Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Beauty for Ashes

Deur Joyce Meyer (Struik Christian Media)

Daar is soveel mense wat op die oog af lyk of alles goed gaan in hulle lewens, maar wie aan die binnekant gebroke en gewond is. In hierdie boek sê prediker, Joyce Meyer onomwonde, daar is hoop tot innerlike genesing. Sy praat immers uit ervaring. As kind was sy die slagoffer van fisiese en seksuele mishandeling, maar staan vandag aan die hoof van ’n wêreldwye bediening. Bybelse waarhede, lering oor hoe om emosionele pyn te verwerk en God se onvoorwaardelike liefde aan te gryp, lei die leser tot ’n plek van genesing. R179,99.

Jy is sonder gelyke

Deur Lisa Bevere (Struik Christian Media)

In hierdie boek beskryf Lisa Bevere hoe ’n onthulling van God se liefde die siklus van vergelyking en wedywering verbreek. Eerder om ander as mededingers te beskou, leer sy jou hoe om daardie diep, intieme konneksie waarna jy smag met ons Skepper te vorm. Hierdie konneksie bevat die belofte van ware identiteit en intimiteit. Aan die hand van Bybelse lering deurweef met profetiese insig, lei die skrywer jou met humor en passie om sonder wedywer te begin leef. R189,95.

Jesus Calling 5 Devotions for Peace

Deur Sarah Young (Struik Christian Media)

Ons harte smag iedereen na vrede. Hierdie is die jongste boek in die Jesus Calling-reeks deur Sarah Young en bevat dié boek 50 dagstukkies en Skrifgedeeltes wat op ’n vars manier aangebied word om jou te lei tot die plek van vrede wat slegs Jesus jou kan bied. R89,95.

Is jy gereed vir die avontuur van ouerskap?

Deur Gary Chapman (CUM)

Gary Chapman, outeur van The 5 Love Languages span kragte saam met dr. Shannon Wardon – professor in berading, vrou, ma van drie – om jong ouers voor te berei vir die avontuur van kinders grootmaak. In hierdie boek deel hulle wat hulle wens hulle het geweet vóór hulle kinders gehad het, soos: kinders beïnvloed jou tyd, jou geld en jou huwelik – en dit is net die begin. Met ’n tikkie humor gee hulle praktiese raad vir alles van potjielesse tot skedules, om vir jou kind jammer te sê en hoe om jou huwelik sterk te hou … en dit alles terwyl jy die groot vreugde van kinders grootmaak vier. R169,95.

God is aan jou kant

Deur Nina Smit (Struik Christian Media)

Die moderne lewe is vol uitdagings: ’n besige leefstyl, ernstige siekte, eensaamheid, werkloosheid en gesinsprobleme. Nina Smit bemoedig jou in hierdie boek met 50 nuwe dagstukke en herinner ons dat God vir seker aan ons kant is. Die reeks dagstukkies lei jou tot ’n plek van oorwinning. Al wat jy hoef te doen is om jou probleme aan God oor te gee en jouself te sien soos Hy jou sien – as Sy geliefde kind. God staan gereed om in al jou behoeftes te voorsien. R149,95.

Raaiselkind

Deur Annelie Botes (Tafelberg)

’n Verhaal wat die kruis van outisme genadeloos oopvlek. Sentraal in hierdie aangrypende gegewe staan twee onvergeetlike vrouekarakters: Ingrid Dorfling, ma van Alexander, wat die grense van wanhoop oorskry met haar verbete stryd om die kind wat hulle hele gesinslewe ontwrig “mens” te laat word. En in die proses omtrent alles wat kosbaar is, verloor. Parallel met Ingrid staan Miriam– oppasma – wat met haar kinderlike godsvertroue en aardse wysheid die enigste is wat tot “Boetatjie” kan deurdring. R240.

Die hart van ’n onderwyser

Deur Karla Dornacher (CUM)

Onderwysers lei ons kinders met wysheid en begrip op die pad na die toekoms. Hulle gee daagliks soveel van hulself terwyl hulle help om karakter te bou, kennis te verbreed en die deur na die toekoms oop te sluit. Karla Dornacher vier hierdie belangrike rolmodelle in kinders se lewe in Die hart van ’n onderwyser met spesiaal uitgesoekte teksverse, kort gebede en inspirerende aanhalings wat afgerond word met pragtige illustrasies. Sê dankie vir ’n wonderlike onderwyser met hierdie volkleur-geskenkboekie vol inspirasie, bemoediging en seëninge. R69, 95.

’n Luiperd in my bed

Deur Annelize Slabbert (Tafelberg)

Annelize Slabbert was ’n joernalis in Johannesburg en haar man, Gerard, ’n apteker. Stedelinge. Toe word hulle moeg vir die lewe in die stad. Die spitsverkeer, die gebrek aan stilte en sterre. En hulle volg die krom wandelpad na die droom van landelike idille met skape en groen gras. Tot, uiteindelik, in die son en sand van die Sentraal-Kalahari in Botswana waar hulle ’n vierster-lodge bestuur. Wat kan dan nou verkeerd loop? ’n Ware verhaal, uitstekend vertel, skreeusnaaks en aangrypend. Jy sal ook die resepte aan die einde van elke hoofstuk geniet! R260.

2018-04-30T20:06:03+00:00