en pa wat al voor die spieël gesit en gryshare uittrek het. Om kinders groot te maak wat funksionele lewens kan lei en hul potensiaal verwesenlik, is die ideaal waarna elke ouer streef. Maar hoe doen jy dit?

As ouers vervul ons baie rolle in ons kinders se lewens. Ons sien onsself dikwels as rigtingwyser en raadgewer en voel meestal gemaklik in daardie rolle omdat ons put uit ons eie lewenservaring. Maar sê nou net daar is ’n ander manier? Een waardeur jy nié jou kind stuur deur suiwer te put uit jou idees en ervaring nie, maar hom eerder toelaat om homself te ontdek en sy eie bootjie te stuur?

Ouers voel soms skrikkerig by dié idee. Hulle het visioene van hul kind se bootjie wat voortydig op die rotse loop – met hulle wat die verwoesting moet opruim en die wonde moet genees. Maar hier is die ding: jou kind móét leer om vir homself te dink, om sy eie keuses te maak en besluite te neem, verantwoording vir sy lewe te aanvaar en eienaarskap te neem vir die stuur van sy bootjie. Daar is geen beter tyd om met hierdie lesse te begin as terwyl jý daar is om in te gryp wanneer dinge hand wil uitruk nie.

Die eerste aspek van hierdie soort leiding is om jouself te vra hoe jy jou rol in jou kind se lewe sien. Ons is dikwels geneig om voorskriftelik te wees en opdragte uit te deel. Dis immers net soveel makliker. Maar deur dít te doen, laat jy vir jou kind geen ruimte om enigsins self eienaarskap van die uitkomste neem nie. Hy reageer uit gehoorsaamheid (of nie) en raak boonop dalk heel rebels in die proses. Wanneer jy egter ’n bietjie terugstaan en aan jouself dink as ’n lewensafrigter vir jou kind, verander die situasie. Nou moet jou kind met die oplossing vir die probleem na vore kom, verantwoordelikheid vir die uitvoering daarvan aanvaar en eienaarskap neem van die sukses – of mislukking – daarvan.

Vra jouself: Dikteer ek vir my kinders wat hulle moet doen, voel, sê, of hoe hulle moet leef? Is ek voorskriftelik in my benadering of laat ek ruimte sodat hulle kan groei en ontwikkel en hul eie besluite neem?

Die tweede aspek van hierdie soort ouerleiding is dat dit nie beteken jy abdikeer jou verantwoordelikheid nie. Daar is ’n fyn balans tussen om jou kind te onderrig – of eerder, af te rig – sodat hy iemand word wat verstaan waar sy verantwoordelikhede lê en weet hoe om eienaarskap daarvan te neem en om terug te staan en jou arms te vou terwyl jy oë toeknyp en hoop en bid op die beste. Jy wil jou kind afrig en lei, nie uitlos nie. Dit verg nuwe vaardighede.

Vra jouself: Hoe kan ek begin om weg te beweeg van voorskriftelikheid en in die rigting van verantwoordbaarheid en eienaarskap by my kind sonder om my rol te abdikeer?

Die derde aspek is dat jou kind leer om homself te motiveer, verantwoordbaarheid aanleer en eienaarskap neem van sy lewe, sy keuses en die gevolge daarvan. Hierdie is wonderlike eienskappe by enige mens en soveel te meer by ’n kind. Dit is die beste manier om te verseker dat jou kind ’n funksionele lewe lei waardeur hy sy potensiaal en roeping in die lewe ten volle vervul. Dit gebeur geleidelik wanneer jy begin met klein besluite en keuses waardeur hierdie eienskappe aangeleer word. Met die verloop van tyd leer jy jou kind die vaardighede wat dit vir hom moontlik maak om goeie keuses te maak en gesonde besluite te neem. En omdat hy eienaarskap daarvan het, en dus ook van die goeie uitkomste, bring dit terselfdertyd mee dat hy gemotiveerd is om selfs meer te doen en nog beter te presteer.

Vra jouself: Leer ek my kind om verantwoordelikheid te aanvaar en eienaarskap te neem of ontneem ek hom dit deur voorskriftelik te wees?

Amanda de Lange is ’n veranderingstrateeg, meester-lewensafrigter en spreker. Kontak haar by 0846090344 of stuur ’n e-pos na amanda.dlange@gmail.com.

Kontak Amanda as jy wil bespreek vir ’n spesiale werkswinkel waar Amanda ouers toerus om as lewensafrigters in hul kind se lewe kan optree.

2018-04-30T20:06:50+00:00