Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Wanneer ons tyd maak om die lewe deur ons siel te laat vloei, beleef ons die wêreld soveel anders. En lééf ons soveel meer.

Het jy ook al ervaar dat dit voel of God se liefde en Sy teenwoordigheid in jou lewe opdroog? Met tye beleef dat jy tasbaar naby aan Hom is net om Hom weer ’n ruk later as ’n vreemdeling te beleef?

Dit kan ’n mens nogal ontstel wanneer jy besef dat jy, om een of ander rede, van God verwyderd voel, net nie met Hom kan kontak maak nie. Selfs dalk nie eens lus voel om met Hom te praat nie. As jy op die oomblik op so ’n plek is, is dit dalk goed om net weer aan die volgende herinner te word:

  • Dis normaal en geen sonde of skande om so te voel nie: die grootste geloofshelde beleef tye van naby- én vêr-wees van hul Here.
  • Ons leef in ’n verhouding met God en jy sal weet dat enige verhouding deur tye van eb en vloed gaan: tye van ’n diep konneksie en ’n gevoel van liefde net om daarna weer afstand en vervreemding van mekaar te beleef. In ons verhouding met Hom is dit nie anders nie.
  • Vêr-van-God-voel-tye beteken egter nooit dat Hy opgehou het om sy liefdestroom deur jou te laat vloei nie. Veel eerder is dit ons eie harte se sluise wat tydelik toe is met dinge soos afstand, vergeet-van, besig wees of selfs kwaad wees.
  • Wanneer jy Hom die rug toekeer of sukkel om Hom in jou lewe te ervaar, beteken dit nie dat Hy nie daar is nie. Hy wag geduldig op jou “terugkoms” en wil jou graag weer diep bewus maak van sy liefde vir jou … wanneer jou hart gereed is.

Jy hoef nie geestelik dors deur die lewe te gaan nie; jy hoef ook nooit aan God se ewige stroom van genade te twyfel nie. Jy kan maar net, in woestyntye blý loop … totdat Sy oase van seën weer mildelik oor jou vloei. En jy weer ervaar: Sy lewegewende water omring jou voortdurend. Jy hoef maar net die kruik van jou hart skeppend te laat sak … om jou dors te les.

Waar us U?
Ek soek U, Here.
Te voet loop my hart
moeg-moeg
en struikelend oor die warm sand.
Ek sukkel, Here.
My ore hoor nie meer u Stem nie,
U hand rus nie meer op my skouer nie.
Ek sal wag …
totdat ek weer kan sien:
U was toe die deurentyd
hier knus by my.
Ek moes net my hart se kruik
weer skeppend in
u liefde doop.

Ribbok-mens

Daar was intense naby-God-tye in Dawid se lewe, want die Here was vir hom die Krag in sy slingervel, die Rots in sy ontvlugting, die Skuiling teen die wêreld, die Troos in sy hartseer. God se liefde het hom op hoë plekke laat staan. Tog het droogte ook soms in Dawid se hart kom grondvat, was daar ook tye wat hy smagtend na Hom verlang het.

Wanneer ons besef dat daar fout in ons lewe is, ons vrede weg is of ons onvergenoegdheid beleef, hoef ons nie te vêr te gaan soek nie, want die antwoord lê gewoonlik in die groot verlange na Hom: in ons lewensdors na die liefde. Dis dan wanneer ons maar net weer by Hom kan gaan sit, deur Sy Woord kan blaai en weer onthou: Hy ís getrou. Of wanneer ons die Gees kan vra om vir en namens ons te bid – omdat ons eie woorde nie wil vorm nie.

Daar is nie ʼn dag in jou lewe wat jy dors hoef in te gaan nie. Die Lewenswater omring jou. Skep net.

Boodskap: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water.”Psalm 63:2
2018-05-15T20:58:08+00:00