Ons beleef tye wat mens beswaarlik anders kan verstaan as waarvan Yeshua in Matteus 24 en 25 praat. Sirië kook eindeloos oor, Netanyahu en Putin knor venynig in mekaar se rigting. Iran en Turkye maak gevaarlike geluide oor Trump se welgevalle met Israel. Op elke internasionale TV-kanaal wissel terreuraanvalle, gewelddadige protes die wêreld oor, en eindelose vlugtelingbote wat in die see omslaan, mekaar af.

Mense sê dit was maar van alle tye so. Maar as ons versigtig luister wat Yeshua daaroor sê? “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld, wanneer sy takke begin sag word, weet julle die somer is naby. So moet julle ook as julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.”

Die vyeboom is simbool van Israel. Presies soos God se profete van oud herhaaldelik voorspel het is Israel terug in die land wat Hy hulle met ’n eed belowe het. Dae gelede was die piepklein landjie, vasgevang tussen 400 miljoen vyandige Arabiere, 70 jaar oud. Dis die leeftyd van ’n geslag …

Vroegmôre sit ek voor die Ewige en ek vra ietwat wanhopig en swak van geloof: “Bly daar nog iets moois in die midde van soveel geweld en ellende oor om oor bly te wees?”

Sonderling soos ons Vader is, antwoord Hy my dieselfde dag nog op sonderlinge maniere. Oor die bed waar ek met die Siamese, wat soos ’n trekker spin op my skoot sit, kom die serieuse Gemmer, Simcha, versigtig aangeloop. Hy bekyk my aandadig. Toe doen hy wat hy nooit doen nie. Hy vryf sy kop teen my wang en krul hom toe teen my op. Ek hoor hom nie, maar ek voel hom behaaglik spin. En dis soos een wat sê: “Voel maar ,ek lief jou.”

Teen die laatmiddag reël Magriet Stemmet vir ons een van haar altyd uitsonderlike musiek-okkasies. Bongani Khubeka, bariton, begelei deur Albie van Schalkwyk op die klavier.

Van die oomblik wat Bongani se ongelooflike stem die ruimte vul, raak ek van die Here se teenwoordigheid bewus. Die heerlikheid vang my vas. Ek sien Albie se hande vlindersnel oor die klawers vlieg. So gemaklik gaan die mooi jong man met die Godgegewe talent om dat ons almal ’n droomwêreld invaar.

Na afloop gaan ek gou by The Villa inloer waar ’n geliefde met demensie versorg word. Dis stiller as gewoonlik toe ek myself binnelaat. In die deur na die woonvertrek gaan ek verwonderd staan. ’n Groepie van die nagpersoneel staan styf ingehaak in ’n kringetjie. Hulle bid. Ek hoor hoe die pasiënte se name een na die ander genoem word. Hierdie mense werk twaalf ure elke dag onder moeilike omstandighede. Hulle begin 05:45 elke oggend tot 18:00 saans en dan die nagpersoneel 12 ure deur die nag. Apartheidserfenis maak dat hulle oor lang afstande van onbetroubare vervoer afhanklik is.

Hoe ironies! Versorg hulle nie ’n geslag wat hulle onderdruk het nie? Hulle met die ongelooflike geduld en liefde. Dikwels sien ek aan die einde van ’n dag wat vir die meeste vieruur vanoggend al begin het dat hulle moeg is. Maar altyd lag hulle, sing hulle, is niks te veel gevra nie. Ek voel trane in my oë kom.

Mavis, die persoonlike versorger vir die nag, kom haar arms om my slaan. “Hy slaap al te lekker al, Mevrou. Fundiswa het vir my gesê toe ek gekom het, Pappa het ’n goeie dag gehad.”

“Iets moois?” vra die stem my toe ek die koue nag instap. “En het dit jou bly gemaak?”

“O Here, HERE,” is my enigste versugting.

2018-04-30T20:05:39+00:00