Lééf mooi

Ken jou vel

Deur Christine Ferreira | Foto Sisley

Jou vel se behoeftes, hetsy droogheid of die verlies aan elastisiteit, bepaal die soort skoonheidsmiddels wat jy behoort te gebruik om sodoende die gewenste resultate te verkry.

Jou vel as grootste lewendige orgaan van die liggaam se behoeftes verander met tyd en word beïnvloed deur onder meer hormone, stres en weersomstandighede. Dit is noodsaaklik om die vel se behoeftes te ken vóór jy onnodig geld spandeer aan skoonheidspodukte wat dalk moontlik nie die gewenste uitwerking op die voorkoms van jou vel sal hê.

Die skoonheidshuis, Sisley, het pas ’n toetsapparaat, die Aram HUVIS, bekend gestel wat die vel akkuraat ontleed en jou so help om die regte keuses te maak as dit kom by jou produkaankope.

Dié apparaat ontleed sensitiwiteit/gebarste aartjies, melanienvlakke, aknee, die voorkoms van porieë, vogvlakke/elastisiteit en plooie. Die maatstaf vir elk van hierdie toetse word bepaal deur internasionale standaarde en word daar sorgvuldig na die vel op ’n diep vlak gekyk.

’n Ontwaterde en droë vel is minder soepel en elasties as ’n vogtige vel en word plooie en lyntjies dus makliker by hierdie tipe vel gevorm.

Is my vel sensitief?

Sensitiwiteit manifesteer dikwels as fyn gebarste aartjies wat na aan die oppervlakte van die vel voorkom. Irritasie, inflammasie en herhaalde sonblootstelling veroorsaak dat die aartjies bars en die vel rooi vertoon. Deur die regte produkte te gebruik kan jy die vel se beskermingslagie versterk en sensitiwiteit verminder. Dit is nodig om jou vel deeglik te bevogtig, op te hou rook en minder alkohol te gebruik. Produkte wat die vel kalmeer en streel is aan te bevele.

Is my vel soepel en elasties?

’n Soepel vel is ’n vel waarvan die vogvlakke binne die vel hoog genoeg is. Daar is minder fyn lyne en plooitjies by ’n vel wat deeglik bevog is. ’n Ontwaterde vel is ’n dors vel. Dié tipe vel het water nodig. Die hoeveelheid water in die selletjies word verhoog deur ’n vogroom wat genoeg water (nie noodwendig olie nie) aan die vel voorsien. Jy kan ook jou vel se vogvlakke verbeter deur elke dag genoegsaam water te drink. ’n Ontwaterde en droë vel is minder soepel en elasties as ’n vogtige vel en word plooie en lyntjies dus makliker by hierdie tipe vel gevorm.

Ek sukkel met aknee …

Aknee is ’n velkondisie wat voorkom as gevolg van die oormatige produksie van sebum deur die vel se oliekliertjies. Aknee kom voor as die haarfollikels op die vel geblokkeer word deur dooie selletjies, olie, en bakterieë. Die regte produkte is noodsaaklik. Kies produkte wat die vel diep reinig en terselfdertyd sagkens werk. ’n Ligte nie-komodogeniese vogroom en produkte wat die vel suiwer is ’n moet.

Wat van melanien?

Melanien bepaal die kleur van jou vel en hare. Dit word onder meer deur die vel vervaardig om dit teen die skadelike strale van die son te beskerm. As daar ’n oormatige konsentrasie van melanien op plekke in die vel is, word pigmentasie vlekke gevorm. Dit is noodsaaklik om jou vel deeglik teen die son te beskerm met ’n sonroom met ’n hoë sonbeskermingsfaktor. Kies ’n produk wat teen UVA en UVB-strale beskerm.

Hoe lyk my porieë?

Porieë help om olies en toksiene uit die vel te verwyder. Die grootte van jou porieë word hoofsaaklik bepaal deur gene, maar die gehalte van jou velsorgroetine kan ’n deurslaggewende rol speel in die voorkoms daarvan. Porieë word verder vergroot deur sonblootstelling, ’n gebrek aan elastisiteit en veroudering. Kies ’n produk wat help om die porieë te suiwer en te verklein.

 Plooie en lyntjies

Die voorkoms van plooie en lyntjies is deel van die verouderingsproses. Daar is talle faktore wat egter die tempo waarteen jou vel verouder bepaal: jou leefstyl, dieet, gene en persoonlike gewoontes speel alles ’n rol. Soos ons ouer word verdun die vel en verminder die elastisiteit daarvan. Goeie velsorgmiddels beskerm die vel met die hulp van anti-oksidante teen vrye radikale wat vir die aftakeling van die vel verantwoordelik is.

  • Besoek ’n Sisley-toonbank in jou omgewing om jou vel deur ’n opgeleide skoonheidskonsultant te laat ontleed. Vir meer inligting, besoek sisley.co.za
2018-05-01T08:20:05+00:00