Leesgoed vir kleingoed

Kweek van jongs af ‘n liefde by jou kinders vir die Woord. Hier is van die jongste lekkerleesboeke vir kleuters en jong kinders …

Max Lucado Kinderboek-omnibus

Hierdie omnibus bestaan uit drie boekies met die immergewilde Pinkenolsie as hoofkarakter. Dié boekies deel die boodskap dat elke mens vir God spesiaal is, omdat Hy elkeen uniek gemaak het.

Jy is spesiaal

Die Wemmels doen elke dag dieselfde ding: hulle plak óf goue sterre óf grys kolle op mekaar. Dié wat mooi en talentvol is, kry altyd goue sterre. Dié wat egter min kan doen of stukkende hout het, kry lelike kolle. Kinders sal mal wees daaroor om te sien hoe Eli vir Pinkenolsie oortuig dat hy baie spesiaal is, net soos hy is! So sal hulle besef dat hulle self ook kosbaar is vir God.

Jy is myne

Die behoefte om “belangrik” te wees veroorsaak al weer chaos in Wemmeldorp. Pinkenolsie is natuurlik weer reg in die middel hiervan. Volg sy avontuur terwyl hy ’n les leer wat kinders altyd moet onthou: dis nie wat jy het wat jou kosbaar maak nie, maar die feit dat jy aan God behoort.

Die heel beste

Wanneer Alta Wonderlik in Wemmeldorp aankom, wil almal deel van haar klub wees. Pinkenolsie mag nie deel wees nie, want hy is van die verkeerde hout gemaak. Eli, die houtsnyer, wys vir Pinkenolsie dat hy baie spesiaal is omdat Eli hom gemaak het. Kinders sal besef hulle hoef nie soos iemand gewild te wees om spesiaal te wees nie. God het elkeen van ons met ’n doel gemaak soos ons is.

Die omnibus is ’n wonderlike geskenk wat kinders sal koester selfs wanneer hulle al groot is. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/max-lucado-kinderboek-omnibus-sagteband-1.

Lig-en-loer Bybelstories

Ontdek allerhande verassings in hierdie prettige kartonboekie met lig-en-loer-deurtjies vir klein handjies en nuuskierige agies. Dit is die ideale manier om kleintjies aan die tydlose stories van die Ou en Nuwe Testament bekend te stel. Met 32 lig-en-loer-deurtjies om oop te maak, hou hierdie interaktiewe boek kinders vir ure besig, terwyl hulle meer leer oor 13 van die gewildste Bybelstories. Elke storie het ’n Skrifverwysing by wat help om die storie maklik te kan naslaan. Lig-en-loer-Bybelstories is ’n prettige, interaktiewe boek met kleurvolle illustrasies deur die bekende kinderboek illustreerder Gill Guile. Vir kinders tussen 3 en 6 jaar. Hierdie boekie is ook in Engels beskikbaar. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/lig-en-loer-bybelstories-kartonboekie.

Die Aksie-Bybel Raai-raai-speletjie

As kinders van Die Aksie-Bybel gehou het, sal hulle mal wees oor Die Aksie-Bybel: Raai-raai-speletjie. Dit was nog nooit so lekker of maklik om die Bybel te leer ken nie. Hierdie prettige speletjie bied:

  • 99 kaartjies met 20 leidrade elk oor ’n persoon, plek of voorwerp in die Bybel, asook Skrifverwysings om verdere Bybellees aan te moedig
  • ’n Vinnige verwysing na waar die storie in Die Aksie-Bybelgevind kan word
  • ’n Instruksiekaartjie met aanwysings vir 3 maniere waarop die speletjie gespeel kan word

Die kaartjies is geïllustreer deur Sergio Cariello, wat ook Die Aksie-Bybelgeïllustreer het. Hierdie speletjie is ideaal om in die motor te speel op die langpad of  tydens ’n speletjiesaand tuis en sal kinders se kennis van die Bybel op ’n prettige en interaktiewe manier verbreed. Bestel joune by https://www.cumbooks.co.za/die-aksie-bybel-raai-raai-speletjie-vir-die-hele-gesin.

365 Days to knowing God For Girls

Hierdie boekie deur Carolyn Larson help dogters om elke dag nader aan God te beweeg en Hom beter leer ken. Deur die uitvoer van eenvoudige opdragte, word kinders aangemoedig om gehoorsaam te wees, elke dag te bid en te deel met maats. God word al hoe meer werklik vir hulle omdat hulle so elke dag op die pad loop wat Hy vir hulle beplan het. Elke dagstukkie word afgesluit met ’n uitdaging om iets spesifiek te doen en iets om elke dag oor verder na te dink. Hierdie boek is slegs in Engels beskikbaar. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/365-days-to-knowing-god-for-girls-softcover.

2018-05-03T08:09:38+00:00