Hartstog

Vat My hand

Foto’s Riekie Greyling & Christine Ferreira

Riekie Greyling vertel van ’n pelgrimsreis na Israel gevul met heilige momente …

“So? Hoe was Griekeland?” vra ’n vriendin terwyl sy ’n stukkie melktert soos ’n Checkers trollie in haar spierwit koekbordjie rond stoot.

“Israel. Ons was in Israel,” sê ek met die geduld van Job.

“O. Dis in elk geval amper dieselfde, is dit nie? Het jy die krip in die stal in Bethlehem gesien? En die omgetuimelde mure van Jerigo? Die reuse druiwetrosse uit die land van Kanaän?,” vra sy so effe onseker onder haar bril deur.

“Nee. Dis twee verskillende wêrelde. Griekeland is Zeus en Athena en Pythagoras. Israel is Jesus. Paulus. Pontius Pilatus. Israel is die Heilige Land.”

Ek kan sien hoe sy vinnig haar geheuebank oopsluit en deur die vergeelde bladsye van ’n verouderde kinderbybel blaai.

Ek kies die moeilike pad.

“Hande,” sê ek. “Vir my was die hoogtepunt hande.”

“Bedoel jy Handelinge van die Apostels soos in die vyfde boek van die Nuwe Testament?” vra sy nou met bietjie meer sekerheid maar steeds met ’n titseltjie ongeloof.

“Nee. Ek bedoel hande soos in ledemate.

“Die bakkies vlees met vingers aan die einde van jou arms. Hande soos in onvoorwaardelik gee, neem en vashou.

“Soos bakhand staan en kaalvoet wag vir aalmoese langs stofpaadjes aan die buitekant van eeue-oue sandsteen-stadsmure.

“Hande soos in twee palms styf teen mekaar gepers met wysvingers wat soos ’n kompaspunt loodreg en biddend hemelwaarts toe wys.

“Hande wat om vrywaring en regverdiging vir ’n genadelose daad vra en ’n desperate poging aanwend om die onskuldige bloed van ’n veroordeelde koning, in ’n skottel water voor die massas af te was.

“En bloeiende, deurboorde hande. Vasgespyker teen die donker dwarsbalk van ’n houtkruis,” sê ek.

My vriendin vleg haar vingers soos ’n broodmandjie inmekaar en kyk met dowwe oë na ’n vrou wat met ’n Labrador-gidshond verby ons tafel stap.

“Ek sien,” sê sy.

Ek hoop so, dink ek.

“Wat nog?” vra sy.

“Wel behalwe dit, het ek en skoonsus Hannie my oorlede boetie se asse in die spiëelgladde See van Galilea gestrooi. Van ’n bootjie af. Net voor sonsondergang.

“Iets heiligs het daar gebeur. Behalwe vir die somberheid van die oomblik en die engelstemme van ’n groep jongmense wat die Here spontaan loof en eer terwyl ons afskeid neem, het daar iets amper soos ’n wonderwerk gebeur.”

My vriendin druk die groen stuurknoppie op haar selfoon en ek sien hoe ’n foto van die skuimhartjie op haar cappuccino die kuberhoofweg in-spoed.

“O gonna! Het die bootjie gelek? Was daar ’n storm?” vra sy grootoog.

“Nee. Inteendeel. Net toe die laaste growwe stukkies grys oorskot van my broer uit ons hande deur ’n briesie vir ewig die water inwaai, kyk ek op. En daar, ’n duisend voet bokant ons koppe, in die sagtheid van ’n lig pienk hemel, vlieg honderde trekvoëls geluidloos in ’n volmaakte pyl-formasie na hul rusplek vir die nag. ’n Onvergeetlike, salige oomblik. ’n Teken.”

Hande wat om vrywaring en regverdiging vir ’n genadelose daad vra en ’n desperate poging aanwend om die onskuldige bloed van ’n veroordeelde koning in ’n skottel water voor die massas af te was.

Ek sien hoe dié stelling my vriendin verwar. Sy roer haar koffie amper soos ’n besetene.

“Watse soort teken?” kom die vraag voorspelbaar en op die punt af.

Ek bly vir ’n oomblik stil.

“Dit was asof God Sy hande op my kroontjie neerlê en toe Sy vingerafdruk op my voorkop los. Soos ’n teken. Herstellend en bewarend.”

“Jinne. Dis diep,” sê sy ongemaklik en wuif die kelner nader.

“O ja. En ek het bo-op die majestueuse berg Masada links gedraai en die Snake Path bordjies gevolg en alleen die lang klipperige kronkel paadjie afwaarts aangepak.

“In die hitte van ’n Maart-woestynmiddag met blink skimme van die Dooie See wat turkoois en souterig stil op die horison lê. My knieë krakerig en seer maar my hart pompend, my kop gereed en my innige binneste trots. Ek het die uitdaging om my kruis te dra, aanvaar.

“O. Dis nice.”

Ek slaan my oë op na onsigbare berge en vra vir nog ’n bietjie geduld.

“En ek het die onvoorwaardelike liefde van vreemdelinge wat soos engele van nêrens my lewe in gevlieg het, myne gemaak.”

“O. Ek sien. Ek loop nou. Totsiens,” sê my vriendin sonder om weer my kant toe te kyk.

“Reg,” sê ek en betaal die rekening.

Ek sit en staar verby alles en almal en ek onthou. Ek onthou die oneindige uitsig oor vier lande van die Golan-hoogtes af.

Ek dink aan Marzanne se twee sagte hande wat seënend waghou oor die brood en wyn op ’n eenvoudig gedekte tafel in die ewige stad Jerusalem waar ons soos ’n regte familie Shabbat vier.

Ek dink aan skaapwagters en nagmaal by die Tuingraf en mense wat in lang wit klede in die Jordaanrivier herdoop word.

Ek loop op Romeinse sypaadjies, stap ligvoets oor die oorblyfsels van ’n Bisantynse straat en sit in die gerestoreerde amfiteater in Cesarea waar ek my oë toemaak en na die dawerende applous van ’n skare luister wat die wêreld hulle arena maak.

Ek klap hande die helder blou hemel in terwyl ek uit volle bors my geseëndheid vanaf die Olyfberg uitbasuin.

Ek huil soos ’n baba met my hande uitgestrek en voorkop styf vasgedruk teen die louwarm Klaagmuur. Ek herhaal Jesus se laaste kruiswoorde ‘Vader in u hande gee Ek my gees oor’ in die gleuwe van lymsteenblokke in.

Ek gee totaal oor.

Ek dink aan tuin van Getsemane en Salomo se tempel.

Ek huil oor die perfekte skoonheid van die Chagall-loodglasvensters by die Hadassah Ein Kerem-hospitaal.

Ek stap die Via Dolorosa saam met derduisende singende en biddende pelgrims en beur stadig die kronkelpaadjie uit. Ons volg soos skape ’n onsigbare maar matige oortuigingkrag van die Lydensweg na Golgota.

Reg voor my sukkel ’n tannie met haar lyfie vraagteken kromgetrek, die heling uit. Haar dun grys haartjies bedek met ’n ligblou doek. Sy klou desperaat aan twee kieries in haar verrimpelde hande wat haar wankelrig op Sy weg hou. Groot blou are loop soos riviere deur die donker vlekke op haar vel wat eilande op haar knopperige kneukels vorm. Haar moeë maar vasberade oë vasgenael op die heilige weg voor haar, haar voete ongemaklik ingeprop in skewe, afgetrapte blou All Stars. Sy volg ’n kruis.

Ek ruik haar rou pyn soos ’n oop wond op die plek waar Jesus die eerste keer gestruikel het en hoor hoe sy ’n gebed prewel in haar eie pyn by die Aqabat al-Khanqah trappe oorkant die mark. Verby honderde geskenkwinkels met derduisende leerhandsakke, halva en speserye van die ooste.

Sy struikel weer en ek wil help maar my hande is afgekap in my eie stryd om nie te val nie.

Ek dink aan die vlug terug toe ek my reisgenoot se sagte handjie in myne neem.

Amper soos dié van ’n besorgde moeder. ’n Genadige en regverdige Vader.

“Dit was goed, nê?” sê sy net toe die vliegtuig se wiele die heilige grond raserig vir die laaste keer verlaat.

Ja dit was.

“Moet ek gaan met leë hande,” vra ek myself?

Nee.

Nooit weer nie.

2018-04-29T20:57:27+00:00