Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Klein kinders voel van nature goed oor hulself. Hulle is nie bewus van hul voorkoms of ander eienskappe wat hulle dalk in ’n groep kan laat uitstaan nie. In hul onbevange aangryp van die lewe en dit wat elke dag inhou, aanvaar hulle hulself sonder meer. Dis eers wanneer ander mense, veral volwassenes, kommentaar begin lewer op ’n kind se krulhare, of bry-r’e, of kort beentjies, of knopneusie, dat hy of sy selfbewus raak.

My oudste seuntjie was skaars vier jaar oud toe hy sy boonste voortandjies verloor het. Ek was baie ontsteld. So ’n voortydige haasbekkie was vir my as ma ’n teer saak. Sê nou net die maatjies spot hom? Of hy voel self verleë? En – ek moet eerlik wees – ek was self ’n bietjie bek-af. En ek het my kind se breëblink pêrelglimlag gemis.

Ek laat hom voor die spieël staan.

“Sê vir Mamma wat sien jy.”

“Ek thien my tanne ith uit.”

“En hoe lyk dit vir jou?”

“Dit lyk baie mooi.”

En daarmee was die saak afgehandel.

Ek het besef dat die probleem by my gelê het. Dit was ék wat gedink het my seuntjie sonder sy voortande lyk nie so mooi nie. Dit was ék wat skaam was. Ook oor wat mense moontlik kon sê. Hy was steeds dieselfde liefdevolle, spontane kind wat die dag met oop arms ingenooi het.

My vooropgesette idee oor sy voorkoms kon ’n baie negatiewe uitwerking op hom gehad het. Dit kon hom in sy dop laat kruip het of daartoe bygedra het dat hy ’n minderwaardigheidsgevoel ontwikkel. Gelukkig het ek gou genoeg tot die insig gekom dat vier tandjies regtig nie belangrik genoeg is om ’n kind se geluk te verseker of te steel nie.

Ons as ouers moet ons woorde tel. Dis meer dikwels óns wat aanvaarbaar wil wees. Dis meer dikwels óns wat wil inpas by die groep. Ons kinders word ons pronkstukke met wie ons heimlik wil spog. Ons voel trots wanneer hulle iets vermag. En ons voel afgehaal wanneer hulle nie inpas by die drukgroep nie – of dit nou deur voorkoms of prestasie of byderwetsheid is. Ons oordeel so maklik en bepaal sommer self die maatstaf van sukses of aanvaarding – nie net van ons eie krose nie, maar ook van hul tydgenote.

Ons ontneem ons kinders van hul unieke menswees en die ontwikkeling van ’n spontane, opregte menswees sonder voorgee.

Geen wonder Jesus het gesê nie: “Laat die kindertjies na my toe kom.”Hy het hul opregtheid raakgesien. Die onvoorwaardelike aanvaarding van hulself en ander.

Ons moet ons kinders lei om gelukkig in hul velle te wees. Ongeag. Ons moet hulle help om jubelend te lewe. En wanneer hulle dalk self later deur die lewe ontnugter word, is dit ons plig om hulle spesiaal te laat voel. Hulle moet altyd weet hulle is gelief en uniek en wonderbaar geskape.

Skepper-Here

Baie dankie vir elke mensekind wat U geskep het. Ek bid dat ons as ouers en volwassenes nie struikelblokke op hul pad na selfaanvaarding en selfverwesenliking sal wees nie. Help ons om hulle onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar – net soos U hulle in U wysheid geskape het. Amen

2018-04-29T21:35:49+00:00